hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 13 Die Boodskap (DB)

Die altaar van Jerobeam val inmekaar

1. Die Here het ’n profeet uit Juda na Israel gestuur. Toe hy Bet-El binnekom, het Jerobeam net by die altaar gaan staan en die offervuur aangesteek.

2. Die profeet het toe op bevel van die Here vir die altaar gesê: “Altaar, die Here sê daar sal op jou nog verskriklike dinge gebeur. Uit Dawid se nageslag sal iemand gebore word met die naam Josia. En op jou sal hy die priesters doodmaak wat hier geoffer het. Op jou sal hy ook die bene van baie mense verbrand.”

3. Die profeet het verder gesê: “Iets ergers gaan nog gebeur. Dit sal die teken wees dat die Here gepraat het. Hierdie altaar sal in ’n klomp stukke breek en die as van al die offers sal oral deur die wind verstrooi word.”

4. Toe Jerobeam dit hoor, was hy woedend en het gesê: “Gryp die man.” Op daardie oomblik het die koning se hand heeltemal styf geword. Hy kon dit nie weer terugtrek nie.

5. Skielik het die altaar ineengestort en die as van die offers is oral versprei, net soos die profeet op bevel van die Here gesê het.

6. Jerobeam het benoud vir die profeet gesê: “Vra asseblief die Here jou God om my hand gesond te maak.” Die profeet het die Here gesmeek en die koning se hand was weer normaal.

7. Jerobeam was baie bly en het vir die profeet gesê: “Kom saam met my huis toe. Daar kan jy ’n bietjie rus en ek wil sommer ook vir jou ’n geskenk gee.”

8. “Nee, Meneer,” het die profeet gesê, “al gee u my ook die helfte van u besittings, ek gaan nie saam met u nie. Ek mag hier niks eet of drink nie.”

9. Die profeet het presies gesê wat die Here vir hom gesê het. Hy moes niks van die koning vat nie en hy moes ook met ’n ander pad teruggaan huis toe.

10. Hy is toe met ’n ander pad van Bet-El af weg.

Die tragiese dood van God se boodskapper

11. Daar was ook ’n ander en ouer profeet in Bet-El. Sy seuns het hom alles vertel wat die profeet uit Juda gesê en gedoen het.

12. “Watter pad het die man gevat?” het die ouer profeet gevra. Sy seuns het hom so vaagweg die pad beduie.

13. Die ouer profeet se seuns moes dadelik vir hom ’n donkie opsaal en hy is toe agter die man uit Juda aan.

14. Na ’n ruk het die ouer profeet hom onder ’n groot boom gekry. “Is jy die man van God uit Juda?” het die ouer man gevra.“Ek is,” het hy gesê.

15. “Kom saam met my huis toe. Ek sal jou lekker kos gee en jy kan ook ’n bietjie rus.”

16. “Ongelukkig kan ek nie, Meneer,” het die profeet uit Juda gesê. “Ek mag nie saam met u huis toe gaan en by u eet nie.

17. Die Here het my uitdruklik belet om enigiets hier te eet of te drink. Ek moes selfs nie eers met dieselfde pad teruggaan as wat ek gekom het nie.”

18. Maar die ouer profeet het hom geantwoord: “Komaan, ek is ook ’n profeet, nes jy, en die Here het vir my gesê om jou saam te vat huis toe en vir jou kos te gee.” Die ou man het egter gelieg.

19. Die man uit Juda is toe saam met hom daar weg en het saam met die ouer profeet by sy huis geëet en gedrink.

20. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het die Here skielik deur die ouer profeet met die man uit Juda gepraat.

21. “Jy het verkeerd gedoen,” het die Here gesê.

22. ‘‘Jy het nie gedoen wat Ek vir jou gesê het nie. Jy het sommerso saam met hierdie man teruggegaan en in sy huis geëet en water gedrink. Jy het jou deur die ou man laat mislei. Binnekort sal jy sterf en jy sal nie by jou mense begrawe word nie.”

23. Nadat hulle klaar geëet het, het die ou man die profeet uit Juda se donkie opgesaal en hy is daar weg.

24. Op pad het ’n leeu hom gevang en doodgebyt. Die Judese profeet het dood langs die pad gelê terwyl die donkie en die leeu langs sy lyk gestaan het.

25. Mense wat verbygestap het, kon hulle oë nie glo nie. Langs die dooie man het die leeu en die donkie rustig gestaan. Hulle het dit toe oral in Bet-El loop en vertel.

26. Toe die ouer profeet daarvan hoor, het hy gesê: “Dit is mos die man uit Juda wat nie gedoen het wat die Here vir hom gesê het nie. Vir sy straf het ’n leeu hom nou doodgemaak. Dit het gebeur soos die Here vir hom gesê het.”

27. Hy het onmiddellik sy seuns beveel om vir hom ’n donkie op te saal.

28. Na ’n ruk het hy by die plek aangekom. Die leeu en die donkie het nog steeds langs die dooie man gestaan. En die leeu het nie die man se liggaam verbrysel of die donkie opgevreet nie.

29. Die ou man het die lyk op sy donkie gelaai en Bet-El toe gebring. Hy wou oor hom rou en hom begrawe.

30. Hy het die man uit Juda in sy eie graf begrawe en hulle het oor hom getreur.

31. Na ’n ruk het die ouer profeet vir sy seuns gesê: “Wanneer ek die dag doodgaan, moet julle my in dieselfde graf begrawe as die man uit Juda,

32. want sy woorde oor die altaar in Bet-El en al die ander aanbiddingsplekke in Samaria sal nog waar word. Alles wat hy gesê het, het van die Here gekom.”

33. Jerobeam het voortgeleef asof niks gebeur het nie. Hy het oral altare gebou en sommer enigiemand wat hy wou daar as priester aangestel.

34. Jerobeam het verkeerd gedoen. Dit sou tot die ondergang van sy koninkryk lei.