hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus stuur sy dissipels uit

1. Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep en aan hulle die volmag gegee om onrein geeste uit mense te dryf en elkeen met ’n siekte of kwaal gesond te maak.

2. Hier volg die name van die twaalf apostels:eerstens Simon (ook bekend asPetrus),en Andreas (sy broer),vervolgens Jakobus (die seun van Sebedeus)en Johannes (sy broer),

3. Filippus en Bartolomeus,Tomas en Matteus (die tollenaar),Jakobus (die seun van Alfeus)en Taddeus,

4. Simon (die Yweraar)en Judas Iskariot (wat Jesus sou uitlewer).

Jesus gee opdragte aan sy

dissipels

5. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur met die volgende instruksies: “Moenie afdraai na gebiede waar die nie-Jode woon of in ’n Samaritaanse dorp ingaan nie.

6. Gaan liewer na die verdwaalde skape van die huis van Israel.

7. Gaan kondig aan: ‘God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!’

8. Maak siekes gesond, laat dooies opstaan, reinig dié met ernstige velsiektes, dryf duiwels uit. Julle het hierdie volmag verniet ontvang. Doen daarom julle werk ook verniet.

9. “Moenie enige kontant in julle beursies saamvat nie.

10. Ook nie ’n reissak vir die pad of ’n ekstra drarok of ekstra sandale of selfs ’n kierie nie. ’n Werker verdien tog sekerlik om versorg te word.

11. As julle in ’n dorp of kleiner plekkie ingaan, maak seker by wie julle welkom is en bly daar totdat julle weer vertrek.

12. As julle in ’n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet.

13. As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly. Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek.

14. As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp uit en skud die stof van julle voete af.

15. Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.”

Die dissipels sal vervolg word

16. “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe.

17. Pas op vir die mense! Hulle sal julle aan die howe oorgee en in hulle sinagoges met gésels slaan.

18. Julle sal voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van My. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig.

19. Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word.

20. Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik.

21. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

22. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal verlos word.

23. As hulle julle in die een dorp vervolg, vlug dan na die ander een toe. Ek verseker julle, julle sal nie klaarkry met die dorpe van Israel voordat Ek, die Seun van die Mens, kom nie.

24. “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie.

25. ’n Leerling behoort tevrede daarmee te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwyser, en die slaaf soos met sy baas. As hulle My, die hoof van die huishouding, as die baasduiwel uitskel, watter nare dinge sal hulle dan nie van julle, my huismense, sê nie!”

Moenie vir ménse bang wees nie

26. “Moenie vir hulle bang wees nie! Die tyd kom wanneer alles wat op die oomblik nog weggesteek word, aan die lig sal kom en alles wat nou nog geheim is, bekendgemaak sal word.

27. Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal. En wat in julle ore gefluister word, basuin dit van die dakke af.

28. Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie. Wees veel eerder bang vir Hom wat julle liggaam én eintlike menswees in die hel kan vernietig.

29. Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie.

30. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.

31. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies.

32. “As julle My openlik erken voor die mense, sal Ek julle ook openlik erken voor my hemelse Vader.

33. Maar as julle My verloën voor die mense, sal Ek julle ook verloën voor my hemelse Vader.”

Jesus bring nie vrede nie, maar

stryd

34. “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie! Nee, Ek het nie vrede gebring nie, maar stryd.

35. Ek het gekom om skeiding te bring tussen ’n man en sy paen ’n dogter en haar ma, tussen ’n skoondogter en haar skoonma.

36. Selfs ’n mens se eie familie sal jou vyande wees.

37. “As jy jou pa of jou ma liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie. Of as jy jou seun of jou dogter liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie.

38. As jy weier om jou kruis op jou skouers te neem en My te volg, verdien jy nie om een van my mense te wees nie.

39. As jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.”

Belonings vir hulle wat God se

gestuurdes goed behandel

40. “Elkeen wat julle verwelkom, verwelkom My. En wie My verwelkom, verwelkom die Vader wat My gestuur het.

41. As jy ’n profeet verwelkom omdat hy God se boodskap bring, sal jy dieselfde beloning kry as ’n profeet. En as jy iemand wat reg lewe, verwelkom omdat hy reg lewe, sal jy dieselfde beloning as hy ontvang.

42. Selfs as jy ’n beker koue water aan een van my geringste dissipels sou gee bloot omdat hy ’n dissipel is, verseker Ek jou dat jy jou beloning nie sal misloop nie.”