hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5 Bybel vir Almal (ABA)

Koning Belsassar sien ’n hand wat skryf

1. Koning Belsassar het ’n fees gehou. Hy het 1 000 van sy amptenare genooi om te kom eet en hy het saam met hulle wyn gedrink.

2. Belsassar het later dronk geword. Hy het gesê sy bediendes moet die goue bekers en die silwer bekers bring wat Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem gevat het. Die koning wou uit die bekers drink saam met sy vroue, sy byvroue en sy amptenare. Belsassar het koning geword ná Nebukadnesar.

3. Die bediendes het toe die goue bekers gebring wat Nebukadnesar gevat het uit die tempel van God in Jerusalem. Koning Belsassar, sy amptenare, sy vroue en sy byvroue het uit die bekers gedrink.

4. Hulle het wyn gedrink en hulle het die gode geprys, die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip.

5. Hulle was besig om dit te doen, toe het die vingers van ’n hand skielik begin skryf op die muur van die koning se huis. Die hand was naby die lampstaander, en die koning het die hand gesien wat skryf.

6. Die koning het groot geskrik en sy gesig het bleek geword, sy hele liggaam het gebewe.

7. Hy het geskree en gesê hulle moet die slim mense bring. Toe die wyse mense gekom het, sê hy vir hulle: “As iemand kan lees wat die hand op die muur geskryf het en kan sê wat dit beteken, dan sal ek vir hom klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om sy nek. Hy sal ook die derde belangrikste man in die land word.”

8. Die wyse mense het almal ingekom in die kamer waar die koning was, maar hulle kon nie lees wat op die muur geskryf is en hulle kon nie sê wat dit beteken nie.

9. Koning Belsassar het baie bang geword, sy gesig was bleek. Sy amptenare het nie geweet wat om te doen nie.

10. Maar die koningin het gehoor wat die koning en sy amptenare praat. Sy het in die eetsaal gekom en gesê: “Ek hoop die koning sal lank lewe. Jy moenie bang wees en bleek word nie.

11. Daar is ’n man in jou land, die heilige gode help hom. Koning Nebukadnesar, wat koning was voor jou, het gesien die man is baie slim en sy wysheid is soos die wysheid van die gode. Toe het Nebukadnesar hom die hoof gemaak van al die slim mense.

12. Die man se naam is Daniël, en koning Nebukadnesar het hom Beltsassar genoem. Jy moet vir Daniël laat roep, hy sal vir jou sê wat die woorde op die muur beteken. Hy kan sê wat drome beteken, hy kan antwoord wat mense vir hom vra en hy kan probleme oplos.”

13. Hulle het vir Daniël na die koning toe gebring. Die koning het vir Daniël gesê: “Is jy Daniël, een van die mense wat koning Nebukadnesar weggevat het uit die land Juda en hiernatoe gebring het?

14. Ek het gehoor die gode help jou en jy is baie slim.

15. Ek het die wyse en slim mense laat kom om te lees wat daar op die muur geskryf is en om te sê wat dit beteken. Maar hulle kon dit nie doen nie.

16. Toe het ek gehoor jy kan sê wat dinge beteken en jy kan probleme oplos. As jy nou kan lees wat daar geskryf is en kan sê wat dit beteken, dan sal ek vir jou klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om jou nek. Jy sal ook die derde belangrikste man in die land word.”

17. Toe het Daniël vir die koning gesê: “Koning, jy kan die presente hou of jy kan dit vir iemand anders gee. Maar ek sal lees wat daar geskryf is en ek sal vir jou sê wat dit beteken.

18. “Nebukadnesar was koning voor jou. Jy weet dat die Hoogste God hom ’n groot en belangrike koning gemaak het.

19. Daarom was die mense van al die volke bang vir Nebukadnesar, want hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak. Hy kon ook almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense belangrik maak of hy kon hulle verneder.

20. Maar Nebukadnesar het hoogmoedig geword, en God het besluit hy sal nie meer koning wees en op ’n koning se troon sit nie. Die mense het hom nie meer gerespekteer nie.

21. Hulle het vir Nebukadnesar weggejaag. Hy het soos ’n dier geword en hy het tussen die wildedonkies gaan woon. Hy moes gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug het hom natgemaak. Nebukadnesar het daar gebly totdat hy geweet het dat dit God is wat besluit wie koning sal wees.

22. “Maar, Belsassar, jy het koning geword ná Nebukadnesar. Jy het dit alles geweet, maar jy was hoogmoedig.

23. Jy het gedink jy is belangriker as die Here van die hemel. Jy het saam met jou amptenare, jou vroue en jou byvroue wyn gedrink uit die bekers wat Nebukadnesar weggevat het uit die Here se tempel. En toe het julle die gode van silwer, goud, brons, hout en klip geprys. Dit is gode wat nie kan sien en hoor nie, hulle weet niks. Maar jy wou nie vir God eer nie, die God wat vir jou asem gee en wat besluit wat met jou moet gebeur.

24. Dit is hierdie God wat die hand gestuur het om te skryf.

25. “Dit is die woorde wat op die muur geskryf is: ‘Mene, mene, tekel ufarsin.’

26. Mene beteken: God het gekyk of jy ’n goeie koning is, en Hy het besluit jy sal nie meer koning wees nie.

27. Tekel beteken: God het jou getoets en gesien jy is nie goed om ’n koning te wees nie.

28. Ufarsin beteken: God sal jou land vir ander volke gee, vir die mense van Medië en Persië.”

29. Belsassar het toe gesê hulle moet vir Daniël klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om sy nek. Hulle moet vir almal sê Daniël is nou die derde belangrikste man in die land.

30. Dieselfde nag het mense vir Belsassar, die koning van Babel, vermoor.