hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 20 Die Boodskap (DB)

Agab word deur Ben-Hadad gedreig

1. Ben-Hadad van Sirië het besluit om Samaria aan te val en het toe al sy troepe opgeroep. Twee en dertig ander konings het saamgegaan en al hulle perde en waens saamgebring. ’n Groot mag het na Samaria opgeruk en hulle het die stad begin beleër.

2. Na ’n ruk het Ben-Hadad ’n boodskap na koning Agab gestuur.

3. “Gee my al jou goud en silwer asook jou mooiste vroue en kinders,” het Ben-Hadad beveel.

4. Agab het hom geantwoord: “Dit is reg so, Meneer. Alles wat ek het, kan u kry.”

5. ’n Dag of wat later het Ben-Hadad weer ’n boodskap gestuur. “Ek het intussen van plan verander,” het hy vir Agab gesê. “Ek het gesê jy moet al jou goud en silwer, en al jou vroue en kinders vir my gee.

6. Jy hoef dit nie meer te doen nie. Môreoggend hierdie tyd sal ek my mense stuur en hulle sal dit sommer self kom haal. Hulle sal jou huis, asook al die huise van jou amptenare, deursoek en alles vat wat hulle wil hê.”

7. Agab was baie ontsteld hieroor. Hy het die land se leiers bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Ben-Hadad wil ons heeltemal vernietig. Eers het hy net die vroue en kinders sowel as die goud en silwer gevra. Ek het ingestem, maar nou het hy sy deuntjie verander. Nou wil hy alles kom vat.”

8. “Moenie toegee nie! Moet u nie aan hom steur nie,” het die leiers en die mense gesê.

9. Agab het toe vir die boodskappers van Ben-Hadad gesê: “Sê vir die koning ek weier. Ek sal hom alles gee wat hy vra, maar hy gaan nie alles hier kom vat nie.” Die boodskappers is toe daar weg.

10. Ben-Hadad was kwaad en het nog ’n boodskap gestuur: “Luister hier, Agab, ek het genoeg soldate dat die stof van Samaria nie genoeg sal wees om hulle hande mee te vul nie. As ek hulle nie bring nie, kan die gode my maar doodmaak.”

11. Agab het hom geantwoord: “Luister, Ben-Hadad, hier by ons is daar ’n spreekwoord wat sê dat niemand wat die wapen opneem, moet dink hy het reeds gewen nie.”

12. Terwyl Ben-Hadad en die ander konings nog in hulle tente gelê en drink het, het hy Agab se boodskap gekry. Hy het onmiddellik sy soldate beveel om vir die aanval teen die stad gereed te maak.

Agab wen

13. Intussen het ’n profeet na koning Agab toe gekom en gesê: “Meneer, die Here sê u hoef nie bang te wees vir die rumoerige skare daaronder nie. Hy sal u vandag laat wen en u sal besef dat die Here die enigste God is.”

14. “Hoe moet die aanval verloop en wie moet die geveg begin?” het Agab gevra. “Stuur eers die jong soldate van die streekshoofde in,” het die profeet gesê. “Wie moet dan gaan?” het Agab gevra. “Dan volg u met die groot leërmag,” het die profeet gesê.

15. Agab het toe eers die 232 jong soldate van die streekshoofde opgeroep en daarna ’n volksleër van 7 000 man saamgestel.

16. Die aanval het teen die middag begin terwyl Ben-Hadad en sy bondgenote dronk in die tente gelê het.

17. Eers het die jong soldate uit Samaria getrek en die voorste gevegslinie gevorm. Dit was toe dat Ben-Hadad se verkenners onraad bemerk en vir hom gaan sê: “’n Groep soldate het uit Samaria getrek en hulle is op pad na ons toe.”

18. “Gaan vang hulle,” het Ben-Hadad dronk en deurmekaar gesê. “Of hulle nou kom om te veg of om vrede te sluit, gaan vang hulle en bring hulle lewendig hiernatoe.”

19. Intussen het die groot volksleër ook uit die stad begin beweeg en agter die jong soldate stelling ingeneem.

20. Toe het die geveg begin. Agab se manne het uitstekend geveg en hulle teëstanders man vir man uitgewis. Die Arameërs moes naderhand vlug. Israel het hulle agternagesit. Ben-Hadad was gelukkig om op ’n perd saam met ’n klompie ruiters weg te kom.

21. Alles was gou verby. Toe Agab by die gevegsterrein aankom, het hy ’n groot klomp perde en waens van die vyand gevat. So het Agab op dié dag ’n oorwinning oor die Arameërs behaal.

22. Die profeet het weer vir Agab gesê: “Vandag het dit baie goed gegaan, maar moenie te gerus wees nie. Teen volgende jaar se lente sal die Arameërs weer kom. Beplan dus baie goed en versterk u leërmag.”

23. Koning Ben-Hadad se manne het hom ook raad gegee: “Ons moet liewer in die vlaktes veg,” het hulle gesê. “Israel het gewen omdat hulle ’n berggod aanbid. As ons op die vlaktes veg, sal dit baie beter gaan.

24. Vervang onmiddellik die 32 konings en stel veggeneraals in hulle plek aan.

25. Bou vir u ’n groot weermag op. Kry net soveel soldate, perde en waens as wat u in die slag teen Israel verloor het. Laat ons dan op die vlaktes gaan veg sodat ons kan wen.” Koning Ben-Hadad het na hulle geluister.

Nog ’n oorwinning oor

26. Die volgende jaar het Ben-Hadad toe sy groot leërmag opgeroep om teen Israel te gaan veg. Hulle het tot by die vlaktes van Afek getrek.

27. Die leër van Israel het bymekaargekom en hulle vir die slag voorberei. Hulle het na Afek toe getrek en daar in twee groepe verdeel. Elke groep het teenoor die Arameërs stelling ingeneem. Hulle was klein teenoor die magtige Aramese leër en het soos twee klein troppe bokke gelyk.

28. ’n Profeet het vir Agab gaan sê: “Luister mooi wat die Here vir u sê: ‘Die Arameërs sê mos dat Ek ’n berggod is en nie ’n god wat op die vlaktes iets kan doen nie. Daarom gee ek vandag hierdie rumoerige spul Arameërs in jou hand. Jy sal vandag weer besef dat Ek werklik die Here is.’”

29. Sewe dae lank het die twee magte net vir mekaar gelê en loer. Niks het gebeur nie, maar op die sewende dag het die groot geveg toe begin. Israel het vinnig toegeslaan en op die een dag 100 000 Aramese soldate doodgemaak.

30. Toe die Arameërs besef hulle gaan die oorlog verloor, het hulle na Afek toe gevlug. Daar het ’n groot muur op hulle omgeval en ’n verdere 27 000 soldate gedood. Ben-Hadad was ook in Afek en het in groot angs van kamer tot kamer gevlug.

31. Na ’n ruk het Ben-Hadad se amptenare vir hom gesê: “Meneer, so kan dit nie aanhou nie. Gee oor. Ons het gehoor die koning van Israel is ’n genadige mens. Dalk sal hy ons lewe spaar. Kom ons maak swart rousakke om ons heupe vas en draai toue om ons nek. Dan stap ons oor na die koning van Israel toe.”

32. Hulle het toe ’n rousak om die heupe vasgemaak, toue om die nek gedraai en so is hulle na Agab toe. Hulle het vir hom gesê: “U Majesteit, u dienskneg Ben-Hadad smeek dat u sy lewe sal spaar.” “Leef hy dan nog? Hy is vir my soos ’n broer,” het Agab geantwoord.

33. Ben-Hadad se manne het op die regte oomblik gewag en toe hulle die woordjie “broer” hoor, het hulle gesê: “Ben-Hadad is werklik u broer!” Agab het geantwoord: “Gaan haal hom.” Hulle het Ben-Hadad gaan haal en Agab het hom in sy wa laat klim.

34. Ben-Hadad het verleë gesê: “Ek sal al die stede teruggee wat my pa van u pa, Omri, geneem het. U kan ook weer in Damaskus kom handel dryf soos wat my pa in Samaria gedoen het. As u my vrylaat, sal ek graag met u ’n ooreenkoms wil sluit voor ek vertrek.”

’n Profeet kondig Agab se vonnis aan

35. ’n Man by een van die profeteskole het in opdrag van die Here vir een van sy vriende gesê: “Slaan my totdat die bloed loop.” Sy vriend het geweier.

36. Daarop sê die man vir sy vriend: “Jy het nou ’n verkeerde ding gedoen. Omdat jy nie na die Here geluister het nie, sal ’n leeu jou doodbyt.” Die vriend was skaars weg toe ’n leeu hom vang en verskeur.

37. Die man van die profeteskool het toe iemand anders gevra om hom te slaan. Dié het hom so hard geslaan dat die bloed geloop het.

38. Die profeet het ’n groot verband om sy kop gedraai sodat niemand hom herken het nie. Toe het hy langs die pad gaan staan en vir Agab gewag om verby te kom.

39. Toe Agab verbykom, het die profeet vir hom gesê: “U Majesteit, terwyl ek nog so teen Ben-Hadad geveg het, het een van u offisiere ’n gevangene na my toe gebring. Die offisier het gesê ek moet hom oppas en as hy sou wegkom, sal ek óf moet sterf óf ’n boete van ’n paar duisend stukke silwer moet betaal.

40. Wel, terwyl ek besig was, het die gevangene ontsnap.” Agab het geïrriteerd geantwoord: “Jy het mos nou ’n vonnis oor jouself uitgespreek. Jy moet nou maar die gelag betaal.”

41. Op daardie oomblik het die profeet die verband van sy kop afgeruk. Agab het gesien dat hy eintlik ’n profeet was.

42. Die profeet het woedend vir Agab gesê: “Luister wat die Here vir jou sê: ‘Jy moes Ben-Hadad doodgemaak het. Maar toe het jy hom vandag vrygelaat. Jy was ongehoorsaam. Daarvoor sal jy met jou lewe betaal, en jou mense met hulle lewe.’”

43. Agab is weer terug na Samaria toe, maar hy was bedruk en kwaad.