hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28 Die Boodskap (DB)

1. Toe die Filistyne in dié tyd hulle manskappe reggekry het om teen Israel oorlog te maak, het Akis vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my sal moet gaan oorlog maak.”

2. “Maar natuurlik,” het Dawid geantwoord. “U Majesteit sal self sien wat ek kan doen.”“Goed so,” het Akis gesê. “Dan is jy, so lank as wat die oorlog aanhou, my persoonlike lyfwag.”

Saul soek hulp by iemand wat geeste oproep

3. Samuel was dood en die mense het klaar oor hom getreur en hom in sy tuisdorp, Rama, begrawe. Intussen het Saul al die mense wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land verban.

4. Die Filistyne het bymekaargekom en by Sunem kamp opgeslaan. Saul het al die Israeliete op die Gilboaberg laat saamtrek.

5. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy baie benoud geraak.

6. Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Hy kon nie deur drome of deur die heilige klippies of by profete ’n antwoord van die Here kry nie.

7. Hy sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my ’n vrou wat geeste kan oproep. Ek wil na haar toe gaan en vir haar raad vra.”Sy amptenare sê toe vir hom: “Daar is ’n vrou in Endor wat geeste oproep.”

8. Saul het homself vermom en gewone klere aangetrek. Hy en twee van sy werkers het in die nag na die vrou toe gegaan. Daar aangekom, sê hy vir haar: “Jy moet asseblief vir my iemand se gees oproep. Ek sal vir jou sê wie s’n.”

9. Die vrou sê vir hom: “Maar jy weet mos wat Saul gedoen het: hy het dié wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land uitgeroei. Wil jy my laat doodmaak deur my in ’n lokval te lei?”

10. Saul het vir haar voor die Here gesweer en gesê: “So waar as die Here leef, jy sal niks oorkom nie.”

11. Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou oproep?”Hy antwoord: “Roep Samuel vir my op.”

12. Toe die vrou Samuel sien, het sy hard gegil. Sy het vir Saul gesê: “Hoekom het u my om die bos gelei? U is Saul!”

13. “Moenie bang wees nie,” sê koning Saul vir haar, “sê vir my wat jy sien.”Die vrou antwoord hom: “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom!”

14. “Hoe lyk hy?” vra Saul. Sy antwoord: “Dis ’n ou man met ’n profetemantel aan.”Toe weet Saul dis Samuel. Hy het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig.

15. Samuel vra toe vir Saul: “Hoekom pla jy my? Hoekom laat jy my oproep?”Saul antwoord hom: “Ek is baie diep in die moeilikheid: die Filistyne maak oorlog teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete of drome nie. Ek het jou laat oproep om te hoor wat ek moet doen.”

16. Samuel sê vir hom: “Maar hoekom kom vra jy mý as die Here die rug vir jou gedraai en jou vyand geword het?

17. Die Here doen maar net wat ek vir jou gesê het Hy gaan doen: Hy het jou koningskap van jou afgeskeur en dit aan iemand anders, aan Dawid, gegee.

18. Die Here doen dit aan jou omdat jy nie na Hom wou luister nie. Hy was kwaad vir die Amalekiete en jy moes hulle uitgeroei het.

19. Die Here gaan die Israeliete saam met jou aan die Filistyne oorgee. Môre sal jy en jou seuns by my in die onderwêreld wees. Ja, die Here gaan die leër van Israel teen die Filistyne laat verloor.”

20. Toe Saul hoor wat Samuel sê, het hy só geskrik dat hy net daar, so groot as wat hy is, op die grond neergeslaan het. Hy het in elk geval nie meer krag in sy lyf gehad nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Die vrou het nader gekom en gesien hoe Saul op die grond lê en ruk. Sy sê toe vir hom: “My koning, ek het na u geluister; ek het my lewe gewaag en gedoen wat u vir my gesê het.

22. Nou moet u asseblief ook na mý luister: laat ek vir my koning ’n stukkie brood bring dat u weer krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

23. Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!”Die twee werkers wat saam met hom was en die vrou het só by hom aangehou dat hy naderhand na hulle geluister en van die grond af opgestaan het. Hy het op die bed gaan sit.

24. Die vrou het ’n kalf in die stal by die huis gehad. Sy het die kalf so gou as wat sy kon, geslag. Sy het meel gevat, deeg aangemaak en platbrood gebak.

25. Sy het die kos vir Saul en sy werkers voorgesit. Hulle het geëet, daarna opgestaan en dieselfde nag weer weggegaan.