hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7 Die Boodskap (DB)

Salomo bou vir hom ’n paleis

1. Salomo het vir hom ’n paleis gebou waaraan hy dertien jaar lank gewerk het.

2. Verder het hy ook nog die Libanonsbosgebou opgerig. Dit was 50 meter lank, 25 meter breed en vyftien meter hoog. Die boonste deel van die gebou het op vier rye sederhoutpilare gerus. Bo-op die pilare was daar ook balke van sederhout.

3. Daar was ook ’n plafon wat gerus het op 45 pilare, vyftien in ’n ry.

4. In elkeen van die twee symure was daar drie rye vensters. Al die vensters was teenoor mekaar.

5. Al die deuropeninge en die vensters was reghoekig. Die deure en die vensters is so gerangskik dat hulle teenoor mekaar was.

6. Salomo het ook ’n pilaargang gebou wat 25 meter lank en vyftien meter breed was. Voor die pilaargang was daar ’n portaal met ’n dak wat ver oor die portaal gesteek het.

7. Dan was daar ook nog die troonsaal. Dit was die plek waar Salomo al die sake aangehoor en uitspraak gelewer het. Die hele vertrek was van bo tot onder met sederhout uitgevoer.

8. Salomo se woonhuis is teen die agterste muur van die troonsaal gebou. Dit was min of meer dieselfde grootte as die troonsaal en het dieselfde afwerking as die ander geboue gehad. Vir die farao se dogter met wie hy getroud was, het hy ’n huis volgens die plan van die troonsaal gebou.

9. Al die geboue is van die fondament tot die dak met ’n baie duursame klip gebou. Die gedeelte van die straat tot by die groot voorhof is ook met hierdie klip geplavei. Dit is vooraf in die steengroef volgens maat gekap en toe baie netjies met ’n saag aan alle kante afgewerk.

10. Die fondamente is met groot klippe van vier meter en vyf meter gebou. Hierdie duursame klippe is ook in die steengroewe gekap en voorberei.

11. Bo-op hierdie klippe is ander klippe, wat presies volgens maat gekap is, asook stroke sederhout, gesit.

12. Die mure rondom die groot voorhof het uit drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke bestaan. Die mure van die binneste voorhof van die tempel, asook die paleis se voorportaal, is op dieselfde manier gebou.

Hiram se werk aan die pilare

13. Koning Salomo het ’n man met die naam Hiram gehuur. Hy het in Tirus gebly en was ’n uitstekende vakman. Hy het veral in bronswerk gespesialiseer.

14. Hiram se pa het in Tirus gewoon, maar is vroeg dood. Hy was ook ’n bekende vakman in bronswerk. Sy ma was ’n vrou uit die stam van Naftali. Hiram was baie slim. Hy het die vaardigheid, kennis en insig gehad om enigiets uit brons te maak. Salomo het hom gehuur omdat Hiram enigiets kon doen wat hulle hom gevra het.

15. Hiram se eerste taak was om twee groot pilare uit brons te giet. Hulle was nege meter hoog en ses meter in omtrek.

16. Toe het hy twee bronsvorms van twee en ’n half meter gegiet en dit bo-op die pilare gesit.

17. Elke vorm bo-op ’n pilaar is met gevlegte kettingwerk versier.

18. Op elke bronsvorm is twee rye granate van brons gesit.

19. Die bronsvorms is in die vorm van ’n lelie gebou en elkeen was ongeveer twee meter hoog.

20. Aan die bokant van die bronsvorms was daar 200 granate in twee rye gerangskik.

21. Hiram het die twee groot bronspilare voor die ingang van die tempel opgerig. Die een aan die suidekant het hy Jakin en die een aan noordekant Boas genoem.

22. Bo-op die pilare was daar dan die bronsvorms wat soos lelies gelyk het.

Hiram se werk aan die waterbak

23. Hierna het Hiram al sy aandag aan die bronswaterbak gewy. Hierdie waterbak was heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, en met ’n omtrek van vyftien meter.

24. Net onder die waterbak se rand was daar twee rye kalbasse wat reg rondom geloop het en wat saam met die waterbak uit een stuk gegiet is.

25. Die waterbak het op twaalf bronsbeeste se rûe gerus. Drie het na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste toe gekyk.

26. Die waterbak se kante was ongeveer nege sentimeter dik. Sy rand was soos die rand van ’n beker en in die vorm van die kelk van ’n lelie. Dit kon 44 kiloliter hou.

27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en ’n half meter hoog.

28. Hy het vir elke waentjie sypanele gemaak wat die raamwerk moes bedek.

29. En op die sypanele was daar leeus, beeste en gerubs. Bo en onder die leeus en die beeste het kettinkies in reliëf gehang.

30. Elke waentjie het vier bronswiele met bronsasse gehad. Op elke waentjie was daar ’n staander waarop ’n waskom kon rus. En al die staanders is met kransies versier.

31. Elke staander het ’n ronde opening gehad waarin die waskom kon inpas. Dit was amper ’n meter diep en breed. Rondom die opening was daar allerlei graveerwerk. Die waentjies se sypanele was vierkantig en nie rond nie.

32. Die waentjies se vier wiele was onder die sypanele en die wielasse was aan die waentjie vas. Elke wiel was ’n meter hoog.

33. Die wiele was soos die wiele van ’n strydwa. Dit beteken dat hulle asse, vellings, speke en nawe alles van brons gemaak is.

34. Die vier stutte aan elke waentjie se vier hoeke is saam met die waentjie gegiet en het ’n geheel daarmee gevorm.

35. Bo-op elke waentjie was daar ’n ronde staander van 25 sentimeter. Plate aan die kante het dit toegemaak.

36. Waar daar ook al plek op hierdie syplate was, is dit met gerubs, leeus, palms en kransies versier.

37. So het Hiram toe die tien waentjies gemaak. Hy het hulle in dieselfde vorm gegiet sodat almal eenders en ewe groot was.

Al Hiram se werk

38. Hierna het Hiram tien bronswaskomme gemaak, een vir elke waentjie. Elkeen was twee meter in deursnee en kon 880 liter bevat.

39. Hy het vyf waentjies aan die suide- en vyf aan die noordekant van die tempel gesit. Die waterbak het hy in die suidoostelike hoek gesit.

40. Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. En hy het al die werk aan die tempel wat hy in opdrag van Salomo gedoen het, voltooi. Dit is wat hy gedoen het:

41. die twee bronspilare wat Boas en Jakin genoem is; die twee komvormige vorms bo-op die twee pilare; die gevlegte kettinkies op elke kapiteel;

42. die 400 brons granate wat in twee rye van 100 elk rondom elke kapiteel gerangskik is;

43. die tien waentjies; die tien waskomme;

44. die waterbak met die twaalf beeste daaronder;

45. die potte, die skoppe en die komme vir besprinkeling. Hiram het al hierdie toerusting vir die tempel in opdrag van Salomo gemaak. Hy het alles van gepoleerde brons gemaak.

46. Die koning het al hierdie toerusting by ’n gietery in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet.

47. Salomo het nooit al hierdie bronsvoorwerpe laat weeg nie, want daar was te veel. Die presiese gewig van hierdie voorwerpe is nooit vasgestel nie.

48. Salomo het ook ’n aantal voorwerpe uit goud laat maak: die altaar, die tafel vir die offerbrood;

49. die tien kandelare wat voor die binneste heiligdom gestaan het; die blomkelke, die lampe en die pithouers;

50. die bekers, die skêre, die komme vir besprinkeling, die panne vir die wierook en die vuurbakke waarmee gloeiende kole gedra is. Al hierdie voorwerpe is van suiwer goud gemaak. Verder was die skarniere van die deure na die binneste vertrek, die Allerheiligste, ook van goud, sowel as die skarniere van die tempel se voordeure.

51. Nadat koning Salomo die tempel klaar gebou het, het hy al die silwer, goue en ander voorwerpe wat sy pa, Dawid, in sy lewe versamel en aan die Here se diens gewy het, in die tempel se voorraadkamers gaan stoor.