hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus se Bergpreek

1. Toe Jesus die groot skare mense bymekaar sien, het Hy teen die berg uitgeklim. Toe Hy gaan sit, kom sy dissipels na Hom toe.

2. Hy het begin om hulle soos volg te onderrig:

Hoe burgers van God se

koninkryk lyk

3. “Gelukkig is dié mense wat weet hoe nodig hulle God het, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.

4. Gelukkig is die treurendes,want God sal self hulle trane afvee.

5. Gelukkig is dié wat sag van hart is,want die nuwe aarde sal hulle erfporsie wees.

6. Gelukkig is dié wat honger en dors na wat voor God reg is,want Hy sal hulle hartsverlange bevredig.

7. Gelukkig is dié wat met ontferming uitreik na mense in nood, want God sal Hom oor húlle ontferm.

8. Gelukkig is dié wie se hartevolkome op God gerig is, want hulle sal vir God sien.

9. Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.’

10. Gelukkig is dié wat vervolg wordter wille van wat voor God reg is, want die koninkryk van die hemele is húlle deel.

11. “Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.

12. Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor beloon. Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.”

Die taak van Jesus se volgelinge

13. “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar. Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

14. Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!

15. ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.

16. Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Jesus se volgelinge en God se

wet

17. “Julle moenie die rede vir my koms misverstaan nie. Ek het nie gekom om ’n streep deur die wet of die profete te trek nie. Ek het gekom om die ware bedoeling van God se wet te laat uitkom.

18. Ek verseker julle, al sou die hemel en aarde ophou bestaan, sal die wet definitief tot in sy fynste detail geldig bly totdat God se bedoeling daarmee bereik is.

19. “As jy dus die kleinste van God se opdragte opsy sou skuif en ander leer om dit ook te doen, sal jy die kleinste wees in God se koninkryk. Maar as jy God se wet tot in sy kleinste detail respekteer en gehoorsaam, sal jy groot wees in sy koninkryk.

20. “Want Ek sê vir julle, as julle nie die skrifkenners en die Fariseërs oortref in hoe julle God se wil uitleef nie, sal julle beslis nie toegelaat word in sy koninkryk nie.”

Oor kwaad word en vrede maak

21. “Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’

22. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord.

23. “As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ’n grief teen jou koester,

24. los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer.

25. “Sorg dat jy baie gou op goeie voet met jou teenstander kom; anders gaan daardie persoon jou aan die regter oorhandig, en die regter oorhandig jou aan die hofbeampte en jy word in die tronk gegooi.

26. “Ek verseker jou, jy gaan beslis nie daar uitkom voordat jy elke sent afbetaal het nie.”

Huweliksontrou begin by jou

oog

27. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28. Maar Ek sê vir julle, elke man wat met ’n wellustige oog na ’n ander vrou kyk, het al klaar in sy hart egbreuk gepleeg.

29. En as jou regteroog jou laat struikel, pluk dit liewer uit en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter dat een van jou liggaamsdele tot niet gaan as dat jou hele liggaam in die hel eindig.

30. Net so, as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om net een van jou liggaamsdele te verloor as dat jou hele liggaam in die hel eindig.”

Egskeiding is ’n uiters ernstige

saak

31. “Daar is gesê: ‘Al wat ’n man nodig het om van sy vrou te skei is om aan haar ’n skeisertifikaat te oorhandig.’

32. Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor huweliksontrou, veroorsaak dat sy egbreuk pleeg. En elkeen wat met so ’n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”

Wees mense van julle woord

33. “Verder het julle gehoor dat daar vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie ’n vals eed aflê nie. Jy moet ’n eed wat jy voor die Here gesweer het, nakom.’

34. Maar Ek sê vir julle, julle moet glad nie sweer nie. “As jy sê: ‘Ek sweer by die hemel,’ dan is dit nog steeds ’n heilige eed omdat die hemel God se troon is.

35. As jy sê ‘by die aarde’, is dit heilig omdat die aarde ’n rusplek vir God se voet is. En as jy sê ‘by Jerusalem’, is dit heilig omdat Jerusalem die stad van God, die groot Koning, is.

36. Moet selfs nie sê: ‘Ek sweer by my kop’ nie, want jy kan nie eers een haar daarvan wit of swart maak nie.

37. “Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee. Enigiets meer as dit is uit die bose.”

Moenie wraak neem nie –

oorwin die kwaad met die goeie

38. “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’

39. Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ’n slegte mens verset nie. As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.

40. En gee vir hulle wat jou hof toe wil vat omdat hulle jou onderkleed wil hê, ook jou bo-kleed.

41. As ’n soldaat jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer ver.

42. “Géé vir die een wat iets van jou vra, en moenie jou rug draai op iemand wat by jou wil leen nie.”

Julle liefde moet sonder grense

wees

43. “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’

44. Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.

45. Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader. Hy laat immers sy son opgaan oor slegtes en goeies. En Hy laat sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.

46. “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle? Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde.

47. En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan? Doen die ongelowiges nie ook maar dieselfde nie?

48. “Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in sý liefde is. Hy het mos álle mense lief.”