hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 12 Bybel vir Almal (ABA)

God sal sy volk red

1. “In daardie tyd sal Migael kom. Hy is die groot engel wat jou volk moet beskerm. Die mense sal in daardie tyd baie swaar kry, die volke het nog nooit so swaar gekry nie. Maar in daardie tyd sal God jou volk red. Hy het hulle almal se name in sy boek geskryf.

2. Baie mense wat nou in hulle grafte slaap, sal wakker word. Party mense sal altyd lewe, en God sal party mense vir altyd verneder en haat.

3. Almal wat verstandig was en reg gedoen het aan ander mense, sal altyd skyn soos die sterre in die lug.

4. En jy, Daniël, jy moet stilbly. Jy moet die boek toehou totdat die dag kom wanneer die tyd verby is. Baie mense sal oral soek en probeer verstaan wat gebeur.”

Wanneer die tyd verby is

5. Toe ek, Daniël, weer kyk, staan daar twee ander manne, die een man aan die een kant naby my, en die ander man aan die ander kant van die rivier.

6. Die man met die linne-klere was in die lug bo die water van die rivier, en een van die manne langs die rivier het vir hom gevra: “Hoe lank sal hierdie wonderlike dinge aanhou?”

7. Ek het gehoor die man met die linne-klere hou sy twee hande op na die hemel en hy vra die God wat altyd lewe om sy getuie te wees. Die man het gesê: “Drie en ’n half jaar lank. Die wonderlike dinge sal ophou wanneer die gewyde volk klaar swaargekry het.”

8. Ek het gehoor wat hy sê, maar ek het dit nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, hoe sal die end wees van hierdie dinge?”

9. Hy het gesê: “Jy moet nou gaan, Daniël, want die tyd moet eers verby wees, dan sal mense weet wat hierdie dinge beteken.

10. Baie mense sal rein en skoon en goed word, maar die slegte mense sal sleg bly. Nie een van die slegte mense sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan.

11. Die koning sal sê die priesters moenie elke dag offer nie. Hy sal ook iets in die tempel sit wat vir God baie kwaad sal maak en wat alles sal verwoes. Daarna sal 1 290 dae verbygaan.

12. Dit sal goed gaan met die mense wat geduldig wag totdat 1 335 dae verbygegaan het.

13. “Daniël, jy moet aanhou totdat dit die tyd is wanneer jy moet sterf. Jy sal rus, en wanneer die tyd verby is, dan sal jy opstaan en kry wat God vir jou wil gee.”