hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus se profesie-preek: Wees

altyd waaksaam

1. Terwyl Jesus besig was om die tempelterrein te verlaat, het sy dissipels nadergestaan om vir Hom die verskillende tempelgeboue uit te wys.

2. Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, al hierdie dinge wat julle voor julle sien, sal so totaal gesloop word dat nie een klip bo-op die ander een sal bly staan nie.”

Jesus se profesie-preek: Rampe

en vervolging

3. Later, nadat Jesus teen die hang van die Olyfberg gaan sit het, kom vra sy dissipels Hom vertroulik: “Vertel vir ons wanneer sal al hierdie dinge gebeur. En wat sal die voorteken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

4. Jesus het vir hulle gesê: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

5. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

6. Julle sal van oorloë hoor, hier naby en daar ver. Maar moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

7. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar en daar sal wydverspreide hongersnode en aardbewings wees.

8. Maar dit alles sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9. “Dan sal hulle julle arresteer, vervolg en doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle mý mense is.

10. “In daardie tyd sal baie mense hulle geloof afsweer en mekaar uitlewer en haat.

11. Daar sal ook talle vals profete verskyn en hulle sal baie mense op ’n dwaalspoor bring.

12. Die sonde sal so toeneem dat baie se liefde sal afkoel.

13. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14. “Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.”

Jesus se profesie-preek: Die

groot verdrukking

15. “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak en waarvan die profeet Daniël gepraat het, in die tempel sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! –

16. “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

17. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers in die huis ingaan om in te pak nie.

18. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

19. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog borsvoed nie!

20. En bid dat dit nie vir julle nodig sal wees om in die winter of op die Sabbat te vlug nie.

21. Dit sal ’n tyd van groot verdrukking wees, erger as enigiets wat die wêreld ooit tevore beleef het of hierna sal beleef.

22. Om die waarheid te sê, as God nie ingryp en daardie tyd van swaarkry verkort nie, sal niemand dit oorleef nie. Maar ter wille van sy uitverkore mense sal dit wel verkort word.”

Jesus se profesie-preek: die vals

messiasse

23. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hiér is die Messias,’ of: ‘Dáár is Hy,’ moenie dit glo nie.

24. Want daar sal baie vals messiasse en profete na vore kom. Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

25. Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

26. As mense dan vir julle sou sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn,’ moenie gaan kyk nie. Of as hulle sou sê: ‘Kyk, Hy kruip in ’n geheime plek weg,’ moet hulle nie glo nie.

27. Want soos die weerlig in die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, so sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die Mens, kom.

28. Net soos ’n versameling aasvoëls die teenwoordigheid van ’n karkas aandui, so sal hierdie tekens wys dat die einde naby is.”

Jesus se profesie-preek: die

koms van die Seun van die

Mens

29. “Onmiddellik na hierdie tyd van swaarkry‘sal die son donker word,en die maan nie meer lig gee nie.Die sterre sal van die hemel valen die kragtewat die hemelruim saambind, sal geskud word.’

30. “Dan uiteindelik sal daar ’n teken teen die hemel verskyn om aan te dui dat Ek, die Seun van die Mens, aan die kom is. Daarop sal al die nasies van die aarde geskok en ontsteld wees. Hulle sal My, die Seun van die Mens, met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom.

31. Ek sal my engele met die magtige klank van ’n basuin uitstuur en hulle sal my uitverkorenes uit al vier windstreke bymekaarmaak, ja, selfs vanaf die verste uithoeke van die wêreld.”

Jesus se profesie-preek: die

voorbeeld van die vyeboom

32. “Leer van die vyeboom hierdie les. Wanneer sy lote reeds begin sag word en sy blare begin stoot, besef julle dat die somer op hande is.

33. Net so kan julle, wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, weet dat die einde op hande is.

34. Ek verseker julle, die mense wat vandag leef, sal nog nie uitgesterf het wanneer al hierdie dinge gebeur nie.

35. Selfs al sou die hemel en die aarde ophou bestaan, sal my woorde nog vir altyd vas bly staan.”

Jesus se profesie-preek: die

presiese tyd van die einde van

die wêreld onbekend

36. “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.

37. “Wanneer Ek, die Seun van die Mens, verskyn, sal dit gaan soos in die tyd van Noag.

38. Destyds, voor die groot vloedwater gekom het, het die mense soos gewoonlik voortgegaan om fees te vier en oor en weer te trou, selfs nog totdat Noag in die ark ingegaan het.

39. Hulle het eers besef wat aan die gang was toe die vloedwater kom en hulle almal verswelg het. Net so sal die koms van die Seun van die Mens wees.

40. “Twee persone sal saam op die land werk. Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.

41. Twee vroue sal saam by die meul koring maal. Die een sal saamgeneem en die ander een sal agtergelaat word.

42. Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

43. “Julle besef tog goed, as ’n huiseienaar vooraf weet hoe laat in die nag die dief gaan kom, sal hy op sy hoede bly en nie toelaat dat daar by sy huis ingebreek word nie.

44. Daarom moet julle ook voorbereid wees, want die Seun van die Mens kom op ’n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”

Jesus se profesie-preek: die

verstandige en slegte slaaf

45. “Wie van julle sal dan soos die betroubare en verstandige slaaf wees aan wie die huisheer die verantwoordelikheid toevertrou om sy huishouding te bestuur en aan sy mense hulle kos op die regte tyd te gee?

46. As die huisheer terugkom en vind dat daardie slaaf sy plig goed uitgevoer het, sal hy hom goed beloon.

47. Ek verseker julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.

48. Maar as die slaaf sleg is en by homself redeneer: ‘Dis nog lank voordat my huisheer kom,’

49. en hy begin die ander slawe aanrand en saam met die drinkers fuifpartye hou,

50. sal die heer van daardie slaaf terugkom op ’n dag en tyd waarop hy nie voorbereid is nie.

51. Dan sal hy hom ’n wrede dood laat sterf en hom laat deel in die lot van alle skynheiliges. Hulle sal bitterlik huil en van selfverwyt op hulle tande kners.”