hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18 Die Boodskap (DB)

Elia praat met Obadja

1. Eers in die derde jaar van die droogte het die Here vir Elia gesê: “Gaan na Agab toe en sê vir hom dat Ek dit weer sal laat reën.”

2. Elia is na Agab in Samaria toe, waar die hongersnood op sy ergste was.

3. Agab het intussen sy paleishoof, Obadja, ontbied. Obadja was lief vir die Here.

4. (Toe Isebel op ’n keer die Here se profete wreed vervolg het, het Obadja 100 van hulle versteek. Hy het hulle in twee groepe van 50 elk in spelonke weggesteek en elke dag vir hulle kos en water gestuur.)

5. Agab het vir Obadja gesê hulle moet deur die hele land reis en by elke fontein en spruit vir ’n groenigheidjie gaan soek. As hulle genoeg kon kry, was dit nie nodig om al die perde en muile dood te maak nie.

6. Hulle het toe die land in twee verdeel. Agab het in die een deel en Obadja in die ander deel gaan soek.

7. Terwyl Obadja nog so ry, sien hy skielik ’n man in die verte. Toe hy naby kom, het hy die man herken, voor hom op sy knieë neergeval en gesê: “Meneer Elia, is dit werklik u?”

8. “Ja, dit is ek,” het Elia gesê. “Gaan sê vir Agab ek is terug.”

9. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” het Obadja gesê. “Agab sal my in die tronk stop en my doodmaak as ek dit vir hom sê.

10. Die Here weet dat ek die waarheid praat. Agab soek oral na u. Daar is nie ’n land of volk waar hy nie gesoek het nie. Elke koning moes sweer dat hy u nie êrens wegsteek nie.

11. En nou sê u ek moet vir die koning gaan sê u is hier.

12. Sê nou ek gaan, en net as ek my rug draai, neem die Gees van die Here u weg na wie weet waar! Wat dan? As ek vir Agab sê u wag hier, maar as hy kom, is u weg, maak hy my op die plek dood. Nee, meneer Elia, ek doen dit nie. Ek het ook die Here lief en dien Hom van my kleintyd af, maar dit doen ek nie.

13. Miskien weet u dit nie, maar toe Isebel destyds die Here se profete vermoor het, het ek 100 van hulle in twee groepe van 50 elk in ’n spelonk weggesteek. Elke dag het ek vir hulle brood en water laat kry.

14. En nou kom vra u my nog om vir die koning te gaan sê u is hier. Hy maak my met sy eie hande dood! Nee, Meneer!”

15. “Ek belowe jou in die Naam van die magtige Here wat ek dien dat ek net hier vir Agab sal wag,” het Elia gesê.

Elia daag die profete van Baäl uit

16. Obadja is daar weg en het vir Agab gaan sê waar Elia is. Agab is onmiddellik na Elia toe.

17. Toe Agab hom sien, het hy vir Elia gesê: “Ja, jou onrusstoker. Al wat jy in Israel doen, is om moeilikheid te maak.”

18. “Dit is nie ek wat al die ellende in Israel veroorsaak het nie, U Majesteit, maar u en u pa,” het Elia gesê. “Dit is u wat die Here verlaat en Baäl aanbid het.

19. Gebruik nou u gesag en laat die hele Israel saam met my op die berg Karmel bymekaarkom. Bring ook die 450 profete van Baäl saam, asook die 400 profete van Asjera vir wie Isebel kos en klere gee.”

20. Agab het toe die hele Israel en al die Baälprofete beveel om saam op Karmel bymekaar te kom.

21. Toe almal daar bymekaar was, het Elia vir hulle gesê: “Wanneer gaan julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here die ware God is, volg Hom. Maar as julle Baäl as julle god wil dien, doen dit dan. Maak net vandag ’n keuse.” Die volk het doodstil gesit en nie ’n woord gesê nie.

22. “Ek is die enigste profeet van die Here wat vandag hier is terwyl hier 450 Baälprofete teenwoordig is,” het Elia gesê.

23. “Bring nou vir ons twee bulle. Laat die Baälprofete vir hulle ’n bul uitsoek, dit in stukke sny en op die hout sit. Moet net nie dat hulle die vuur aansteek nie. Ek sal die ander bul vat, dit slag en op die hout sit. Ek sal dit ook nie self aansteek nie.

24. Laat die Baälprofete dan vir Baäl vra om die vuur aan te steek en ek sal die Here vra. Wie die vuur aansteek, is die enigste ware God.” Die volk het hierdie voorstel van Elia aanvaar.

Die Here verhoor Elia se gebed

25. Elia het toe vir die Baälprofete gesê: “Julle is die meeste; daarom moet julle eerste begin. Kies vir julle ’n bul, slag dit en sit dit op die hout. Moet dit nie self aansteek nie, maar vra julle god om dit te doen.”

26. Die Baälprofete het ’n bul gekies, dit geslag en op die hout neergesit. Toe het hulle tot Baäl begin bid. Hulle het van die oggend tot die middag gebid. Hulle het aanmekaar gesê: “Baäl, antwoord ons,” maar net mooi niks het gebeur nie. Uit radeloosheid het die Baälprofete om die altaar begin dans wat hulle gemaak het.

27. Teen die middag se kant het Elia met die profete van Baäl begin spot. “Roep ’n bietjie harder,” het hy gesê. “Probeer weer, want hy is dalk in gedagte of besig. Of miskien is hy weg, of iewers op reis. Wie weet, dalk slaap julle god net, dan moet julle hom wakker maak.”

28. Die Baälprofete het nog harder begin bid. Toe dit nie werk nie, het die profete hulleself met skerp swaarde en messe begin stukkend sny sodat hulle vol bloed was, soos hulle gewoonte was. Hulle het dit gedoen om hulle god se aandag te probeer trek.

29. Laat daardie middag het die profete met alles wat hulle gehad het, begin skree en smeek. Niks het egter gebeur nie. Hulle het aangehou skree en raas totdat dit tyd was vir die aandoffer in Jerusalem.

30. Toe het Elia vir hulle gesê: “Kom, staan nader.” Almal het om Elia gaan staan. Hy het die altaar van die Here, wat die Baälprofete beskadig het, eers gou herstel.

31. Hy het twaalf groterige klippe gevat en dit opmekaargestapel. Die twaalf klippe moes die mense aan die twaalf stamme herinner, asook aan Jakob, wie se naam na Israel verander is.

32. Met die stene het Elia die altaar van die Here herbou. Hy het ook ’n diep watersloot om die altaar gegrawe.

33. Hy het toe die hout netjies op die altaar reggesit, die bul geslag en die stukke op die hout neergesit. Toe sê Elia: “Vat nou vier groot kruike en maak dit vol water. Gooi dan alles oor die bul en die hout uit.” Hulle het so gemaak.

34. Nadat hulle al die water oor die bul en die hout uitgegooi het, het Elia gesê hulle moet dit weer doen. Hulle het weer water gaan haal en dit oor alles omgekeer. Elia was nog nie tevrede nie en hulle moes nog ’n keer water gaan haal.

35. Naderhand het die water van die altaar af gestroom. Die sloot om die altaar was later vol water.

36. Teen die tyd dat die aandoffer gebring moes word, het Elia by die altaar gaan staan en gebid. “Here,” het hy gesê, “U is die God van Abraham, Isak en Jakob. Laat almal vandag besef dat U die God van Israel is en dat ek aan U behoort en dat ek al hierdie dinge doen omdat U gesê het ek moet.

37. Antwoord my vandag, Here, op so ’n manier dat hierdie volk sal besef U is die ware God en dat hulle na U moet terugkeer.”

38. Skielik het die Here ’n vuur uit die hemel gestuur. Dit was so kragtig dat dit die bul, die hout en die stene heeltemal verwoes het. Dit het ook die aarde verskroei en selfs die water in die sloot in ’n oogwink laat opdroog.

39. Toe die mense dit sien, het hulle op die grond neergeval en hard uitgeroep: “Die Here is die enigste ware God! Die Here is die enigste ware God!”

40. Toe sê Elia vir die mense: “Gryp die Baälprofete. Moenie dat een wegkom nie.” Elia het hulle toe na die Kisonrivier geneem en gesorg dat hulle almal doodgemaak word.

Die reën kom!

41. Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.”

42. Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit.

43. Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk.

44. Toe hy die sewende keer weer gaan kyk, het hy iets gesien. “Meneer,” het hy gesê, “ek sien ’n wolkie so groot soos ’n man se hand. Dit kom van die see se kant af.” Elia het vir hom gesê: “Gaan sê gou vir die koning hy moet vinnig huis toe ry anders gaan hy natreën.”

45. Skielik was die hemel vol swart wolke en ’n groot donderstorm het losgebars. Agab is net betyds in sy wa terug Jisreël toe.

46. Die Here het Elia wonderlike krag gegee sodat hy sy lang kleed om sy heupe vasgebind het en tot by die afdraaipad na Jisreël toe voor Agab se wa uit gehardloop het.