hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 9 Die Boodskap (DB)

Die Here se belofte en dreigement

1. Nadat Salomo die tempel, sy paleis en die ander geboue opgerig het,

2. het die Here weer aan hom verskyn, presies soos destyds by Gibeon.

3. Die Here het vir hom gesê: “Ek het gehoor wat jy alles in jou gebed gevra het. Ek sal vir hierdie plek sorg, want dit is waar Ek vir altyd aanbid gaan word. Dag vir dag sal Ek dit oppas.

4. As jy My sal liefhê en met jou hele wese sal dien soos jou pa Dawid gedoen het, sal dit met jou baie goed gaan.

5. “As jy na my wil luister en my gebooie uitleef, sal Ek my belofte aan Dawid hou en sal een van sy nageslag altyd oor Israel regeer.

6. As jy of iemand uit jou nageslag My nie meer liefhet nie en julle daarom ook nie meer aan My steur nie en ander gode in my plek dien,

7. sal Ek my volk Israel van hierdie grond wat Ek aan hulle gegee het, wegjaag. Ek sal padgee van hierdie tempel af en wanneer hulle my daar aanbid, sal Ek net nie daar wees nie.

8. “Al die aarde se mense sal Israel dan begin spot en verag. Wanneer die tempel tot op die grond afgebreek is, sal elke verbyganger met skok vra: ‘Waarom het die Here dit aan die land en die tempel en sy mense gedoen?’

9. “Dan sal die mense sê: ‘Dit is omdat hulle die Here hulle God verlaat het. Dit is omdat hulle die God wat hulle destyds uit Egipte gelei het, nie meer liefhet nie. Hulle het voor ander gode gebuig en hulle gedien. Dit is waarom God al hierdie verskriklike dinge met hulle laat gebeur het.’”

Salomo se ander bouwerke

10. Dit het Salomo twintig jaar geneem om die tempel en die paleis te bou.

11. Koning Hiram van Tirus het al die seder- en dennehout verskaf, asook al die goud wat Salomo nodig gehad het. Nadat alles voltooi is, het Salomo twintig stede in Galilea aan Hiram gegee.

12. Hiram het opgewonde na die stede gaan kyk, maar was diep teleurgesteld. Hy het nie van een van hulle gehou nie.

13. Hiram het toe vir Salomo gesê: “My vriend, hierdie stede beteken niks, hulle het geen waarde nie.” Vandag nog word hierdie gebied “Kabul” of “Nikswerd” genoem.

14. Hiram was baie ongelukkig, maar hy het die stede aanvaar. Hy het ook nog 4 000 kilogram goud aan Salomo gestuur.

15. Koning Salomo het mense gedwing om die tempel en die paleis te bou. Hy het hulle ook gedwing om die oostekant van die stad met grond op te vul en ’n stadsmuur te bou. Met dwangarbeiders het hy ook die stede Hasor, Megiddo en Geser herbou.

16. Lank gelede het die Egiptiese koning die stad Geser aangeval, dit ingeneem en toe groot dele daarvan afgebrand. Die koning het dit vir Salomo gegee die dag toe hy met sy dogter getroud is.

17. Salomo het dit aanvaar en Geser heeltemal herbou. Hy het egter ook Bet-Horon-Onder,

18. Baälat, Tamar in die Judese woestyn,

19. sy voorraadstede, die stede vir sy perde en sy waens, en alle ander geboue in Jerusalem, die Libanon en op ander plekke in sy koninkryk met die hulp van dwangarbeiders gebou.

20. Salomo se dwangarbeiders het veral uit die nageslag van die Kanaäniete bestaan. Dit was al daardie groepe wat die Israeliete nie doodgemaak het toe hulle destyds die land ingeneem het nie.

21. Onder hulle was die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Vandag nog is hulle nageslag die land se werkers.

22. Salomo het nooit Israeliete as dwangarbeiders gebruik nie. Hulle was die soldate, die offisiere, die generaals, die drywers van die oorlogswaens en die ruiters.

23. Ongeveer 550 amptenare het oor die dwangarbeiders toesig gehou, asook oor hulle bouwerk op verskillende plekke.

24. Nadat Salomo se Egiptiese vrou, die dogter van die Egiptiese koning, uit die ou Dawidstad na haar nuwe huis getrek het, het Salomo begin om die oostelike deel van die stad met grond op te vul en ’n terras te bou.

25. Salomo het gereeld drie keer per jaar, tydens pase, pinkster en die loofhuttefees, brandoffers en dankoffers op die altaar geoffer wat hy vir die Here gebou het. Salomo het al sy verantwoordelikhede by die tempel nagekom.

26. Hy het ook vir hom ’n hele skeepsvloot by Esjon-Geber digby Elat aan die kus van die Golf van Akaba in Edom laat bou.

27. Koning Hiram het toe van sy mees ervare skeepslui gestuur om saam met Salomo se manne te werk.

28. Hulle het Ofir toe geseil en 14 000 kilogram goud vir Salomo teruggebring.