hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 11 Die Boodskap (DB)

Saul red die mense van Jabes

1. Nagas het uit Ammon opgetrek en die dorp Jabes in Gilead beleër. Die mense van Jabes sê toe vir Nagas: “Ons wil graag ’n ooreenkoms met u aangaan. Ons is bereid om u onderdane te wees.”

2. Nagas, die Ammoniet, se antwoord was: “Ja, maar op voorwaarde dat ek elkeen van julle se regteroog uitsteek en die hele Israel so verneder.”

3. “Gee ons sewe dae kans,” het die leiers van Jabes hom laat weet. “Ons sal boodskappers deur die hele Israel stuur. As niemand kans sien om ons te help nie, sal ons oorgee.”

4. Toe die boodskappers met dié slegte nuus in Gibea aankom, waar Saul woon, en dit vir die mense vertel, het hulle hardop begin huil.

5. Saul was juis agter ’n span osse op pad huis toe van die land af. “Wat is dit met die mense dat hulle so huil?” vra hy. Hulle vertel hom wat die manne van Jabes gesê het.

6. Toe hy dít hoor, werk die Gees van God in hom en hy word baie kwaad.

7. Hy vat twee osse, kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele Israel met die boodskap: “Die een wat nie saam met Saul en Samuel gaan veg nie, se osse sal só stukkend gekap word.” Die mense was so bang, hulle het voor die voet kom sê hulle sal help.

8. Saul het die manskappe by Besek getel: daar was 300 afdelings Israeliete en 30 afdelings Judeërs.

9. Vir die boodskappers van Jabes is daar gesê: “Sê vir die mense van Jabes in Gilead: ‘Môre as die son op sy warmste is, kom daar hulp.’” Toe dié boodskap by hulle uitkom, was die mense van Jabes baie bly.

10. Maar vir Nagas het hulle laat weet: “Môre gee ons oor, dan kan julle met ons maak wat julle wil.”

11. Baie vroeg die volgende môre, met die laaste wagbeurt van die nag, het Saul uit drie rigtings die kamp aangeval. Hulle het die Ammoniete afgemaai tot die middag toe. Dié wat dit oorleef het, was só uitmekaargejaag dat nie twee van hulle bymekaar was nie.

12. Die volk sê toe vir Samuel: “Wie het gesê: Moet Saul van alle mense ons koning wees? Bring daardie mans hier dat ons hulle kan doodmaak.”

13. Maar Saul sê: “Niemand word vandag doodgemaak nie, want op hierdie dag het die Here Israel vrygemaak.”

14. Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan Gilgal toe, dan erken ons ons nuwe koning.”

15. Almal het Gilgal toe gegaan en daar voor die altaar in Gilgal gesê dat Saul koning is. Hulle het offers geslag en by die altaar geëet. Saul en al die Israeliete het daar ’n groot fees gehou.