hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Johannes die Doper word deur

Herodes vermoor

1. Juis in daardie tyd het Herodes Antipas van Jesus se optrede gehoor.

2. Daarop sê hy vir sy paleispersoneel: “Hierdie man is niemand anders as Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het nie! Daarom kan hy sulke wonderwerke doen.”

3. Herodes het vir Johannes oor Herodias laat arresteer, hom geboei en in die tronk gegooi. Herodias was sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het haar vir homself toegeëien. Johannes het hom hieroor herhaaldelik aangespreek en vir hom gesê:

4. “Jy mag dit nie doen nie.”

5. Hieroor wou Herodes hom om die lewe bring, maar hy was bang vir die volk se reaksie, want in hulle oë was Johannes ’n profeet.

6. Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik daarmee

7. dat hy vir haar gesweer het: “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”

8. Aangepor deur haar ma vra sy toe: “Bring vir my op ’n skinkbord die kop van Johannes die Doper!”

9. Die koning was bitter ontsteld hieroor, maar omdat hy ’n eed afgelê het en nie voor die gaste sleg wou lyk nie, het hy opdrag gegee dat haar wens uitgevoer moes word.

10. Hy stuur toe soldate en laat Johannes in die tronk onthoof.

11. Sy kop is op ’n skinkbord ingebring en aan die meisie gegee wat dit weer na haar ma toe gevat het.

12. Johannes se dissipels het sy liggaam kom haal en hom begrawe. Daarna het hulle vir Jesus kom vertel wat gebeur het.

Jesus gee kos vir meer as

vyfduisend mense

13. Toe Jesus dit hoor, het Hy in ’n skuit daarvandaan weggegaan na ’n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom.

14. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ’n massa mense bymekaar was. Hy het ’n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak.

15. Teen laatmiddag kom sy dissipels vir Jesus sê: “Dis ’n verlate plek hierdie en kyk hoe laat is dit al. Stuur die mense weg dat hulle in die dorpies kan gaan kos koop.”

16. Maar Jesus het hulle geantwoord: “Dis onnodig – gee julle vir hulle kos.”

17. “Onmoontlik!” het hulle uitgeroep. “Al wat ons hier het, is vyf brode en twee visse.”

18. “Bring hulle hier vir My,” het Jesus gesê.

19. Hy gee toe opdrag dat die mense op die gras moet gaan sit. Daarna neem Hy die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en vra God om die kos te seën. Toe breek Hy die brood in stukke, gee dit aan sy dissipels en sy dissipels weer aan die skare.

20. Hulle het almal geëet totdat hulle versadig was. Van die oorskiet van die brood het hulle nog twaalf mandjies vol opgetel!

21. Omtrent 5 000 mans het van hierdie kos geëet – afgesien van al die vroue en kinders.

Jesus loop op die water

22. Dadelik hierna het Jesus sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur.

23. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar.

24. Ondertussen was die skuit reeds ver van die land af. Met ’n sterk wind teen hulle moes hulle teen woeste golwe veg.

25. Kort voor dagbreek het Jesus op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26. Toe die dissipels Hom so op die see sien loop, was hulle verskrik, en hulle het benoud begin skree, want hulle het gedink dis ’n spook.

27. Maar Jesus het dadelik vir hulle gesê: “Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek.”

28. Petrus sê toe vir Hom: “Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom.”

29. “Kom dan,” het Jesus gesê. Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.

30. Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: “Here, red my!”

31. Jesus het onmiddellik sy hand uitgesteek en hom gegryp. “Jou geloof is maar bitter klein,” sê Hy vir hom. “Waarom vertrou jy My nie?”

32. En toe hulle in die skuit terugklim, gaan lê die wind.

33. Daarop het die mense in die skuit Hom aanbid. “U is werklik die Seun van God!” het hulle uitgeroep.

34. Nadat hulle die see oorgesteek het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan.

35. Toe die plaaslike mense dit hoor, het hulle die nuus deur die hele omgewing versprei en al hulle siekes na Hom toe gebring.

36. Die siekes het Hom gesmeek om aan Hom te mag raak, al was dit maar net aan die onderste rand van sy bo-kleed. En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.