hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Christus se offer oortref dié van

die ou verbond

1. Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie.

2. As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring.

3. Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes,

4. want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik die sondes wegneem.

5. Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar:“Diere- of graanoffers is niewat U wou hê nie,maar die liggaam wat U vir My voorberei het.

6. U was nie tevrede met brandoffersof sonde-offers nie.

7. Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil uit te voer – so staan dit van Myin die Skrif geskryf.’”

8. Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word.

9. Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang.

10. Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is.

11. Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie.

12. Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit.

13. Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het.

14. Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig.

15. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar:

16. “Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here:Ek sal my opdragte inskryfin hulle harteen Ek sal dit in hulle verstand graveer.”

17. Dan voeg Hy daarby: “Ek sal aan hulle sondesen hulle oortredingsnooit weer dink nie.”

18. Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.

Kom ons hou vas aan wat ons

Hoofpriester vir ons verwerf het

19. Broers en susters, ons het dus nou deur die bloed van Jesus volle vrymoedigheid om in die hemelse heiligdom in te gaan.

20. Hy het hierdie nuwe, lewegewende pad wat deur die binneste voorhangsel tot by God gaan, vir ons oopgemaak deur vir ons te sterf.

21. Wat meer is, ons het ’n groot priester wat toesig hou oor die huis van God.

22. Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water.

23. Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het.

24. Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade.

25. En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.

26. As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie.

27. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer.

28. Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak.

29. Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het.

30. Ons ken tog die Een wat gesê het:“Ék sal die straf voltrek,Ek sal die kwaad vergeld.”En verder:“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31. Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.

Hou aan volhard in die geloof

32. Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het.

33. Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is.

34. Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het.

35. Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in.

36. Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het.

37. Nog net, soos die Skrif sê, “’n baie kort tydjie,en Hy wat op pad is, sal kom.Hy sal nie talm nie.

38. Dié mense wat my wil doen,sal uit die geloof lewe. Maar dié wie se moedhulle begewe –van hulle wil Ek niks weet nie.”

39. Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.