hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9 Bybel vir Almal (ABA)

Daniël bid en bely die sonde van sy volk

1. Darius was ’n Mediër en hy het koning geword ná Ahasveros. In die eerste jaar nadat Darius koning geword het van Babel,

2. het ek, Daniël, in die boeke gelees dat die Here met die profeet Jeremia gepraat het. Die Here het vir hom gesê die vyande sal Jerusalem verwoes. Daar sal 70 jaar lank net hope klippe wees.

3. Ek het tot my Here, tot God, gebid. Ek het gevas en getreur.

4. Ek het gebid tot my Here, tot God. Ek het my sonde en die sonde van my volk bely en gesê: “Here, U is die Groot God. Almal moet bang wees vir U en hulle moet U eer. U maak ’n verbond met die mense wat lief is vir U en wat doen wat U gesê het. U is lief vir hulle.

5. Ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Ons het nie geluister na U nie, ons het nie gedoen wat U gesê het ons moet doen nie.

6. Ons het nie geluister na die profete nie. Hulle was u dienaars. Hulle het u boodskap gebring vir ons konings, ons amptenare, ons voorvaders, vir al die mense in die land.

7. U het reg gedoen, maar ons het nie reg gedoen nie. Ons is skaam. Ons, die mense van Juda en Jerusalem, al die Israeliete, is skaam. Ons was ontrou aan U, en U het ons weggejaag na ander lande, lande wat naby is en lande wat ver is.

8. Ons is skaam, Here, want ons het sonde gedoen teen U. Ons konings, ons amptenare en ons voorvaders het sonde gedoen teen U.

9. Ons het nie geluister na U nie. Maar U, ons God die Here, U is genadig, U sal ons sonde vergewe.

10. “U is ons God die Here, maar ons het nie na U geluister nie. U het die profete, u dienaars, na ons toe gestuur. Hulle het u wette vir ons gegee, maar ons het nie gelewe soos die wette sê nie.

11. Al die Israeliete was ongehoorsaam aan U. Hulle het nie geluister na wat U gesê het nie. Daarom het U gedoen wat U gesê het. U het gesê U sal ons straf as ons sonde doen teen U. Moses, u dienaar, het dit so geskryf in sy wette.

12. U het gedoen wat U vir ons en ons konings gesê het. U het dit baie sleg laat gaan in Jerusalem, dit het nog nooit in die hele wêreld so sleg gegaan nie.

13. Moses het dit so geskryf in sy wette, en dit gaan baie sleg met ons. Maar ons het aangehou om verkeerd te doen en ons het vergeet dat U altyd reg is. Ons het nie gevra dat U weer goed moet wees vir ons nie, U, ons God die Here.

14. En U, ons God die Here, U doen reg. U doen wat U gesê het. Ons het nie geluister na U nie, en U het dit sleg laat gaan met ons.

15. “En nou, Here ons God, U het lank gelede u volk uit Egipte gebring toe U wonderwerke gedoen het. Daarom ken al die mense u Naam vandag nog. Maar ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen.

16. Here, U het altyd u volk gered, red ons ook nou. Hou op om kwaad te wees vir u stad Jerusalem, vir u gewyde berg. Ons en ons voorvaders het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Dit is hoekom al die volke rondom ons nou lag vir Jerusalem en vir ons, u volk.

17. “En nou, ons God, luister asseblief na my. Ek is u dienaar en ek bid: U moet asseblief weer goed wees vir u tempel wat verwoes is, doen dit omdat U God is.

18. Luister asseblief, my God, kyk hoe verwoes is ons en Jerusalem, die stad wat aan U behoort. Ons bid dat U weer goed moet wees, nie omdat ons iets gedoen het wat reg is nie, maar omdat U lief is vir ons.

19. Here, luister asseblief. Here, vergewe ons asseblief. Here, doen dit asseblief. Moenie wag nie. My God, doen dit asseblief omdat U God is, want hierdie stad en hierdie volk behoort aan U.”

20. Ek het gepraat en gebid. Ek het my sonde en die sonde van my volk Israel bely. Ek het gebid tot my God die Here, ek het gebid vir die gewyde berg van my God.

21. Ek was nog besig om te praat en te bid, toe vlieg Gabriël na my toe. Gabriël is die engel wat ek by die Ulai-rivier gesien het. Hy het laat daardie middag by my gekom.

22. Hy het met my gepraat en vir my geleer om te verstaan wat ek gesien het.Hy het gesê: “Daniël, ek het nou gekom om vir jou te leer om alles te verstaan wat jy gesien het.

23. God hou van jou, en toe jy begin het om te bid, het Hy al klaar gedoen wat jy gevra het. Ek het gekom om vir jou te sê wat God gesê het. Jy moet luister en verstaan wat jy gesien het.

24. God het besluit dat jou volk en die mense van jou stad, die gewyde stad, 70 jaar lank swaar moet kry, want hulle wou nie na God luister nie. In hierdie 70 jaar sal God hulle straf, en dan sal Hy hulle sonde vergewe. Dan sal hulle altyd reg doen aan mekaar. Die dinge wat die profete gesien het en wat hulle gesê het, sal gebeur. Die mense sal die tempel weer bou en hulle sal dit wy.

25. “Daniël, jy moet nou goed verstaan: God het gesê die mense moet terugkom en hulle moet Jerusalem weer bou, maar sewe jaar moet eers verbygaan, dan sal die gesalfde kom, die man wat moet regeer. Die mense sal die stad bou en hulle sal ook die strate maak en slote rondom die stad grawe om die vyande te keer. Die stad se mure sal 62 jaar lank regop staan, maar almal sal daardie tyd baie swaar kry.

26. Wanneer die 62 jaar verby is, dan sal iemand die gesalfde doodmaak, en daar sal niemand wees om ná hom te regeer nie.“’n Ander koning se mense sal kom en hulle sal die stad en die tempel verwoes. Die mense sal soos ’n watervloed wees wat oor die stad vloei. Die oorlog sal aanhou totdat die vyande alles verwoes het. God het besluit dit moet gebeur.

27. Die nuwe koning sal ’n ooreenkoms maak met baie mense. Die ooreenkoms sal wees vir een jaar, maar in die middel van die jaar sal hy sê die priesters mag nie meer offers en presente na die tempel bring nie. Hy sal iets in die tempel sit wat vir God baie kwaad sal maak en wat alles sal verwoes. Maar God het besluit Hy sal die koning wat dit gedoen het, baie swaar straf wanneer dit die regte tyd is.”