hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Rolmodelle van

geloofsvolharding

1. Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.

2. Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig.

3. Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ’n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie.

4. Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons.

5. Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra.

6. As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

7. Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang.

8. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.

9. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het.

10. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het.

11. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom.

12. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand.

13. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is.

14. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland.

15. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek.

16. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei.

17. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het,

18. aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.”

19. Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.

20. Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen.

21. Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.

22. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die Israeliete se uittog uit Egipte en opdrag gegee dat hulle sy beendere moes saamneem.

23. Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie.

24. Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan.

25. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde.

26. Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee.

27. Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.

28. Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie.

29. Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink.

30. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort.

31. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.

32. Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

33. Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop,

34. die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan.

35. Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang. Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry.

36. Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap.

37. Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel.

38. Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond.

39. En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie.

40. Die rede daarvoor is dat God met ons in gedagte iets beters beoog het sodat hulle nie sonder ons volmaaktheid sou bereik nie.