hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 12 Die Boodskap (DB)

Samuel neem afskeid

1. Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Ek het alles wat julle gevra het, gedoen en ’n koning oor julle aangestel.

2. Nou kan die koning julle lei. Ek is ’n ou man en ek is grys; ja, my kinders is so oud soos julle. Ek self het julle gelei van my jong dae af tot vandag toe.

3. Hier staan ek voor julle. Julle kan my nou by die Here en by sy gesalfde koning aankla as ek iets verkeerds gedoen het. Het ek ooit iemand se goed gevat of iemand mishandel? Het ek ooit omkoopgeld gevat en onreg toegelaat? As ek dit ooit gedoen het, sal ek daarvoor betaal.”

4. “Nee,” antwoord hulle, “u het niemand gedwing om vir u iets te gee of iemand mishandel nie. U het by niemand iets gevat nie.”

5. Samuel sê vir hulle: “Die Here is vandag getuie en sy gesalfde koning is ook getuie dat julle gesê het ek het niks onwettigs gedoen nie.” Hulle stem toe saam: “Die Here is getuie.”

6. Daarna sê Samuel vir die volk: “Julle weet dit is die Here wat Moses en Aäron gegee het en julle voorouers uit Egipte laat trek het, nè? Wel, kom staan dan hier in die beskuldigdebank!

7. Ek gaan nou téén julle vir die Here getuig, deur al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorouers gedoen het, op te noem.

8. Nadat Jakob Egipte toe getrek het, het julle voorouers na die Here geroep en gevra Hy moet hulle help. Hy het Moses en Aäron gestuur. Hulle het julle voorouers uit Egipte gelei en vir hulle hier ’n blyplek gegee.

9. “Maar hulle het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die generaal van die dorp Hasor. Die Here het hulle ook in die mag van die Filistyne en die koning van Moab oorgegee. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gemaak het,

10. het hulle na die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die rug vir U, Here, gedraai en die Baälgode en Astarte-godinne gedien. Red ons asseblief nou uit die mag van ons vyande. Ons sal U dien.’

11. “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon.

12. Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is!

13. Wel, nou hét julle die koning wat julle wou gehad het! Julle het vir ’n koning gevra, en die Here hét vir julle ’n koning gegee!

14. “As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees.

15. Maar as julle nie na Hom luister nie en teen sy bevele in opstand is, sal die Here julle laat swaarkry soos Hy met julle voorouers gemaak het.

16. “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen:

17. dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.”

18. Toe Samuel na die Here roep, het die Here daardie dag ’n donderstorm laat losbreek. Al die mense het groot respek gehad vir die Here en vir Samuel.

19. Almal sê toe vir Samuel: “Pleit asseblief vir ons by die Here u God dat ons nie sterf nie; want by alles wat ons verkeerd gedoen het, het ons nog die verskriklike ding gedoen om ’n koning te vra.”

20. Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel.

21. Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks.

22. “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees.

23. Wat my betref: daar bestaan nie ’n moontlikheid dat ek sal ophou om vir julle by die Here te pleit nie. As ek dit sou doen, sondig ek teen Hom. Ek sal ook nie ophou om vir julle die goeie, reguit pad te wys nie.

24. Onthou, julle moet respek hê vir die Here. Julle het self gesien watter groot dinge Hy vir julle gedoen het. Daarom moet julle Hom getrou en met oorgawe dien.

25. Maar as julle aanhou verkeerde dinge doen, is dit klaarpraat met julle én julle koning.”