hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3 Bybel vir Almal (ABA)

Die drie manne in die vuur

1. Koning Nebukadnesar het ’n beeld gemaak. Die beeld was van goud, en dit was 60 el hoog en ses el breed. Hy het die beeld regop laat staan in die Dura-vallei in die land Babel.

2. Toe laat roep koning Nebukadnesar al die belangrike amptenare in die land om daar te wees wanneer hulle die beeld wy wat koning Nebukadnesar regop laat staan het.

3. Al die belangrike amptenare in die land het toe gekom om daar te wees wanneer hulle die beeld wy. Hulle het kom staan voor die beeld wat die koning gemaak het.

4. Toe het een van die koning se amptenare baie hard gepraat en gesê: “Julle almal wat uit baie lande kom en baie verskillende tale praat, julle moet luister na wat die koning sê:

5. Wanneer julle musiek hoor, dan moet julle buig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar gemaak het. Julle moet voor die beeld buig soos ’n mens voor ’n god buig.

6. My manne sal elkeen wat nie buig nie, dadelik in ’n groot vuur gooi.”

7. Daarom het al die mense dit gedoen, al die mense wat uit baie lande kom en wat baie verskillende tale praat. Elke maal wanneer hulle musiek hoor, het hulle gebuig voor die goue beeld wat koning Nebukadnesar gemaak het.

8. Maar eendag het party van die slim mense by die koning gekom en gekla oor die mense wat van Juda gekom het.

9. Die slim mense het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons hoop die koning sal lank lewe!

10. Jy, Koning, het gesê almal moet voor die goue beeld buig wanneer hulle musiek hoor,

11. en jou manne sal almal wat nie buig nie, in ’n groot vuur gooi.

12. Maar daar is manne van Juda, hulle doen nie wat jy gesê het nie. Hulle name is Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hulle is die manne wat jy gekies het om te help regeer oor die land Babel. Hulle dien nie jou god nie, hulle buig nie voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

13. Koning Nebukadnesar het baie kwaad geword. Hy het gesê sy soldate moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego bring. Toe hulle voor koning Nebukadnesar staan,

14. sê hy vir hulle: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, is dit waar dat julle nie my god wil dien nie? Is dit waar dat julle nie wil buig voor die beeld wat ek gemaak het nie?

15. Nou, wanneer julle musiek hoor en julle buig voor die goue beeld wat ek gemaak het, dan sal dit goed wees. Maar as julle nie buig nie, dan sal my manne julle dadelik in die groot vuur gooi. Ek sal dit met julle doen. Daar is nie ’n god wat my kan stop nie.”

16. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons kan niks vir jou sê nie.

17. Ons God kan ons red, ons dien Hom, en Hy sal keer dat ons nie brand nie wanneer jy ons in die vuur gooi.

18. Maar, Koning, jy moet weet, ook as ons God ons nie red nie, dan sal ons nie jou god dien nie en ons sal nie buig voor die beeld wat jy gemaak het nie.”

19. Nebukadnesar het baie kwaad geword vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het vir sy manne gesê hulle moet die vuur sewe maal warmer maak as wat dit altyd was.

20. Toe het hy vir sy soldate gesê hulle moet vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego vasbind en in die vuur gooi.

21. Die soldate het hulle vasgebind en in die vuur gegooi. Sadrag, Mesag en Abed-Nego het nog al hulle klere aangehad.

22. Die koning het gesê die vuur moet warm wees, en dit was baie warm. Die vlamme het die soldate doodgebrand wat die drie manne in die vuur gegooi het.

23. Die drie manne, Sadrag, Mesag en Abed-Nego, het binne-in die vuur geval. Hulle was vasgebind.

24. Maar toe skrik koning Nebukadnesar groot en hy staan op. Hy vra toe vir sy raadgewers: “Het ons drie manne in die vuur gegooi, en was hulle vasgebind?”Hulle het vir die koning gesê: “Ja, Koning, dit is so.”

25. Toe sê die koning: “Ek sien nou vier manne. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle loop in die vuur rond en hulle makeer niks. Ek sien die vierde man lyk soos ’n engel.”

26. Nebukadnesar het nader gegaan na die deur van die groot oond waarin die vuur was. Hy het gesê: “Sadrag, Mesag en Abed-Nego, dienaars van die Hoogste God, kom uit!”Hulle het uitgekom.

27. Die belangrike amptenare het almal kom kyk en hulle het gesien dat die vuur nie die drie manne gebrand het nie. Dit het nie die hare op hulle koppe gebrand nie. Hulle klere was nog dieselfde en dit het ook nie soos vuur geruik nie.

28. Toe sê Nebukadnesar: “Ek prys die God van Sadrag, Mesag en Abed-Nego. Hy het sy engel gestuur en Hy het sy dienaars gered. Hulle het geglo dat Hy hulle sal help en hulle het nie gedoen wat die koning gesê het nie. Hulle het gedink dit is beter om te sterf, want hulle wou net hulle eie God dien en eer, nie ’n ander god nie.

29. Daarom sê ek nou: Al die mense in al die lande moet die God van Sadrag, Mesag en Abed-Nego eer. As iemand dit nie doen nie, dan sal my soldate hom doodmaak en in stukke kap en sy huis afbreek. Daar is nie ’n ander god wat kan red soos hierdie God red nie.”

30. Die koning was daarna baie goed vir Sadrag, Mesag en Abed-Nego in die land Babel.