hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19 Die Boodskap (DB)

Elia vlug vir Isebel

1. Agab het vir sy vrou Isebel vertel wat Elia gedoen het en hoe hy al die Baälprofete doodgemaak het.

2. Isebel was woedend. Sy het toe vir Elia ’n boodskap gestuur: “As ek jou nie binne 24 uur doodmaak soos jy die Baälprofete doodgemaak het nie, moet die gode my maar laat sterf.”

3. Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda.

4. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.”

5. Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.”

6. Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak.

7. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.”

8. Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap.

Die Here praat met Elia

9. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?”

10. Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.”

11. “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie.

12. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister.

13. Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan. ’n Stem het hom gevra: “Elia, wat maak jy hier?”

14. Hy het geantwoord: “Here, U ken my. My hele lewe lank dien ek met groot ywer nog net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare waar U aanbid word, vernietig en al u profete vermoor. Nog net ek het oorgebly en nou soek hulle my lewe ook. Dit is waarom ek besluit het om te vlug.”

15. “Gaan terug,” het die Here vir Elia gesê. “Op pad moet jy deur die woestyn tot by Damaskus gaan en daar moet jy vir Gasael as die nuwe koning van Aram aanwys.

16. Verder moet jy na Jehu, die seun van Nimsi, gaan soek en hom met olie salf as teken dat hy die nuwe koning van Israel sal wees. Dan moet jy na Elisa seun van Safat uit Abel-Megola toe gaan. Hy is jou opvolger en jy moet hom ook salf as teken dat hy by jou gaan oorneem.

17. “Hierdie drie persone sal die ontroue Israel straf. Wie van Gasael ontsnap, sal deur Jehu doodgemaak word. En wie Jehu ontglip, sal met Elisa te doen kry.

18. Sewe duisend gelowiges sal egter oorbly. Dit is hulle wat nie die knie voor Baäl gebuig en nie sy beeld gesoen het nie.”

19. Elia het Elisa raakgeloop waar hy op die land besig was om te ploeg. Daar was twaalf spanne osse wat geploeg het. Elisa het saam met die twaalfde span geloop. Elia het tot by hom gestap, sy mantel om Elisa gesit en toe verder geloop.

20. Elisa het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop. “Meneer,” het hy gesê. “Meneer, asseblief, wag net ’n rukkie. Ek wil net my pa en ma gaan groet en dan is ek nou-nou terug.” “Dit is goed so,” het Elia gesê. “Het ek enigiets aan jou gedoen?”

21. Toe Elisa terugkom, het hy al die osse doodgemaak en ’n groot vuur gemaak. Hy het al die vleis gebraai en dit toe vir die werkers en hulle gesinne gegee. Na die groot afskeidsete is Elisa saam met Elia daar weg. So het Elisa Elia se helper geword.