hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 1 Bybel vir Almal (ABA)

Abisag kom woon by koning Dawid

1. Koning Dawid was oud. Sy mense het hom toegemaak met klere en komberse, maar hy het nie warm geword nie.

2. Sy amptenare het vir hom gesê: “Meneer die koning, ons sal vir jou ’n jongmeisie soek wat vir jou kan werk en wat jou kan bedien. Sy kan by jou in die bed lê en jou liggaam warm maak.”

3. Hulle het toe oral in die land Israel ’n mooi meisie gesoek. Hulle het vir Abisag van die stad Sunem gekry en hulle het haar na die koning toe gebring.

4. Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en vir hom gesorg, maar hy het nie seks gehad met haar nie.

Adonia wil koning word

5. Adonia, die seun van Dawid en sy vrou Gaggit, het gedink hy is die belangrikste seun van Dawid en hy wou graag koning word. Adonia het vir hom ’n oorlogkar en perde gekry en hy het 50 manne voor hom laat hardloop.

6. Vandat hy klein was, het sy pa nooit met hom geraas nie en nooit vir hom gevra hoekom hy verkeerde dinge gedoen het nie. Adonia was ’n mooi man en hy was Absalom se jonger broer.

7. Adonia het gepraat met Joab seun van Seruja en met die priester Abjatar, en hulle het belowe om hom te help om koning te word.

8. Maar die priester Sadok en Benaja seun van Jojada wou nie vir Adonia help nie, en ook nie die profeet Natan en Simeï en Reï en die manne wat die koning opgepas het nie.

9. Adonia het skape en bokke en beeste en vet kalwers laat slag by die Sogelet-rots wat naby Rogel-fontein is. Hy het al sy broers, die prinse, genooi om saam te eet, en ook die leiers van Juda wat amptenare van Dawid was,

10. maar Adonia het nie die profeet Natan genooi nie, ook nie die manne wat die koning opgepas het en ook nie sy broer Salomo nie.

Salomo word koning

11. Natan het vir Salomo se ma Batseba gaan sê: “Het jy gehoor dat Adonia seun van Gaggit koning geword het? En ons meneer Dawid weet dit nie.

12. Kom, ek sal vir jou sê wat jy moet doen sodat jy jou eie lewe en die lewe van jou seun Salomo kan red.

13. Jy moet na koning Dawid toe gaan en vir hom sê: ‘Meneer die koning, jy het vir my belowe, en die Here was die getuie, dat my seun Salomo koning sal word ná jou en dat hý op jou troon sal sit. Hoekom het Adonia nou koning geword?’

14. Terwyl jy met die koning praat en dit vir hom sê, sal ek na jou toe kom en ek sal vir die koning sê jy praat die waarheid.”

15. Batseba het by die koning in sy kamer gekom. Die koning was baie oud. Abisag van Sunem het vir die koning gesorg.

16. Batseba het gekniel en voor die koning gebuig, en die koning het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen?”

17. Batseba het vir die koning gesê: “Meneer, jy het belowe, en jou God die Here was die getuie, dat my seun Salomo koning sal word ná jou en dat hý op jou troon sal sit.

18. Maar, Meneer die koning, nou het Adonia koning geword, en jy weet dit nie.

19. Adonia het baie beeste, vet kalwers en skape en bokke geslag en hy het al die prinse genooi en ook die priester Abjatar en Joab, die hoof van die leër, maar hy het nie vir Salomo genooi nie.

20. Meneer die koning, al die mense van Israel wag dat jy moet sê wie op jou troon sal sit ná jou.

21. As jy dit nie doen nie, wat sal dan gebeur wanneer Meneer die koning gesterf het en by jou voorvaders begrawe is? Die mense sal dan sê ek en my seun Salomo is skuldig.”

22. Terwyl Batseba met die koning gepraat het, het die profeet Natan daar gekom.

23. Die mense het vir die koning gesê: “Hier is die profeet Natan ook nou.”Natan het ingekom en hy het laag voor die koning gebuig met sy gesig teen die grond.

24. Hy het gesê: “Meneer die koning, het jy gesê Adonia sal ná jou koning word en op jou troon sit?

25. Want hy het vandag gegaan en hy het baie beeste en vet kalwers en skape en bokke geslag. Hy het al die prinse genooi en ook die hoofde van die leër en die priester Abjatar. Hulle eet en drink nou saam met hom en hulle sê: ‘Ons bid dat koning Adonia lank sal lewe!’

26. Maar Adonia het nie vir my en die priester Sadok en Benaja seun van Jojada en Salomo genooi nie.

27. Meneer die koning, het jy gesê hierdie dinge moet so gebeur? Hoekom het jy nie vir ons gesê wie ná jou op jou troon moet sit nie?”

28. Koning Dawid het geantwoord en gesê: “Gaan roep vir Batseba en sê sy moet hier voor my kom staan.”

29. Die koning het toe belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat elke maal my lewe gered het toe dit vir my gevaarlik was,

30. ek hét vir jou belowe dat jou seun Salomo koning sal word ná my en dat hy in my plek op my troon sal sit. Ek het toe gesê my God die Here moet die getuie wees, en ek belowe dit vandag weer.”

31. Batseba het gekniel met haar gesig teen die grond en sy het voor die koning gebuig en gesê: “Ek bid dat Meneer die koning Dawid vir altyd sal lewe.”

32. Daarna het koning Dawid gesê: “Gaan roep die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada, en sê hulle moet voor my kom staan.”

33. Die koning het toe vir hulle gesê: “Julle moet die manne saamneem wat die koning moet oppas en julle moet my seun Salomo op my eie muil laat ry. Julle moet hom na die Gihon-fontein bring.

34. Daar moet die priester Sadok en die profeet Natan hom salf om koning te wees oor Israel. Dan moet julle die ramshoring blaas en sê: ‘Ons bid dat koning Salomo lank sal lewe!’

35. Julle moet saam met hom kom, en hy moet op my troon kom sit en koning wees in my plek. Ek het gesê dit is hý wat moet regeer oor Israel en oor Juda.”

36. Benaja seun van Jojada het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat jy gevra het. Ek bid dat die Here, die God van Meneer die koning, dit sal laat gebeur.

37. Ek bid dat die Here by Salomo sal wees soos Hy by Meneer die koning was. Ek bid ook dat die troon van Salomo belangriker sal word as die troon van Meneer die koning Dawid.”

38. Die priester Sadok en die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die Filistynse manne wat die koning moes oppas, het gegaan en hulle het vir Salomo op koning Dawid se muil laat ry. Hulle het hom na die Gihon-fontein geneem.

39. Die priester Sadok het die horing en olyf-olie uit die gewyde tent saamgebring en hy het vir Salomo gesalf. Toe blaas hulle die ramshoring, en al die manne sê: “Ons bid dat die koning lank sal lewe!”

40. Al die mense het saam met Salomo gegaan. Hulle het fluite geblaas en hulle was baie bly. Hulle het so hard geskree dat die aarde gebewe het.

41. Adonia en al die gaste wat hy genooi het, het klaar geëet en hulle het gehoor dat die mense skree. Toe Joab hoor hulle blaas die ramshoring, het hy gevra: “Hoekom raas die mense so in die stad?”

42. Terwyl Joab gepraat het, het Jonatan seun van die priester Abjatar daar aangekom. Adonia het gesê: “Kom nader, jy is ’n belangrike man en jy sal goeie nuus bring.”

43. Jonatan het geantwoord en vir Adonia gesê: “Nee, dit is nie goeie nuus vir jou nie. Ons meneer die koning Dawid het vir Salomo koning gemaak.

44. Die koning het die priester Sadok saam met Salomo gestuur, en ook die profeet Natan en Benaja seun van Jojada en die Filistynse manne wat die koning moet oppas. Hulle het Salomo op die koning se muil laat ry

45. en die priester Sadok en die profeet Natan het vir Salomo by die Gihon-fontein gesalf om koning te wees. Hulle het geskree en gejuig toe hulle van daar terugkom, en al die mense in die stad juig nou saam. Dit is wat julle gehoor het wat so geraas het.

46. Salomo sit nou op die troon van die koning,

47. en die koning se amptenare het ook gekom om ons meneer die koning Dawid geluk te wens. Hulle het gesê: ‘Koning Dawid, ons bid dat jou God vir Salomo ’n belangriker koning sal maak as wat jy was, sodat meer mense sal weet van hom as van jou.’“En koning Dawid het daar op sy bed gebuig en gebid.

48. Hy het gesê: ‘Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vandag een van my seuns op my troon laat sit en ek kan dit self sien.’ ”

49. Al die gaste wat by Adonia was, het geskrik en opgestaan en haastig weggegaan, elkeen op ’n ander pad.

50. Adonia was bang dat Salomo hom sal doodmaak en hy het opgestaan en aan die horings van die altaar gaan vashou.

51. Iemand het vir Salomo gaan sê: “Koning Salomo, Adonia is nou bang vir jou. Hy het aan die horings van die altaar gaan vashou en hy het gesê: ‘Koning Salomo moet vandag belowe, en die Here moet die getuie wees, dat hy my nie sal laat doodmaak nie.’ ”

52. Salomo het gesê: “As Adonia niks verkeerd doen nie, dan sal niks met hom gebeur nie, nie een van sy hare sal op die grond val nie. Maar as hy iets verkeerd doen, dan sal hy sterf.”

53. Koning Salomo het mense gestuur om vir Adonia by die altaar te gaan haal. Hulle het hom gebring, en hy het voor koning Salomo gebuig. Salomo het vir hom gesê: “Jy mag nou huis toe gaan.”