hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14 Die Boodskap (DB)

Oordeel wag!

1. In dié tyd het Jerobeam se seun Abia baie ernstig siek geword. Sy toestand het dag vir dag versleg.

2. Hy het toe sy vrou geroep en vir haar gesê: “Vermom jou en sorg dat niemand jou herken nie. Gaan dan Silo toe, want die profeet Agija bly daar. Hy is die man wat destyds gesê het ek sal die koning van Israel word.

3. Vat tien brode, koeke en ’n kruik met heuning vir die man saam. En vra hom wat ons seun makeer en of hy gesond sal word.”

4. Jerobeam se vrou is Silo toe en het die man besoek. Hy was al baie oud en al amper blind.

5. Die Here het egter vir Agija gesê dat Jerobeam se vrou op pad was en dat sy hom oor hulle siek kind kom sien. Hy het ook vir Agija gesê hoe hy Jerobeam se vrou moet antwoord. Toe die vrou uiteindelik in Silo aankom, het sy haar as iemand anders voorgedoen.

6. Toe Agija haar by die deur hoor, het hy gesê: “Kom in. Ek weet wie jy is. Jy is Jerobeam se vrou. Waarom maak jy of jy iemand anders is? Ek het baie slegte nuus vir jou.

7. Gaan vertel vir Jerobeam wat die Here vir hom sê: ‘Van almal het Ek jou gekies. Ek het jou koning van Israel gemaak.

8. Ek het die grootste deel van Dawid se koninkryk gevat en vir jou gegee. Tog is jy nie ’n man soos Dawid nie. Hy het My liefgehad en my wil met oorgawe gedoen.

9. Maar jy het erger dinge gedoen as enigiemand voor jou. Jy het die rug vir My gedraai. Daarom het jy My verneder deur beelde van ander gode te maak.

10. Met jou en jou familie gaan daar iets verskrikliks gebeur. Alle mans, oud en jonk, sal uitgewis word. Ek sal Jerobeam se familie wegvee soos ’n mens gemors wegvee.

11. Dié wat in die stad sterf, sal deur honde verskeur word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur die voëls opgevreet word. Alles sal gebeur omdat Ek dit sê.”’

12. Agija het toe vir Jerobeam se vrou gesê: “U moet onmiddellik huis toe gaan. Sodra u die stad binnegaan, sal u seun sterf.

13. Almal sal hartseer wees en oor u seun rou. Die Here het net in hom iets goeds gevind, en daarom sal hy ook die enigste van Jerobeam se kinders wees wat ooit in ’n familiegraf begrawe sal word.

14. “Die Here gaan iemand anders as koning aanstel en hy sal Jerobeam se koningskap beëindig.

15. Die Here gaan Israel so slaan dat hulle sal bewe soos ’n riet in ’n waterstroom. Dan sal Hy Israel wegvat van hierdie goeie grond wat Hy lank gelede aan hulle voorvaders gegee het. Hy sal hulle na ’n ver land anderkant die Eufraatrivier wegvoer. Alles sal presies so gebeur omdat hulle die Here verneder het deur beelde van Asjera te maak.

16. Omdat Jerobeam sy mense verkeerde dinge laat doen het, sal die Here die rug vir Israel draai.”

17. Jerobeam se vrou het na Tirsa toe teruggegaan. Net toe sy by die paleis instap, het haar kind gesterf.

18. Soos die Here deur Agija gesê het, het die volk hom begrawe en oor die seun gerou.

19. Alles oor Jerobeam se regering en sy oorloë is opgeteken in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings.

20. Jerobeam het 22 jaar regeer. Hy het gesterf en is by sy familie begrawe. Sy seun Nadab het hom opgevolg.

Rehabeam se koningskap word beoordeel

21. Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon.

22. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle.

23. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring.

24. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon.

Egipte val Juda aan

25. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk.

26. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het.

27. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak.

28. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit.

29. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken.

30. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak.

31. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.