hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Judas pleeg selfmoord

1. Baie vroeg daardie oggend het al die priesterhoofde en die familiehoofde saam teen Jesus beraadslaag oor hoe hulle moes optree om sy dood te bewerk.

2. Hulle het Hom toe in boeie weggeneem en aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, oorhandig.

3. Toe Judas, sy verraaier, besef dat Jesus ter dood veroordeel is, het hy bitter spyt gekry en die 30 silwer geldstukke na die priesterhoofde en die familiehoofde teruggevat

4. met die woorde: “Ek het verkeerd gedoen. Ek het ’n onskuldige man uitgelewer!” Hulle het geantwoord: “Dit raak ons nie. Dis jou probleem.”

5. Judas gooi toe die geld op die tempelvloer neer, draai om en gaan hang homself op.

6. Die hoofpriesters het die geld toe geneem en gesê: “Ons mag dit nie in die tempelskatkis gooi nie, want die bloed van ’n mens kleef aan hierdie geld.”

7. Na ’n samespreking het hulle besluit om die stuk grond van die pottebakker daarmee te koop en dit te gebruik as ’n begraafplaas vir vreemdelinge.

8. Dit is waarom daardie stuk grond nog steeds Bloedgrond genoem word.

9. Daarmee het die woord van die profeet Jeremia in vervulling gegaan: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem – die prys waarteen hy deur die volk Israel gewaardeer is –

10. en die pottebakker se grond daarmee gekoop, soos die Here my beveel het.”

Jesus deur Pilatus verhoor

11. Jesus het voor Pilatus, die Romeinse goewerneur, verskyn. Die goewerneur het Hom gevra: “Is jy die Koning van die Jode?” Jesus antwoord: “Dit is soos u sê.”

12. Maar terwyl die priesterhoofde en die familiehoofde beskuldigings teen Hom inbring, het Hy niks geantwoord nie.

13. “Hoor jy dan nie al die ernstige aanklagte teen jou nie?” het Pilatus Hom gevra.

14. Maar tot die goewerneur se uiterste verbasing het Hy Hom op geen enkele punt verweer nie.

15. Dit was gebruiklik dat die goewerneur tydens elke Paasfees een gevangene vir die skare vrylaat. Hulle kon self kies wie dit moes wees.

16. Juis in hierdie tyd was daar ’n berugte gevangene met die naam Jesus Barabbas.

17. Terwyl die skare gevaarlik begin saamdrom, vra Pilatus hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: Jesus Barabbas of Jesus, die sogenaamde Messias?”

18. Hy het goed besef dat die Joodse leiers Jesus uit naywer aan hom uitgelewer het.

19. Terwyl Pilatus daar op die regbank sit, laat sy vrou hom weet: “Los daardie onskuldige man uit. Ek het laas nag ’n aaklige nagmerrie oor hom gehad.”

20. Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die skare oorreed om te vra dat Barabbas vrygelaat moet word en dat Jesus die doodstraf kry.

21. Toe die goewerneur dus weer vir hulle vra: “Wie van hierdie twee moet ek vir julle vrylaat?” het hulle geskree: “Barabbas!”

22. “Maar as ek Barabbas vir julle vrylaat,” het Pilatus hulle gevra, “wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?” Hulle roep almal: “Hy moet gekruisig word!”

23. “Hoekom?” vra Pilatus. “Watter misdaad het hy dan begaan?” Maar hulle het al hoe harder begin skree: “Hy moet gekruisig word!”

24. Pilatus het gemerk dat dit hopeloos was, en dat daar ’n oproer aan die kom was. Gevolglik het hy ’n skottel water laat kom en sy hande ten aanskoue van die skare gewas met die woorde: “Ek is onskuldig aan die dood van hierdie man. Dit is op julle rekening.”

25. Die hele volk het teruggeskree: “Ons neem verantwoordelikheid vir sy dood – ons en ons nageslag.”

26. Toe het hy Barabbas vir hulle vrygelaat, maar hy het Jesus aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.

Die soldate gésel en bespot Jesus

27. Die goewerneur se soldate het Jesus toe na hulle hoofkwartier geneem en die hele regiment teen Hom bymekaargemaak.

28. Hulle stroop Hom toe van sy klere en hang vir Hom ’n pers mantel om.

29. Hulle het ook ’n krans van dorings gevleg en dit op sy kop gesit, en ’n rietsepter in sy regterhand. Toe maak hulle kniebuigings voor Hom en roep spottend: “Ons groet u, o Koning van die Jode!”

30. Boonop het hulle Hom bespoeg en die riet by Hom gegryp en Hom daarmee teen die kop geslaan.

31. Toe hulle moeg geword het van spot dryf met Hom, het hulle die mantel uitgetrek en vir Hom weer sy eie klere aangetrek. Toe vat hulle Hom weg om Hom te gaan kruisig.

Jesus word gekruisig

32. Op pad kom hulle ’n man met die naam Simon teë. Hy was van Sirene afkomstig. Hulle het hom opgekommandeer om Jesus se kruis te dra.

33. Hulle kom toe by die plek aan wat Golgota genoem word – dit beteken Kopbeenkoppie.

34. Hulle gee toe vir Hom ’n mengsel van wyn en bitter kruie om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35. Nadat hulle Jesus gekruisig het, het die soldate sy klere verdeel deur die gooi van dobbelsteentjies.

36. Hulle het daar rondgesit en Hom bewaak.

37. Hulle het ’n plakkaat, met die rede vir Jesus se kruisiging daarop, bokant sy kop vasgesit. Dit het gelui: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode.”

38. Daarop het hulle saam met Jesus ook twee kriminele gekruisig, een aan elke kant.

39. Die verbygangers het net spottend hulle koppe geskud en Hom toegesnou:

40. “Toe nou, jy kan mos die tempel afbreek en dit weer in drie dae opbou! As jy dan God se Seun is, red jouself en kom van die kruis af!”

41. Die priesterhoofde tesame met die skrifkenners en die familiehoofde het ook gespot en gesê:

42. “Foeitog, hy het ander gered, maar hy kan homself nie red nie. Hy is mos die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons in hom glo!

43. Hy het mos op God staatgemaak – as God so danig lief is vir hom, laat Hy dit nou bewys deur hom te red! Hy het tog self beweer: ‘Ek is God se Seun!’”

44. In hierdie selfde trant het selfs die kriminele wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

Jesus sterf

45. Van twaalfuur af het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur die middag.

46. Teen drie-uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: “Eli, Eli, lemá sabagtani,” wat beteken: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

47. Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep na die profeet Elia.

48. Een van hulle hardloop toe gou, vat ’n spons, maak dit vol suur wyn en steek dit op die punt van ’n riet om Hom te laat drink.

49. Die ander het egter gesê: “Los hom. Kom ons kyk of Elia hom kom red.”

50. Maar Jesus het weer baie hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

51. Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

52. Selfs die grafte het oopgegaan en God het die liggame van baie gelowiges wat reeds dood was, weer lewendig gemaak.

53. Hulle het uit die grafte gegaan, en ná Jesus se opstanding het hulle die heilige stad Jerusalem binnegegaan en aan baie mense verskyn.

54. Die Romeinse offisier oor honderd en die ander soldate wat Jesus bewaak het, het baie beangs geword toe hulle die aardbewing en die ander gebeurtenisse sien, en hulle het gesê: “Hierdie man was werklikwaar die Seun van God!”

55. Baie vroue wat Jesus van Galilea af gevolg en vir Hom gesorg het, het alles op ’n afstand dopgehou.

56. Onder hulle was Maria Magdalena, Maria, die ma van Jakobus en Josef, en die vrou van Sebedeus, die ma van Jakobus en Johannes.

Jesus word in ’n rykmansgraf

begrawe

57. Laat daardie middag het Josef, ’n ryk man van Arimatea, daar opgedaag. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58. Hy het Pilatus genader en gevra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus het toe ’n bevel uitgereik dat dit aan hom oorhandig moes word.

59. Josef het Jesus se liggaam toe in ontvangs geneem en dit in ’n nuwe stuk linne toegedraai.

60. Hy het dit in sy eie, nuwe graf gelê wat hy in die rots laat uitkap het. En nadat hy ’n groot klip voor die ingang gerol het, het hy weggegaan.

61. Intussen het Maria Magdalena en die ander Maria daar reg voor die graf se ingang bly sit.

Jesus se graf word bewaak

62. Die volgende dag – dit was die dag ná die Vrydag – het die priesterhoofde en die Fariseërs met Pilatus gaan praat.

63. Hulle het vir hom gesê: “U Edele, ons onthou hierdie bedrieër het, toe hy nog gelewe het, gesê: ‘Na drie dae sal ek uit die dood opstaan.’

64. Daarom versoek ons u om opdrag te gee dat die graf vir drie dae bewaak word. Dit sal sy dissipels verhinder om sy liggaam te kom steel en vir almal te vertel: ‘God het Hom uit die dood opgewek.’ As dit gebeur, sal dinge nog slegter daaraan toe wees as voorheen.”

65. Pilatus het geantwoord: “Hier is ’n wag vir julle. Gaan beveilig die graf so goed moontlik.”

66. Hulle het toe die graf gaan beveilig deur die klip te verseël en dit deur die wagte te laat oppas.