hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nuwe klippe met die Wet op

1. “Op daardie tydstip het die Here vir my gesê: ‘Kap twee plat klippe net soos die eerstes. Maak ook ’n houer van hout waarin dit gebêre kan word. Kom dan op na My toe op die berg.

2. Ek sal op die klippe dieselfde woorde skryf wat op die kliptafels was wat jy stukkend gegooi het. Sit dan die klippe in die houtkis.’

3. “Ek het toe ’n houtkis van akasiahout gemaak en ook twee plat klippe gekap, net soos die eerstes. Met die twee plat klippe het ek toe teen die berg opgeklim.

4. Die Here het weer die bepalings van die verbond, die Tien Gebooie, daarop geskryf en dit vir my gegee. Dit was dieselfde woorde wat die Here op die berg vanuit die vuur vir julle gesê het toe julle onder die berg vergader het.

5. Ek het toe van die berg afgekom en die klippe in die ark van die verbond wat ek gemaak het, gesit, net soos die Here my beveel het. Die klippe is nog steeds daar in die houer.”

die verbondsklippe in

Die Leviete dra die houer met

6. “Die volk Israel het weggetrek van die putte van Bene-Jaäkan af na Moserot toe. Aäron is daar dood en ook daar begrawe. Sy seun Eleasar het in sy plek priester geword.

7. Van daar het hulle na Gor-Gidgad weggetrek en van daar na Jotbata toe. Dit is ’n waterryke land.

8. Dit was in dié tyd dat die Here die stam van Levi afgesonder het om die ark van die Here se verbond te dra, om in die teenwoordigheid van die Here diens te doen en om in sy Naam seën uit te spreek soos wat dit vandag nog hulle taak is.

9. Dit is waarom daar vir die Leviete geen erfdeel of aandeel in die land was saam met die ander stamme van Israel nie. Die Here is hulle erfdeel soos wat die Here jou God hulle beloof het.

10. “Soos die eerste keer was ek 40 dae en nagte op die berg. Die Here het weereens na my geluister en julle nie vernietig nie.

11. Die Here het vir my gesê: ‘Staan op en gaan lei die volk na die land wat Ek aan hulle voorouers beloof het.’”

Wat die Here van julle verwag

12. “En nou, Israel, wat verwag die Here jou God van jou? Hy vra van jou om Hom te eerbiedig, om volgens sy wil te lewe, om Hom lief te hê en Hom met hart en siel te dien.

13. “Gehoorsaam die bevele en gebooie van die Here wat ek jou vandag gee, dit is net tot jou beswil.

14. Die hoogste hemel en die aarde met alles daarop behoort aan die Here.

15. Tog het die Here jou voorouers liefgehad en julle, hulle nageslag, gekies, bo al die ander nasies. Dit is vandag nog so.

16. “Daarom, verander julle afvallige gesindheid en hou op om so hardkoppig te wees.

17. “Die Here jou God is die God van die gode en die Here van die here. Hy is die groot God, magtig en ontsagwekkend. Hy is nie partydig nie en aanvaar ook nie omkoopgeld nie.

18. Hy sorg vir die reg van die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdelinge lief en gee vir hulle kos en klere.

19. Jy moet ook omgee vir die vreemdelinge, want jy was immers self ook ’n vreemdeling in Egipte.

20. “Eerbiedig die Here jou God, dien Hom en volg Hom. Wanneer jy sweer, mag dit net in sy Naam wees.

21. Hy is jou God, die Een aan wie jou lof toekom. Hy is die Een wat magtige wonderdade voor jou oë gedoen het.

22. Toe jou voorouers afgetrek het na Egipte toe, was daar net 70 van hulle. Nou het die Here jou God jou so baie soos die sterre aan die hemel gemaak!”