hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 4 Die Boodskap (DB)

Salomo se hoofamptenare

1. Salomo was koning oor die hele Israel.

2. Sy hoofamptenare se name was: Asarja seun van Sadok was hoëpriester.

3. Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was staatsekretarisse; Josafat seun van Agilud was die hoofamptenaar.

4. Benaja seun van Jojada was die leërhoof; Sadok en Abjatar was priesters.

5. Asarja seun van Natan was hoof van die streeksbestuurders; Sabud seun van Natan was koninklike raadgewer.

6. Agisar was paleisopsigter; Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid.

Salomo se streeksbestuurders

7. Salomo het twaalf streeksbestuurders vir die hele Israel aangestel. Hulle moes sorg dat elke distrik sy beurt kry om die koning en sy huishouding ’n maand lank te onderhou.

8. Die volgende is die name van die twaalf bestuurders en die streke waarvoor hulle verantwoordelik was: Ben-Gur vir die Efraimsberge.

9. Ben-Deker vir Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan.

10. Ben-Gesed vir Arubbot, wat ook Soko en die hele Gefer-streek ingesluit het.

11. Ben-Abinadab was met Salomo se dogter Tafat getroud en hy was vir die hele berggebied van Dor verantwoordelik.

12. Baäna seun van Agilud vir Taänak, Megiddo en Bet-San wat aan Saretan onderkant Jisreël grens; die hele gebied van Bet-San af tot by Abel-Megola en tot anderkant Jokmoam.

13. Ben-Geber vir Ramot in Gilead en die dorpies in Gilead wat aan die Jaïr-familie, afstammelinge van Manasse, behoort het; asook die Argob-gebied in Basan, 60 groot stede met mure rondom en poortgrendels van brons.

14. Aginadab seun van Iddo vir Maganajim.

15. Agimaäs was met nog ’n dogter van Salomo, Basemat, getroud en hy was vir Naftali verantwoordelik.

16. Baäna seun van Gusai vir Aser en Alot.

17. Josafat seun van Paruag vir Issaskar.

18. Simeï seun van Ela vir Benjamin.

19. Geber seun van Uri vir die Gilead-streek, wat vroeër deur die Amoritiese koning, Sihon en die koning van Basan, Og, regeer is. Vir hierdie hele streek was daar net een bestuurder.

Voorspoed tydens Salomo se regering

20. Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand van die see. Hulle het geëet en gedrink en was baie gelukkig.

21. Salomo het oor al die nasies vanaf die groot Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en tot by die Egiptiese grens regeer. Hierdie nasies het almal belasting betaal en was aan Salomo getrou.

22. Salomo se huishouding en personeel se daaglikse kosgebruik was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel,

23. tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

24. Salomo het oor die hele land wes van die Eufraatrivier regeer, vanaf Tifsag by die Eufraat tot so ver wes as Gasa. Al die konings wes van die Eufraat was deel van Salomo se koninkryk. En Salomo het in vrede geleef met al die omliggende volke.

25. So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad.

26. Salomo het 40 000 stalle vir die perde van sy strydwaens gebou en 12 000 vir sy ryperde.

27. Elkeen van Salomo se twaalf streeksbestuurders het ’n beurt gekry om ’n maand lank kos aan die koning en al sy baie amptenare te voorsien.

28. Streeksbestuurders moes ook vir die ryperde en trekperde se gars en hooi sorg. Hulle moes dit daar gaan aflaai waar die mense dit nodig gehad het.

Salomo se wysheid

29. Die Here het Salomo gehelp om goed te regeer en om die land met wysheid te bestuur. Sy kennis van landsake het geen gelyke in die wêreld gehad nie.

30. Salomo was slimmer en wyser as al die slimkoppe van die Ooste of Egipte.

31. Hy was selfs slimmer as Etan die Esragiet, asook Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Al die omliggende lande het van Salomo se wysheid gehoor en hy het al hoe bekender geword.

32. Hy het meer as 3 000 spreuke gemaak en 1  005 liedere gekomponeer.

33. Hy het gedigte oor bome en plante gemaak en oor alles geskryf, van die seders van die Libanon tot die hisop wat op die mure groei. Oor diere, voëls, reptiele en visse het hy graag gepraat.

34. Oor die hele wêreld het mense van Salomo se wysheid gehoor en hulle het kom luister. Konings oor die hele wêreld het vir hom geskenke gestuur.