hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 11 Bybel vir Almal (ABA)

1. “In die eerste jaar nadat die Mediër Darius koning geword het, was dit my werk om hom te help en te beskerm.

2. Wat ek nou vir jou sal sê, sal gebeur. Nog drie konings sal oor Persië regeer. Die laaste koning sal ryker wees as al die ander konings. En omdat hy ryk is, sal hy sterk wees en hy sal almal gebruik om oorlog te maak teen die koning van die Grieke.

3. Maar daar sal ’n koning kom wat ’n goeie soldaat is. Hy sal regeer oor baie mense en hy sal doen wat hy wil.

4. Hy sal nie lank regeer nie, dan sal daar vier konings kom, een koning in die ooste, een in die suide, een in die weste en een in die noorde. Hierdie konings sal nie sy seuns wees nie en hulle sal nie so sterk wees soos hy nie.”

Die koning van die suide en die koning van die noorde

5. “Die koning van die suide sal sterk word, maar een van sy amptenare sal nóg sterker word en hy sal oor baie mense regeer. Hy sal die koning van die noorde word.

6. Later sal hierdie twee konings ’n ooreenkoms maak. ’n Dogter van die koning van die suide sal trou met die koning van die noorde om te wys dat die twee konings ’n ooreenkoms gemaak het. Maar dit sal niks help vir die koning van die suide nie. Die dogter en die mense wat met haar saamgaan, sal sterf, en ook haar pa en haar man met wie sy daardie tyd getrou het.

7. Een van die seuns van die koning van die suide sal koning word ná sy pa. Hy sal oorlog maak teen die nuwe koning van die noorde en hy sal kom in die stad wat sterk mure het. Hy sal met die mense doen wat hy wil.

8. Hy sal die beelde van hulle afgode wegvat na Egipte en ook al hulle mooi goed van silwer en goud. Hy sal ’n lang tyd nie weer oorlog maak teen die koning van die noorde nie.

9. Die koning van die noorde sal kom tot in die koning van die suide se land, maar hy sal weer teruggaan na sy eie land.

10. “Dan sal die seuns van die koning van die noorde baie soldate bymekaarmaak. Die koning van die noorde en sy soldate sal kom soos ’n watervloed wat oor alles vloei. Hy sal gereedmaak en hy sal die koning van die suide aanval in die stad wat sterk mure het.

11. Die koning van die suide sal baie kwaad word. Hy sal oorlog maak teen die koning van die noorde en hy sal die baie soldate oorwin.

12. En wanneer hy gewen het, sal hy hoogmoedig word. Hy sal tienduisende mense doodmaak. Maar hy sal nie sterk bly nie.

13. Die koning van die noorde sal teruggaan en hy sal nog meer soldate bymekaarmaak. Ná ’n lang tyd sal hy kom en hy sal baie soldate en baie wapens saambring.

14. “In daardie tyd sal baie mense nie meer die koning van die suide wil dien nie. Daniël, party mense van jou volk sal hom ook nie meer wil dien nie. Hulle sal dink hulle moet oorlog maak om vry te word. Maar die koning sal hulle laat doodmaak.

15. “Die koning van die noorde sal kom en hy sal ’n hoop grond gooi teen die sterk mure om die stad van die koning van die suide. Dan sal sy soldate oor die mure klim en hulle sal in die stad kom. Die koning van die suide en al sy sterk soldate sal nie die koning van die noorde kan keer nie.

16. Die koning van die noorde sal doen wat hy wil. Niemand sal hom keer nie. Hy sal ook die pragtige land vir homself vat en hy sal dit verwoes.

17. Dan sal hy probeer om ’n ooreenkoms te maak met die koning van die suide sodat hy daardie koning se land vir hom kan vat. Die koning van die noorde sal vir die koning van die suide ’n vrou gee sodat sy plan kan slaag. Maar die plan sal nie slaag nie.

18. “Daarna sal die hoogmoedige koning van die noorde oorlog maak teen die mense wat naby die see woon, en hy sal baie mense oorwin. Maar ’n ander leier sal oorlog maak teen die hoogmoedige koning en hy sal die hoogmoedige koning wen en hom verneder.

19. Dan sal die leier teruggaan na sy eie land, na die stede wat sterk mure het. Maar iemand anders sal hom in ’n oorlog wen, en hy sal verdwyn.

20. Ná hom sal ’n ander koning kom. Daardie koning sal iemand stuur om belasting by die ryk mense te vat. Iemand sal die koning doodmaak, maar nie in ’n oorlog nie.”

Die slegte koning van die noorde

21. “Daarna sal ’n slegte man koning van die noorde word. Hy sal nie ’n seun van ’n koning wees nie, maar hy sal koning word omdat hy skelm is.

22. Hy sal die leiers doodmaak wat teen hom wil oorlog maak, ook die leier van God se volk.

23. Hierdie slegte man is die leier van min mense, maar hy sal ooreenkomste maak met baie mense en hy sal baie ooreenkomste breek. Daarom sal hy ’n sterk leier word.

24. “Hy sal kom in ’n land waar daar baie ryk mense is, niemand sal hom kan keer nie. Hy sal doen wat die konings voor hom nie gedoen het nie. Hy sal al die goed wat hy daar vat, vir sy mense gee. Hy sal slim planne maak om oorlog te maak teen die stede wat sterk mure het. Maar hy sal dit nie lank doen nie.

25. “Dan sal hy baie soldate bring om oorlog te maak teen die koning van die suide, en die koning van die suide sal gereedmaak om oorlog te maak. Die koning van die suide sal baie en sterk soldate bymekaarmaak, maar hy sal die oorlog verloor, want sy eie mense sal planne maak teen hom.

26. Mense in sy eie huis sal hom laat verloor. Sy soldate sal vlug, en baie soldate sal sterf.

27. Die twee konings sal saam eet, maar hulle sal vir mekaar lieg en hulle sal slegte planne maak teen mekaar. Hulle sal nie kan doen wat hulle wil doen nie, want God het besluit hulle sal nie meer konings wees nie.

28. “Die koning van die noorde sal teruggaan na sy land en hy sal baie goed saamvat. Hy sal slegte dinge doen aan die gewyde mense. Dan sal hy teruggaan na sy land. God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense.

29. “Wanneer God besluit het dit is die regte tyd, dan sal die koning van die noorde weer na die suide kom, maar dit sal nie wees soos voorheen nie.

30. Die Romeine sal met skepe kom om oorlog te maak teen die koning van die noorde, en hy sal skrik en teruggaan na sy land. Maar eers sal hy weer slegte dinge doen aan die gewyde mense, God het ’n verbond gemaak met die gewyde mense. Hy sal vriendelik wees met die mense wat ontrou is aan God se verbond.

31. Hy sal soldate stuur, en hulle sal die tempel ontwy. Hy sal sê die priesters mag nie meer elke dag offer nie. Hy sal iets in die tempel neersit wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes.

32. Die koning sal baie vriendelik wees met die mense wat verkeerd doen teen die verbond, maar die mense wat vir God ken, sal aanhou om nie verkeerde dinge te doen nie.

33. Die verstandige leiers van die volk sal baie mense help om te verstaan wat gebeur, maar die koning sal party van die leiers laat doodmaak en verbrand. Hy sal ook party leiers wegvat na sy land toe.

34. Min mense sal die leiers help, en baie mense sal maak of hulle saam met die leiers werk, maar hulle sal vals wees.

35. Party van die verstandige leiers sal swaarkry sodat hulle beter mense kan word en reg kan wees op die dag wanneer die tyd verby sal wees. God het besluit wanneer dit sal wees.

36. “Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal dink hy is belangriker as ’n god, en hy sal ook lelik praat van God, die enigste God. Hy sal doen wat hy wil in die tyd wanneer God kwaad is vir sy volk. God het besluit dit moet gebeur, en dit sal gebeur.

37. Die koning sal ander gode dien, nie die gode wat die konings gedien het wat voor hom regeer het nie. Hy sal ook nie die god dien vir wie die vroue lief is nie. Hy sal nie een van daardie gode dien nie.

38. Maar die koning sal ’n god dien wat die konings wat voor hom regeer het, nie geken het nie. Dit is die god van die stede wat sterk mure het. Die koning sal vir hierdie god presente gee, goud en silwer, mooi klip en ander mooi goed.

39. Die koning sal dink hierdie ander god help hom, en die koning sal oorlog maak teen die stede wat sterk mure het. Die koning sal baie goed wees vir almal wat hierdie god dien. Hy sal hulle laat regeer oor baie mense en hy sal vir hulle lande gee.

40. “Later sal die koning van die suide oorlog kom maak teen die koning van die noorde. Maar die koning van die noorde sal oorlogkarre en soldate op perde en skepe bring en hulle sal soos ’n watervloed deur die lande vloei.

41. Hy sal in die pragtige land kom en hy sal baie mense doodmaak. Maar hy sal nie die land Edom vat nie, ook nie die land Moab en die land van die Ammoniete nie.

42. “Die koning van die noorde sal baie lande vat, en hy sal die land Egipte ook vat.

43. Die koning van die noorde sal al Egipte se mooi goue en silwer goed vir homself vat. Hy sal ook die mense van die land Libië en die mense van die land Kus oorwin.

44. Maar dan sal hy slegte nuus kry uit die ooste en die noorde. Hy sal skrik en kwaad word en teruggaan om baie mense dood te maak.

45. Hy sal sy tente opslaan tussen die Middellandse See en die mooi berg waar die tempel staan. Maar hy sal daar sterf, en niemand sal hom kan help nie.”