hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1 Bybel vir Almal (ABA)

Die vier slim seuns

1. Koning Nebukadnesar van die land Babel het na Jerusalem gekom. Sy soldate het Jerusalem van al die kante aangeval. Dit was in die derde jaar nadat Jojakim koning van Juda geword het.

2. Die Here het vir Nebukadnesar gehelp. Nebukadnesar het koning Jojakim van Juda oorwin en hy het party van die goed gevat wat in die tempel was. Nebukadnesar het vir Jojakim en die goed na die land Babel gevat, na die tempel van sy god. Hy het alles wat hy gevat het, gebêre in die stoorkamer by die tempel.

3-4. Aspenas was die hoof van die mense wat in koning Nebukadnesar se huis gewerk het. Die koning het vir Aspenas gesê hy moet ’n paar van die Israeliete se seuns bring om vir hom te werk. Die seuns moet familie wees van die koning van Israel, of hulle moet die seuns van belangrike mense wees. Die seuns moet heeltemal gesond en mooi en slim wees. Hulle moet van alles weet en hulle moet sterk wees, sodat hulle in die koning se huis kan werk. Hulle moet eers leer om die taal van die mense van Babel te praat en te skryf.

5. Hulle moet drie jaar lank leer, en dan moet hulle vir die koning kom werk. In daardie drie jaar moet hulle net van die koning se kos eet en van sy wyn drink.

6. Vier van die seuns was Daniël, Gananja, Misael en Asarja. Hulle het van die land Juda gekom.

7. Aspenas het vir hulle ander name gegee. Hy het vir Daniël genoem Beltsassar, vir Gananja het hy Sadrag genoem, vir Misael het hy Mesag genoem, en vir Asarja het hy Abed-Nego genoem.

8. Daniël het besluit hy wil nie die koning se kos eet en sy wyn drink nie, want as hy dit doen, dan sal hy onrein word. Hy het gevra of Aspenas tevrede sal wees as hy nie die koning se kos eet nie, want hy wil nie onrein word nie.

9. Aspenas het van Daniël gehou en hy was jammer vir hom. God het Aspenas jammer laat voel vir Daniël.

10. Maar Aspenas het vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Ek werk vir hom, en hy het gesê wat julle moet eet en drink. As hy sien julle lyk slegter as die ander seuns wat so oud soos julle is, dan sal hy my doodmaak, en dan sal dit julle skuld wees.”

11. Aspenas het vir ’n ander amptenaar gesê hy moet vir Daniël, Gananja, Misael en Asarja sorg. Daniël het toe met daardie amptenaar gaan praat.

12. Hy het gesê: “Toets asseblief ons plan tien dae lank. Gee vir ons groente om te eet en water om te drink.

13. Dan kyk jy hoe lyk ons en hoe lyk die seuns wat die koning se kos geëet het. Dan kan jy besluit wat jy met ons wil doen.”

14. Die amptenaar het gedoen wat Daniël en sy vriende gevra het. Hy het hulle tien dae lank so getoets.

15. Toe die tien dae verby was, het hulle beter en vetter gelyk as al die seuns wat die koning se kos geëet het.

16. Toe het die amptenaar nie weer vir hulle van die koning se kos en wyn gegee nie. Hy het vir hulle net groente gegee.

17. God het daardie vier seuns baie slim gemaak. Hulle het van alles geweet, en Daniël kon ook sê wat dit beteken wanneer iemand droom en iets sien.

18. Die koning het gesê hulle moet die seuns ná drie jaar bring. Toe die drie jaar verby was, het Aspenas die seuns na koning Nebukadnesar toe gebring.

19. Die koning het met hulle gepraat en hy het nie ander seuns gekry wat so slim was soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het begin werk vir die koning.

20. Die koning het partymaal vir hulle gevra wat hulle dink hy moet doen. Hulle antwoord was dan tien maal beter as die antwoorde van al die slim mense in sy hele land.

21. Daniël het by die koning gewerk tot in die eerste jaar nadat Kores koning geword het.