hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4 Bybel vir Almal (ABA)

Koning Nebukadnesar droom van ’n groot boom

1. Koning Nebukadnesar het ’n brief geskryf vir al die mense op die hele aarde. Hy het geskryf:“Ek hoop dit gaan baie goed met julle!

2. Ek wil graag vir julle vertel wat met my gebeur het. Die Hoogste God het tekens en wonderwerke gedoen.

3. Sy tekens en wonderwerke is groot en wonderlik. Hy sal altyd Koning wees, Hy sal altyd regeer.

4. “Ek, Nebukadnesar, het lekker in my huis gewoon, en dit het goed gegaan met my.

5. Maar toe het ek gedroom en ek het iets gesien toe ek gedroom het. Ek het groot geskrik.

6. Ek het gesê al die wyse mense van Babel moet hier by my bymekaarkom en vir my sê wat die droom beteken.

7. Al die slim mense het gekom, en ek het vir hulle gesê wat ek gedroom het, maar hulle kon nie vir my sê wat die droom beteken nie.

8. Toe het Daniël gekom, sy ander naam is Beltsassar. Dit is ook die naam van my god. Dit is die heilige gode wat vir Daniël help, daarom is hy baie slim. Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het.

9. “Ek het gesê: ‘Beltsassar, jy is die hoof van die slim mense. Ek weet die heilige gode help jou, en jy weet dinge wat ander mense nie weet nie. Sê vir my wat beteken my droom. Wat beteken die ding wat ek gesien het toe ek gedroom het?

10. Ek het geslaap, en toe sien ek daar staan ’n boom in die middel van die aarde. Die boom was baie hoog.

11. Dit het baie groot en sterk geword, so groot dat dit aan die hemel geraak het. Al die mense op al die plekke kon die boom sien.

12. Die boom het mooi blare en baie vrugte gehad. Almal kon van sy vrugte eet. Die diere het onder die boom kom lê, en die voëls het in sy takke gewoon. Die boom se vrugte was kos vir al die mense en die diere.

13. “ ‘Ek het geslaap en gedroom daar kom ’n heilige engel uit die hemel.

14. Die engel het hard gepraat en gesê: “Kap af die boom, sny af sy takke, skud af sy blare, gooi sy vrugte oral rond. Die diere onder die boom moet wegvlug, en die voëls moet wegvlug uit sy takke.

15. Maar moenie die boom se stam uithaal nie, laat staan dit in die grond. Sit ’n band van yster en brons om die stam en laat die stam tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak. Nebukadnesar moet wilde plante eet soos die diere.

16. Sy verstand moet verander, dit moet sewe jaar lank soos ’n dier se verstand word.

17. Dit het die heilige engele gesê, en dit sal gebeur. Dan sal almal wat lewe, weet dit is God, die Hoogste God, wat besluit wie koning sal wees. Hy kan enige mens kies en hom koning maak, ook die onbelangrikste mens.”

18. “ ‘Dit is die droom wat ek, Nebukadnesar, gehad het, en jy, Beltsassar, moet vir my sê wat die droom beteken. Al die wyse mense in my land kan nie vir my sê wat dit beteken nie, maar jy kan, want dit is die heilige gode wat jou help.’ ”

19. Daniël, wie se ander naam Beltsassar was, het groot geskrik en baie bang geword. Maar die koning het gesê: “Beltsassar, jy moenie skrik oor die droom en oor wat dit beteken nie.”Beltsassar sê toe: “Koning, dit is ’n slegte droom. Ek wens jou vyande het dit gedroom.

20. Jy het ’n boom gesien wat baie hoog en sterk geword het, die boom het aan die hemel geraak. Al die mense op die aarde kon die boom sien.

21. Daar was mooi blare en baie vrugte aan die boom. Dit was kos vir almal. Al die diere kon onder die boom lewe en al die voëls kon in sy takke woon.

22. Koning, die boom is jy. Jy het koning van die hele aarde geword.

23. Jy het ook gesien daar kom ’n heilige engel uit die hemel en die engel sê: ‘Kap af die boom, kap dit stukkend, maar laat die boom se stam in die grond bly. Sit ’n band van yster en brons om die stam en laat dit tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak, en jy, Nebukadnesar, moet sewe jaar lank wilde plante eet soos die diere.’

24. “Koning, dit is wat die Hoogste God besluit het. Dit sal met jou gebeur, dit is wat die droom beteken:

25. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal in die veld gaan woon saam met die diere. Jy sal gras eet soos ’n bees, en die dou uit die lug sal jou sewe jaar lank natmaak. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.

26. Die engel het ook gesê die boom se stam moet bly staan. Dit beteken jy sal weer koning word wanneer jy weet dit is God wat regeer, God in die hemel.

27. Daarom, Koning, jy moet doen wat ek vir jou sê: Jy moet ophou om sonde te doen. Jy moet reg doen aan die arm mense en jy moet goed wees vir hulle. Dan sal dit goed gaan met jou.”

28. Alles wat Daniël gesê het, het gebeur met koning Nebukadnesar.

29. ’n Jaar later het Nebukadnesar op sy huis se plat dak geloop.

30. Hy het gesê: “Kyk hoe groot is die stad Babel. Dit is ’n stad vir ’n koning. Ek het dit gebou, ek, die groot koning.”

31. Toe die koning dit sê, het hy Iemand gehoor praat uit die hemel. Hy het gesê: “Koning Nebukadnesar, jy sal nie meer koning wees nie.

32. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal by die diere gaan bly en jy sal sewe jaar lank gras eet soos ’n bees. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.”

33. Alles wat Daniël gesê het, het dadelik gebeur met koning Nebukadnesar. Die mense het hom weggejaag. Hy moes gras eet soos ’n bees, en die dou het hom natgemaak. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere, en sy naels het so lank geword soos ’n voël se naels.

34. Nebukadnesar het geskryf: “Toe die sewe jaar verby was, het ek na die hemel gekyk en gebid. My verstand het teruggekom. Ek het die Hoogste God geprys, Hy wat altyd lewe. Hy sal altyd regeer, Hy sal altyd Koning wees.

35. Die mense op die aarde is nie belangrik nie, hulle is almal soos niks. God doen wat Hy wil met die sterre in die lug en met die mense op die aarde. Niemand kan Hom keer nie, niemand mag vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie.

36. “Toe het my verstand teruggekom. Ek, Nebukadnesar, het weer soos ’n koning gelyk. My raadgewers en my ander belangrike amptenare het na my toe gekom. Hulle het my weer koning gemaak, en ek is nou ’n belangriker koning as wat ek was.

37. Ek, Nebukadnesar, prys die Koning van die hemel, want alles wat Hy doen, is reg. Hy kan hoogmoedige mense verneder.”