hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8 Die Boodskap (DB)

Die verbondsark word in die tempel gesit

1. Nadat Salomo die tempel gebou het, het hy al die stamleiers en die familiehoofde van Israel in Jerusalem bymekaar laat kom. Hy wou hê hulle almal moes teenwoordig wees wanneer die verbondsark van die Here uit Dawid se stad gedra word.

2. Almal het toe op die feesdag in die maand Etanim, dit is die sewende maand, in Jerusalem bymekaargekom.

3. Toe almal daar was, het die priesters die ark waarin die bewys van die ooreenkoms van God met sy volk was, opgetel

4. en dit na die tempel toe gedra. Van die Leviete het toe gekom en die tent waar die Here altyd teenwoordig was, met al sy toebehore ook in die tempel gaan neersit.

5. Salomo en almal saam met hom het toe voor die verbondsark, wat hulle voor die tempel neergesit het, gaan staan en begin offer. Daar was soveel kleinvee en beeste wat geoffer is dat dit nie eens getel kon word nie.

6. Daarna het die priesters weer die verbondsark opgetel en dit binne-in die tempel ingedra. Daar het hulle dit baie versigtig onder die gerubs se vlerke in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gaan neersit.

7. Die verbondsark, asook die houtpale waarmee dit gedra is, het net mooi onder die gerubs se uitgestrekte vlerke ingepas.

8. Die houtpale was egter ’n bietjie te lank en ’n stukkie het by die Allerheiligste uitgesteek. ’n Mens kon dit net sien as jy vlak voor die Allerheiligste gestaan het. Die pale is vandag nog daar.

9. Daar was niks in die verbondsark nie, behalwe die twee kliptafels wat Moses nog by Sinai in die ark gesit het. By Sinai het die Here met Israel na die uittog uit Egipte ’n ooreenkoms gesluit.

10. Toe die priesters uit die heiligdom gekom het, het ’n helder, wit wolk die huis van die Here gevul. Almal het die teenwoordigheid van die Here aangevoel.

11. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie eens hulle werk kon doen nie.

Salomo se toespraak

12. Op daardie oomblik is Salomo so deur die Here se nabyheid aangegryp dat hy gesê het: “Here, U is by ons en tog is U ook ver. U is teenwoordig en tog woon U in die donkerte.

13. Here, hierdie wonderlike tempel het ek vir U gebou. Dit moet vir altyd u woonplek wees.”

14. Terwyl die mense nog in verwondering gestaan het, het Salomo na hulle toe gedraai en vir hulle gebid.

15. Hy het gesê: “Ons wil die Here, die God van Israel, loof, want Hy het sy belofte aan Dawid gehou.

16. Sedert die uittog uit Egipte het Hy nie vir Hom ’n stad gekies nie; ’n stad waarin die tempel gebou kon word en Hy aanbid kon word. Toe het Hy Dawid as koning aangestel.

17. My pa, Dawid, wou graag vir die Here ’n plek bou waar Hy aanbid kon word.

18. Die Here het hom egter gekeer om dit te doen.

19. Dawid se bedoeling was opreg en vir die Here was dit mooi, maar Hy het gesê dat Dawid se seun vir Hom ’n tempel sou bou.

20. En hoe getrou is die Here nie! Ek het in my pa se plek koning geword en ek kon die tempel vir die Here bou. So het die Here sy belofte nagekom.

21. Ek het ook vir die verbondsark ’n plek in die tempel gemaak. En in die ark is daar nog steeds die kliptafels wat die Here by Sinai gegee het toe Hy met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit het. Dit was nadat Hy hulle uit Egipte weggelei het.”

Salomo se gebed

22. Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid.

23. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien.

24. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword.

25. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef.

26. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.”

27. “Here, my God, kan U regtig hier op aarde in die tempel woon? Nie eens die ganse hemel is vir U groot genoeg nie. Hoe kan hierdie geboutjie, hierdie tempel wat ek gebou het, dan ooit groot genoeg vir U wees?

28. Here my God, voor U is ek niks. Luister tog na my woorde en verhoor vandag my gebed.

29. Here, beskerm hierdie gebou dag en nag. Dit is tog die plek wat U gekies het; die plek waar U wou hê ons U moes aanbid. Hoor elke keer my gebed as ek my gesig na hierdie tempel toe draai.

30. Hoor ook die smekinge van u mense wanneer hulle in die rigting van die tempel kyk en bid. Hoor tog ons gebede in u hemelse woonplek en vergewe ons ons sondes.

31. “Wanneer iemand van ’n oortreding teenoor sy naaste beskuldig word en hy sweer by die altaar in hierdie tempel dat hy onskuldig is,

32. luister dan vanuit u hemelse woonplek en oordeel U self. Straf die skuldige en spreek die onskuldige vry.

33. “Wanneer u volk, Israel, ’n geveg verloor omdat hulle aan U ontrou was, maar hulle bely hulle sondes vol berou hier by die tempel,

34. hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en maak hulle weer gelukkig in hierdie land wat U lank gelede al aan hulle voorouers beloof het.

35. “Wanneer U die reën terughou omdat u mense gesondig het, maar hulle bely hulle foute en bid met hulle gesig in die rigting van die tempel,

36. hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe die koning en die volk hulle sondes en leer hulle om die regte dinge te doen. Gee dan reën vir u land; die land wat U aan Israel as permanente woonplek gegee het.

37. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af,

38. hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid,

39. hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie.

40. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het.

41. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het.

42. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid.

43. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word.

44. “Wanneer Israel op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in ’n vreemde land terwyl hulle hulle gesig in die rigting van die tempel draai,

45. luister dan na hulle gebede in u hemelse woonplek en laat hulle die vyand verslaan.

46. “Wanneer u mense teen U gesondig het - en wie is daar wat nie sondig nie? - en U hulle in woede in die hand van die vyand oorgee sodat hulle na ’n ver land in ballingskap weggevoer word, maar hulle roep nogtans tot U,

47. luister dan na u mense se smeekroepe. As hulle in daardie vreemde land berou kry en besef hulle het verkeerd gedoen en dit bely, verhoor dan hulle gebede.

48. As hulle in daardie land waarlik berou het en hulle bid met hulle gesig na hierdie land, hierdie stad en hierdie tempel toe wat ek vir U gebou het,

49. luister dan na hulle gebede. Vergewe hulle en wees opnuut weer lief vir u mense.

50. Vergewe hulle baie sondes en hulle opstand teen U. En gee dat Israel se vyande medelye en deernis met hulle sal hê.

51. Hulle is tog u eiendom wat U uit die smeltoond van Egipte gered het.

52. “Here ons God, mag U altyd u volk en sy koning met groot deernis liefhê. Hoor tog as hulle dag en nag na U om hulp roep.

53. U het hulle tog self gekies. Israel en die koning het U uit al die volke van die wêreld vir U gekies. Hulle is u s’n. Dit is tog wat U vir Moses gesê het toe U hulle uit Egipte gelei het.”

Salomo seën die volk

54. Salomo het opgestaan. Hy was nog die hele tyd voor die altaar, waar hy op sy knieë en met uitgestrekte arms gebid het.

55. Toe het hy hardop gebid dat die Here tog naby moes wees aan almal wat daar saamgekom het.

56. Hy het ook gesê: “Loof die Here wat ons ’n land en vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het.

57. Mag die Here so naby aan ons wees soos Hy destyds aan ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit sommer los of verlaat nie.

58. Mag Hy ons gehoorsaam maak sodat ons sal doen wat Hy vra, sodat ons uit liefde vir Hom sy gebooie en sy wette sal uitleef.

59. Mag die Here tog altyd hierdie gebed onthou en alles wat ek gevra het, waar maak. Mag Hy sy volk Israel en die koning altyd liefhê en mag Hy elke dag vir hulle sorg.

60. As dit gebeur, sal al die volke van die wêreld begin besef dat die Here God is en dat daar niemand anders soos Hy is nie.

61. Mag julle, die volk van die Here, altyd aan Hom getrou wees. Mag julle, soos vandag, ook môre en oormôre na die Here se wil in sy gebooie en al sy wette luister.”

62. Toe het koning Salomo en al die mense uit blydskap en dankbaarheid vir die Here begin offer.

63. Salomo alleen het 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het Salomo en al die mense die tempel daardie dag ingewy.

64. Op daardie dag het Salomo die middelgedeelte van die voorhof, wat reg voor die huis van die Here was, gewy en toe daar begin offer. Hy het brandoffers, graanoffers en die vetgedeeltes van die diere daar verbrand. Salomo het dit so gedoen omdat die bronsaltaar te klein was vir al hierdie offers.

65. Salomo en die hele Israel het sewe dae lank feesgevier. Die mense het van ver af gekom. Selfs van die Lebo-Hamat-pas in die noorde en die Egiptiese grens in die suide was daar mense. Hulle was almal so gelukkig en bly dat hulle sommer nog sewe dae aangehou het. Hulle het altesaam veertien dae lank feesgevier.

66. Daarna het Salomo die mense huis toe gestuur. Almal was vol lof vir Salomo en vir alles wat hy gedoen het. Die volk is met groot blydskap weg omdat hulle kon sien hoe die Here se beloftes aan Dawid waar geword het.