hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie met ’n vergrootglas na

ander se foute kyk nie

1. “Hou op om ’n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ’n oordeel oor julle uitspreek nie.

2. Hy sal julle beoordeel soos julle ander beoordeel. Die kriterium waarmee julle oordeel, sal ook vir júlle gebruik word.

3. En hoe sien jy die splintertjie in jou medemens se oog raak, maar jy merk die yslike stomp in jou eie oog nie op nie?

4. Of hoe sal jy vir jou medemens sê: ‘Kom, laat ek daardie splintertjie uit jou oog haal,’ terwyl daar ’n yslike stomp in jou eie oog sit?

5. Jou skynheilige, haal eers die stomp uit jou eie oog uit. Dan sal jy ook duidelik kan sien om die splinter uit jou medemens se oog te haal.

6. “Moenie wat heilig is vir onheilige mense gee nie. Hulle sal dit nie respekteer nie. Hulle sal soos honde omspring en julle verskeur. Moet ook nie julle kosbare pêrels vir elke morsige hierjy aanbied nie. Hulle sal dit nie waardeer nie, maar dit vertrap soos varke onder hulle pote.”

Wees seker van gebedsverhoring

7. “Hou aan met vra en God sal vir julle gee. Hou aan met soek en julle sal kry. Hou aan klop en God sal die deur vir julle oopmaak.

8. Elkeen wat so volhardend vra, ontvang; en wie aanhou soek, kry; en vir elkeen wat aanhou klop, sal God oopmaak.

9. Julle as ouers sal tog nie vir julle kinders as hulle brood vra, klippe gee nie.

10. Of as hulle vis vra, vir hulle slange gee nie.

11. As sondige mense soos julle dan goed weet om goeie dinge aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie dinge gee aan hulle wat dit van Hom vra!”

Die goue lewensreël

12. “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen. Dit is die kern van die wet en die profete.”

Die twee lewenspaaie

13. “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.

14. Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”

Loop wakker vir vals profete

15. “Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.

16. Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.

17. ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.

18. ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.

19. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

20. “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God

se koninkryk nie

21. “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

22. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het dan in u Naam gepreek en in u Naam duiwels uitgedryf en in u Naam baie wonders verrig!’

23. Dan sal Ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik mý mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’”

Bou op ’n soliede fondament

24. “Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op rots gebou is.

25. Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaarstort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas.

26. Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op die sand gebou is.

27. Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.”

28. Toe Jesus sy rede voltooi het, was die skare diep onder die indruk van sy onderrig.

29. Dit was immers gesagvol – heeltemal anders as dié van hulle eie skrifkenners.