hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus gaan Jerusalem

triomfantlik binne

1. Toe Jerusalem begin naderkom, het Jesus en sy dissipels die dorpie Betfage, geleë teen die Olyfberg, bereik. Hy het twee dissipels vooruit gestuur

2. met die opdrag: “Gaan na die dorpie hier reg voor julle, en julle sal ’n donkie daar vasgemaak sien staan met ’n vul by haar. Maak hulle los en bring hulle hier vir My.

3. As iemand protesteer, sê dan: ‘Die Here het hulle nodig. Hy sal hulle nou-nou terugstuur.’”

4. Dit het gebeur om die profesie te laat vervul:

5. “Sê vir die volk van Israel:‘Kyk, julle Koning kom na julle toe.Hy is saggeaard en Hy ry op ’n donkie,ja, op die vul van ’n pakdier.’”

6. Die twee dissipels het toe gegaan en gemaak soos Jesus hulle beveel het.

7. Hulle het die donkie en haar vul gebring, hulle bo-klere op hulle gesit en Jesus het op die donkie gaan sit.

8. Die grootste deel van die skare het hulle bo-klere op die pad voor Jesus oopgegooi en ander het takke van die bome afgekap en dit oor die pad uitgesprei.

9. Met Jesus in die middel van die optog het die skare uitgeroep:“Prys God vir die Seun van Dawid!Geseënd is die Een wat kom in die Here se Naam!Prys God in die hoogste hemel!”

10. Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in beroering. Hulle het gevra: “Wie is hierdie man?”

11. Die skare het geantwoord: “Hy is Jesus, die profeet uit Nasaret in Galilea.”

Jesus maak die tempel skoon

12. Jesus het tempel toe gegaan en al die handelaars en hulle kliënte uitgejaag. Hy het die tafels van die bankiers en die hokkies van die duiweverkopers onderstebo gegooi

13. en vir hulle gesê: “Daar staan in die Skrif geskryf: ‘My huis is bedoel om ’n huis van gebed te wees, maar julle het daarvan ’n rowersnes gemaak.’”

14. Blinde en verlamde mense het daar op die tempelterrein na Hom toe gekom en Hy het hulle gesond gemaak.

15. Maar toe die hoofpriesters en die skrifkenners die merkwaardige dinge sien wat Hy doen en hoor hoe selfs die kinders in die tempel uitroep: “Prys God vir die Seun van Dawid,” was hulle bitterlik ontsteld

16. en het vir Jesus gesê: “Hoor jy wat sê hulle daar?” “Ja,” was Jesus se antwoord. “Het julle nog nooit in die Skrif gelees: ‘U het kinders en babatjies geleer om u lof te besing’ nie?”

17. Toe is Hy weer daar weg en Hy het uit die stad na Betanië toe gegaan, waar Hy oornag het.

Jesus vervloek die vyeboom

18. Vroegdag op pad terug na Jerusalem het Jesus honger geword

19. en ’n enkele vyeboom langs die pad sien staan. Hy gaan toe na die boom, maar al wat Hy daaraan gekry het, was blare. Hy sê toe vir die boom: “Mag jy nooit weer vrugte dra nie!” Die boom het onmiddellik totaal verskrompel.

20. Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?”

21. Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur.

22. Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”

Jesus se bevoegdheid word

bevraagteken

23. Weer terug by die tempel was Jesus besig om onderrig te gee toe die priesterhoofde en familiehoofde na Hom toe kom en vra: “Watter soort volmag het jy om mense uit die tempel te jaag? Wie het jou hierdie volmag gegee?”

24. Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal vir julle sê watter soort volmag Ek het om hierdie dinge te doen. Maar dan moet julle eers vir My hierdie vraag beantwoord:

25. ‘Kom die doop wat Johannes beoefen het, van God af, of was dit maar ’n bloot menslike saak?’”Hulle het toe onder mekaar beraadslaag: “As ons sê dat dit van God af kom, gaan hy vir ons sê: ‘Hoekom het julle hom dan nie geglo nie?’

26. “Maar as ons sê dit was maar net ’n bloot menslike saak, sal ons vir die volk moet oppas, want vir hulle is Johannes ’n profeet.”

27. Gevolglik het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.”Daarop was Jesus se reaksie: “Dan gaan Ek ook nie julle vraag beantwoord nie.”

Die twee seuns wat in die

wingerd moes gaan werk

28. “Maar wat dink julle hiervan?” sê Hy toe vir hulle. “’n Man wat twee seuns gehad het, het na die eerste een toe gegaan en vir hom gesê: ‘My kind, jy moet vandag in die wingerd gaan werk.’

29. ‘Ek is nie lus nie,’ was sy antwoord, maar later het hy spyt gekry en tog gaan werk.

30. Die pa gaan toe na die ander een toe en gee hom dieselfde opdrag. Dié antwoord toe: ‘Ek maak so, Pa,’ maar hy het tog nie gaan werk nie.

31. Wie van die twee was die gehoorsame een?”Hulle antwoord was: “Natuurlik die eerste een.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ek verseker julle: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle in God se koninkryk ingaan.

32. Want Johannes het na julle toe gekom en vir julle die regte pad aangewys, maar julle het sy prediking nie aanvaar nie. Die tollenaars en die prostitute het dit egter aanvaar. En selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en Johannes geglo nie.”

Die gelykenis van die slegte

druiweboere

33. “Luister na nog ’n gelykenis. Die eienaar van ’n landgoed het ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou. Hy het ook ’n parskuip uitgekap en ’n uitkyktoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en na die buiteland vertrek.

34. Teen die tyd van die druiwe-oes stuur hy toe van sy slawe om sy deel van die oes te gaan haal.

35. Die boere het sy slawe egter gegryp; hulle het die een geslaan, ’n ander een doodgemaak en ’n derde een met klippe doodgegooi.

36. Vervolgens het die eienaar nog ’n groter groep slawe gestuur en die boere het dieselfde met hulle gedoen.

37. “Einde ten laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink: ‘Hulle sal my seun tog sekerlik ontsien.’

38. Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Hy is mos die erfgenaam. Kom ons maak hom dood en dan vat ons sy erfenis!’

39. Toe gryp hulle hom, smyt hom uit die wingerd en vermoor hom.

40. “Wat dink julle,” het Jesus gevra, “sal die eienaar van die wingerd met hierdie boere doen wanneer hy terugkom?”

41. Hulle sê vir Hom: “Hy sal daardie skurke ’n verskriklike dood laat sterf en die wingerd aan ander mense verhuur wat gereeld sy billike deel van die oes aan hom sal gee.”

42. Jesus sê toe vir hulle: “Julle het tog seker al in die Skrif die volgende gelees:‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het,het die hoekklip van die gebou geword.Dit is die Here wat dit gedoen heten dit is vir ons wonderlik!’

43. “Daarom verseker Ek julle: God se koninkryk sal van julle af weggeneem word en aan ’n volk gegee word wie se lewe by koninkryksmense pas.

44. Elkeen wat teen hierdie klip val, sal verpletter word en die een op wie hý val, sal vergruis word.”

45. Toe die priesterhoofde en die skrifkenners hierdie gelykenisse hoor, het hulle besef dat Jesus op hulle sinspeel.

46. Daarom wou hulle Hom arresteer, maar hulle was bang om dit te doen omdat die skare geglo het dat Hy ’n profeet was.