hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus verduidelik hoe heilig die

huwelik is

1. Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy van Galilea vertrek en in Perea aangekom. Hierdie gebied het aan Judea gegrens, maar was aan die oostekant van die Jordaan geleë.

2. ’n Massa mense het Hom daarheen gevolg, en Hy het hulle siekes gesond gemaak.

3. Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ’n poging om Hom in ’n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?”

4. Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?

5. En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’

6. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ’n mens nie uitmekaarskeur nie.”

7. Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ’n man kan sommer net vir sy vrou ’n skeidokument gee en haar dan laat gaan?”

8. Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ’n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.

9. Dít verseker Ek julle, ’n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, is self skuldig aan huweliksontrou.”

10. Sy dissipels sê vir Hom: “As dit met mans en vroue die geval is, moet ’n mens maar liewer nie trou nie!”

11. “Nie almal sal met julle saamstem nie,” het Hy vir hulle geantwoord. “Daar is dié vir wie dit gegee is om nie te trou nie.

12. Sommige is so van hulle geboorte af; ander is deur menslike mishandeling so gemaak; nog ander het ter wille van die koningsheerskappy van God self verkies om so te bly. Wie die nodige insig het, laat hy dit verwerk.”

Jesus seën kindertjies

13. Op ’n dag is kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy sy hande op hulle kon plaas en vir hulle kon bid. Sy dissipels het hulle egter daaroor aangespreek.

14. Maar Jesus se reaksie was: “Laat staan die kindertjies. Moenie hulle keer om na My toe te kom nie, want God se koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

15. En Hy het sy hande op hulle koppe gesit en hulle geseën. Daarna het Hy vertrek.

’n Ryk jong man

16. Iemand het na Jesus toe gekom met die vraag: “Leermeester, watter goeie ding moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?”

17. Hy het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Net God is werklik goed. Maar om jou vraag te beantwoord – jy kan die ewige lewe verkry deur die gebooie te onderhou.”

18. Hy vra vir Jesus: “Watter gebooie?”Jesus het geantwoord: “‘Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie ontrou wees in jou huwelik nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie onwaar getuienis aflê nie;

19. respekteer jou pa en ma; jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

20. “Ek het al hierdie gebooie nagekom,” antwoord die jong man, “wat moet ek nóg doen?”

21. Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan en word my dissipel.”

22. Toe die jong man dít hoor, het hy geskok weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Ek verseker julle dit is bitter moeilik vir ’n ryke om in God se koninkryk in te gaan.

24. Ek wil dit beklemtoon, dit is makliker vir ’n kameel om deur ’n naald se oog te gaan as wat dit vir ’n ryke is om in God se koninkryk in te gaan.”

25. Toe hulle dit hoor, was die dissipels totaal verbysterd. “As dit so is, wie kan dan hoegenaamd verlos word?” het hulle gevra.

26. Daarop het Jesus hulle aandagtig aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik. Maar by God is alles moontlik!”

27. Toe sê Petrus vir Hom: “Ons het alles opgegee om u dissipels te word. Wat sal ons daaruit kry?”

28. Jesus se antwoord was: “Ek verseker julle dat wanneer Ek, die Seun van die Mens, in God se nuwe wêreld op my heerlike troon sal sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en julle sal regspreek oor die twaalf stamme van Israel.

29. En elkeen wat ’n huis om my ontwil opgegee het, of broers of susters of ’n pa of ’n ma of kinders of grond – hy sal honderd maal soveel terugontvang en boonop die ewige lewe verkry.

30. Maar baie wat nou so vernaam lyk, sal eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”