hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 18 Die Boodskap (DB)

Saul wantrou Dawid

1-2. Van daardie dag af het Saul vir Dawid by hom gehou. Hy het hom nie weer na sy pa se huis toe laat gaan nie. Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan sommer baie van hom begin hou. Hy het net soveel vir Dawid omgegee as vir homself.

3. Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee.

4. Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee.

5. Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor.

6. Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel.

7. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.”

8. Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!”

9. Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie.

10. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad.

11. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies.

12. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie.

13. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei.

14. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp.

15. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom.

16. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het.

Dawid trou met Saul se dogter

17. Saul het vir Dawid gesê: “Ek wil hê jy moet met my oudste dogter, Merab, trou. Die voorwaarde is net dat jy vir my ’n dapper soldaat moet wees en in die oorloë van die Here moet veg.” Saul het gedink: “Ék hoef dan nie vir Dawid dood te maak nie; die Filistyne sal dit doen.”

18. Maar Dawid se antwoord was: “Ek en my familie is regtig te onbelangrik dat ek die koning se skoonseun kan word.”

19. Toe die tyd kom dat Merab, die dogter van Saul, met Dawid moet trou, het Saul haar laat trou met Adriël wat in Megola gebly het.

20. Intussen het Mikal, Saul se ander dogter, op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, het dit hom goed te pas gekom,

21. want hy het gedink: “Ek sal haar met hom laat trou, dan trap hy op dié manier in die slagyster en raak die Filistyne van hom ontslae.” Daarom het hy vir Dawid gesê: “Jy kry nou nog ’n kans om my skoonseun te word.”

22. Saul het vir sy amptenare gesê: “Sê vir Dawid in die geheim: ‘Weet jy, die koning is erg oor jou, en al sy amptenare hou van jou. Jy moet daaraan dink om die koning se skoonseun te word.’”

23. Toe Saul se amptenare dit vir Dawid in die oor fluister, het Dawid gesê: “Dink julle ’n mens kan so maklik die koning se skoonseun word? Ek het nie geld nie en ek is ’n onbelangrike man.”

24. Saul se amptenare het vir hom gaan vertel wat Dawid gesê het.

25. Saul sê toe: “Gaan sê vir Dawid, die koning wil wraak neem op sy vyande; daarom is die enigste betaling vir die bruid wat hy wil hê, die voorhuide van 100 Filistyne.” Saul het gehoop die Filistyne maak Dawid dood.

26. Toe die amptenare vir Dawid sê wat die voorwaarde is, het hy besluit om die koning se skoonseun te word. Hy het dadelik aan die werk gespring,

27. alles reggekry, saam met sy manne uitgegaan en 200 Filistyne doodgeslaan. Dawid het al hulle voorhuide gebring en dit vir die koning gegee sodat hy sy skoonseun kon word. Saul het Mikal toe met hom laat trou.

28. Saul het self gesien en geweet dat die Here vir Dawid help en dat sy dogter Dawid liefhet.

29. Daarom was hy nóg banger vir Dawid, en solank hy geleef het, was hy Dawid se vyand.

30. Die Filistyne het baie keer teen die Israeliete oorlog gemaak, maar elke keer het Dawid beter gevaar as Saul se offisiere. So het Dawid beroemd geword.