hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 4 Die Boodskap (DB)

1. Samuel was ’n profeet vir die hele Israel.Die Israeliete het uitgetrek om teen die Filistyne te gaan veg. Hulle kamp was by Eben-Haeser en die Filistyne s’n by Afek.

Die dood van Hofni en Pinehas

2. Die Filistyne het hulle manskappe reggekry vir die geveg teen die Israeliete. Toe die geveg ’n ruk aan die gang was, het die Israeliete begin verloor. Daar is omtrent 4 000 van die Israeliete in die geveg in die oop veld dood.

3. Toe die volk by die kamp terugkom, het die leiers van Israel gesê: “Hoekom het die Here ons vandag só ver teen die Filistyne laat verloor? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here in Silo. As Hy by ons is, sal Hy ons teen ons vyande help.”

4. Die volk het toe die verbondsark van die magtige Here wat op die gerubs sit, in Silo laat haal. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het saam met die ark van God gekom.

5. Toe die ark van die Here in die kamp kom, het al die Israeliete geskreeu dat die aarde bewe.

6. Die Filistyne het die harde geskree gehoor en gevra: “Watse vreeslike geskree is dit daar in die Hebreërs se kamp?” Toe hulle hoor dat die ark van die Here in die kamp aangekom het,

7. het hulle bang geword en vir mekaar gesê: “Hulle God het in die kamp aangekom! Ons is in die moeilikheid! So iets het nog nooit gebeur nie!

8. Ons is in die moeilikheid! Wie sal ons help teen hierdie magtige God? Dis dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn so laat swaarkry het met al die plae.

9. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!”

10. Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood.

11. Die ark van God het in die slag gebly en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, is ook dood.

Die dood van Eli

12. ’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop.

13. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het.

14. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het.

15. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind.

16. Die man sê toe vir hom: “Ek kom nou net van die oorlog af. Ek het vandag daar weggehardloop.”Daarop vra Eli vir hom: “Wat het gebeur, my kind?”

17. “Die Israeliete het vir die Filistyne gevlug,” sê die boodskapper. “Daar is baie van ons mense dood; u twee seuns Hofni en Pinehas ook, en die Filistyne het die ark van God gevat.”

18. Toe hy sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die dorp se ingang reg agteroor van die stoel afgeval. Hy het sy nek gebreek en is dood, want hy was oud en swaar.Eli het Israel 40 jaar lank gelei.

19. Eli se skoondogter, Pinehas se vrou, het ’n baba verwag en die tyd van die geboorte was naby. Toe sy hoor dat die Filistyne die ark van God gevat het, en dat haar skoonpa en haar man dood is, het die geboortepyne skielik begin. Sy het haar knieë opgetrek en gekraam.

20. Die vroue wat haar gehelp het, het gesê: “Moenie moed verloor nie; jy het ’n seuntjie!” Maar sy was besig om dood te gaan; sy het nie geantwoord of met die vroue gepraat nie.

21. Net voor sy dood is, het sy die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Israel se eer is weg.” Sy het bedoel die ark van God wat weg was en die dood van haar skoonpa en haar man.

22. Sy het weer gesê: “Israel se eer is weg, want die ark van God is weggevat.”