hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3 Die Boodskap (DB)

Salomo trou met die farao

1. Salomo het ’n ooreenkoms met die koning van Egipte gesluit deur met sy dogter te trou. Hy het sy nuwe vrou Jerusalem toe gebring en haar in die Dawidstad laat woon. Salomo se paleis, die tempel en die stadsmure was toe nog nie klaar gebou nie.

2. Omdat daar nog nie ’n tempel vir die Here was nie, het die volk op verskillende plekke in die land geoffer.

3. Salomo was lief vir die Here en het gemaak soos sy pa gesê het. Hy het die Here se wil gedoen en was getrou aan Hom. Salomo moes egter ook soos die volk op verskillende plekke vir die Here offer.

4. Op ’n keer het hy in Gibeon gaan offer, omdat dit die bekendste offerplek was. Salomo het 1 000 brandoffers daar op die altaar geoffer.

5. Daardie nag het die Here met Salomo in ’n droom gepraat en vir hom gevra: “Wat kan Ek vir jou gee?”

6. Salomo het gesê: “Here, U was lief vir my pa en hy was ook lief vir U. My pa was getrou aan U; hy wou net die regte dinge doen en hy wou U met sy hele hart dien. En U was goed vir my pa deur hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg en wat vandag oor Israel regeer.

7. Here, U het my in die plek van my pa koning gemaak, maar ek weet nie altyd hoe om goed te regeer nie, want ek is nog jonk.

8. Ek moet oor ’n volk regeer wat U vir Uself gekies het, en daar is so baie van hulle dat ek hulle nie eens kan tel nie.

9. Daarom vra ek u wysheid om goed oor u mense te regeer. Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hoe kan ek sonder u hulp hierdie groot volk van U regeer?”

10. Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het. Hy sê toe vir hom:

11. “Jy het nie ’n lang lewe of baie geld of die ondergang van jou vyande gevra nie, maar die wysheid om goed te regeer.

12. Ek sal alles vir jou gee. Ek sal jou trouens baie meer wysheid en insig gee as wat enigeen voor jou gehad het, of selfs na jou sal hê.

13. Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie.

14. As jy soos jou pa na My luister en my wil doen, sal Ek jou ook baie lank laat leef.”

15. Salomo het wakker geword en besef die Here het in ’n droom met hom gepraat. Hy is reguit Jerusalem toe en het daar voor die ark van die ooreenkoms aanmekaar geoffer. Hy was so bly en gelukkig dat hy uit dankbaarheid talle offers vir die Here gebring het. Toe hy daarmee klaar was, het hy ’n groot fees vir al sy amptenare gehou.

Salomo se raad aan twee prostitute

16. Op ’n dag het twee prostitute na Salomo toe gekom en hulle probleem aan hom vertel.

17. Eers het die een prostituut haar kant van die saak gestel en gesê: “U Majesteit, ek en hierdie vrou woon saam in dieselfde huis. My seun is in die huis gebore terwyl hierdie vrou by was.

18. Twee dae na my seun se geboorte het sy self ’n seun in wêreld gebring. Slegs ons twee was in die huis toe die kinders gebore is. Niemand was by ons toe dit gebeur het nie.

19. Een nag het dié vrou per ongeluk in haar slaap op die kind gelê en hy het versmoor.

20. Gedurende die nag het sy toe stil-stil opgestaan en die slapende kind langs my opgetel en na haar bed toe geneem. Toe het sy die dooie kind gevat en hom langs my in die bed gesit.

21. Vroeg die volgende oggend het ek wakker geword om my kind te voed. Dit is toe dat ek sien hy is dood. Ek het stip na die kind gekyk en besef dit is nie my seun nie.”

22. Die ander vrou het dit ontken en gesê: “Nee, jy is verkeerd. Die kind wat leef, is myne en die dooie een is joune.” So het hulle voor die koning staan en stry.

23. Salomo het goed geluister en toe vir homself gesê: “Die een sê: ‘Die kind wat leef, is myne,’ terwyl die ander een weer sê: ‘Dit is nie waar nie. Jou kind is dood. Dit is myne wat nog leef.’”

24. Salomo het vir ’n swaard gevra en toe gesê:

25. “Sny die een wat leef, middeldeur en gee aan elke vrou ’n helfte.”

26. Toe die regte ma dit hoor, het haar hart inmekaargekrimp. Sy was so lief vir die kind dat sy onmiddellik vir die koning gesê het: “Asseblief, U Majesteit, asseblief. Moet tog net nie die kind doodmaak nie. Laat sy dan maar die kind kry, maar moet hom tog net nie doodmaak nie.” Die ander vrou het weer gesê: “Sny die kind in die middel deur sodat nie een van ons iets van hom sal hê nie.”

27. Salomo het toe gesê: “Stop! Moenie die kind doodmaak nie! Gee hom vir die eerste vrou, want sy is die kind se regte ma.”

28. Toe die mense hiervan hoor, was hulle diep beïndruk en het groot respek vir Salomo gehad. Hulle het gesê die Here het hom insig en wysheid gegee om regverdig in hofsake te oordeel.