hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die priesterskap van Melgisedek

oortref dié van die Leviete

1. Hierdie Melgisedek was koning van die stad Salem en ’n priester van God die Allerhoogste. Toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings in ’n groot geveg verslaan het, het Melgisedek hom tegemoetgegaan en geseën.

2. Daarop het Abraham aan hierdie Melgisedek ’n tiende gegee van alles wat hy in die oorlog buitgemaak het. Sy naam Melgisedek beteken “koning van geregtigheid”. Hy is ook “koning van vrede” omdat die naam Salem “vrede” beteken.

3. Daar bestaan geen rekord van sy pa of ma of enige van sy voorouers nie – ook nie van sy geboorte of dood nie. Hy bly priester vir altyd en kan daarin vergelyk word met die Seun van God.

4. Oorweeg nou hoe belangrik hierdie Melgisedek moes gewees het. Selfs Abraham, die groot stamvader van Israel, het sy belangrikheid erken deur vir hom ’n tiende van sy oorlogsbuit te gee.

5. Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam.

6. Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7. Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën.

8. In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe.

9. Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het.

10. Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

Waarom Christus se

hoofpriesterskap dié van

die Leviete totaal oortref

11. En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie?

12. Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak.

13. Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14. Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie.

15. Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon,

16. Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.

17. Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het:“Jy is priester vir ewigvolgens die priesterorde van Melgisedek.”

18. Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was;

19. die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!

20. Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie.

21. Dis net vir Christus wat Hy gesê het:“Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie:Jy sal vir ewig priester bly.”

22. Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond.

23. Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly.

24. Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie.

25. Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!

26. Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel.

27. Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer!

28. Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.