hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16 Die Boodskap (DB)

Die regering van Baesa

1. Die Here het met die profeet Jehu seun van Hanani gepraat, en Jehu het die boodskap aan Baesa gaan oordra.

2. “Jy was niks, absoluut niks in my oë nie. Ek het jou uit die stof opgetel,” het die Here vir Baesa gesê. “Nogtans het Ek jou koning van Israel gemaak. Jy moes my mense lei, maar jy het Jerobeam se pad geloop en hulle verkeerde dinge laat doen. Hulle sonde het My baie kwaad gemaak.

3. Ek sal daarom met jou maak soos met Jerobeam. Jou hele familie sal uitgewis word.

4. Enigeen wat in die stad sterf, sal deur die honde opgevreet word en dié wat in die veld doodgaan, sal deur aasvoëls verslind word.”

5. Alles wat Baesa gedoen het, kan ’n mens in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan naslaan.

6. Baesa is dood en in Tirsa begrawe. Sy seun Ela het hom opgevolg.

7. Die profeet Jehu het vir Baesa van die Here se planne met hom en sy familie vertel. Baesa se sonde het die Here kwaad gemaak. Hy het dieselfde pad as Jerobeam geloop. Boonop het hy Jerobeam se familie op ’n wrede manier vermoor. Baesa en sy familie sou ook uitgewis word.

Ela word die koning van Israel

8. In die 26ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Ela die seun van Baesa koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gebly en twee jaar daar regeer.

9. Simri, ’n senior offisier en die hoof van ’n groot deel van die oorlogswaens, wou Ela uit die weg ruim. Hy het net vir die regte oomblik gewag. Op ’n dag was Ela in die huis van Arsa, die hoof van die paleis. Ela het te veel gedrink en was dronk.

10. Simri het toe by die huis ingebars en Ela op die plek vermoor. So het Simri koning van Israel geword. Dit het gebeur in die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering.

11. Simri het onmiddellik Baesa se hele familie begin uitmoor. Al die mans, asook hulle vriende, is uitgewis.

12. Dit het gebeur presies soos die Here dit deur die profeet Jehu gesê het. Simri het gesorg dat die hele Baesafamilie doodgemaak word.

13. Baesa en sy seun Ela se talle afgode was ’n groot skande voor die Here, die God van Israel. En hulle het Israel ook verlei om ander gode te aanbid.

14. Alles wat Ela gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings opgeteken.

Omri se opstand teen Simri

15. In die 27ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Simri koning van Israel geword. Hy het in Tirsa gewoon en het net sewe dae daar regeer.

16. Terwyl Israel se troepe onder leiding van Omri die stad Gibbeton in die Filistynse gebied beleër het, het hulle van Simri se optrede gehoor. Hulle kon nie glo dat Simri nou koning was nie en het sommer daar op die plek vir Omri koning van Israel gemaak.

17. Omri en die troepe is onmiddellik daar weg en het Tirsa gaan beleër.

18. Toe Simri sien hy gaan die stryd verloor, het hy hom in die binneste deel van die paleis gaan toesluit en die gebou aan die brand gesteek. Hy het in die vuur doodgebrand.

19. Simri het ’n wrede dood gesterf en ’n verskriklike prys vir sy sondes betaal. Soos Jerobeam het hy met al sy afgode die Here oneer aangedoen. Hy het Israel ook baie verkeerde dinge laat doen.

20. Meer inligting oor al Simri se optrede, asook sy sameswering teen Ela, kan in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings nageslaan word.

21. Die mense van Israel was verdeel. Die helfte wou Tibni, die seun van Ginat, hierna as koning hê, terwyl ander sterk ten gunste van Omri was.

22. Gaandeweg het die Omrigroep sterker geword en na Tibni se skielike dood het Omri koning van die hele Israel geword.

Omri se regering

23. In die 31ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Omri koning van die hele Israel geword. Hy het ses jaar in Tirsa regeer, maar hy was altesaam twaalf jaar lank koning van Israel.

24. Op ’n dag het hy Samariaberg vir 68 kilogram silwer van Semer gekoop. Hy het die berg heeltemal herbou en dit Samaria genoem ter ere van die vorige eienaar, Semer.

25. Omri het baie verkeerde dinge voor die Here gedoen. Hy was selfs erger as sy voorgangers.

26. Soos Jerobeam voor hom het Omri ook die Here se Naam groot oneer aangedoen. Hy het Israel verlei om ander gode te dien en die Here, die God van Israel, te vergeet.

27. Oor alles wat Omri gedoen het en sy dapper optrede kan ’n mens verder in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings gaan lees.

28. Omri het gesterf en hulle het hom in Samaria begrawe. Sy seun Agab het hom opgevolg.

Agab word koning van Israel

29. In die 38ste jaar van koning Asa van Juda se regering het Agab die seun van Omri koning geword. Hy het in Samaria gewoon en 22 jaar daar regeer.

30. Agab was selfs nog erger as sy voorgangers, want hy het die allerverskriklikste goed gedoen.

31. Dit was al erg genoeg dat Agab soos Jerobeam gemaak het, maar toe loop trou hy ook nog met Isebel. Sy was die dogter van Etbaäl, die koning van Sidon. Agab het toe voor Baäl gebuig en hom aanbid.

32. Hy het selfs in Samaria ’n tempel vir Baäl gebou en ook ’n altaar ter ere van hom opgerig.

33. Verder het hy ’n beeld van die godin Asjera gemaak. Agab was lief vir al hierdie afgode. Hy het die Here soos nog geen ander koning voor hom beledig nie.

34. In Agab se dae het Giël, ’n man uit Bet-El se omgewing, die stad Jerigo herbou. Nadat die fondamente gelê is, het Giël se oudste seun, Abiram, skielik gesterf. Toe hy met die poorte klaar was, is sy jongste, Segub, onverwags dood. Lank gelede al het die Here dit deur Josua die seun van Nun voorspel.