hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18 Bybel vir Almal (ABA)

Elia en die profete van Baäl

1. Dit het ’n lang tyd nie gereën nie. Die Here het ná drie jaar vir Elia gesê: “Jy moet gaan sodat koning Agab jou kan sien. Ek wil dit laat reën in die land.”

2. Elia het gegaan sodat Agab hom kon sien. Daar was hongersnood in die land Samaria.

3. Agab het vir Obadja, die hoof van die paleis, geroep. Obadja het die Here altyd gedien.

4. Toe Isebel die profete van die Here doodgemaak het, het Obadja 100 profete weggesteek in twee grotte, 50 profete in elke grot, en hy het vir hulle kos en water gegee.

5. Agab het vir Obadja gesê: “Jy moet gaan na al die fonteine en al die valleie, miskien kry jy gras sodat die perde en die muile kan aanhou lewe. As julle dit nie doen nie, dan sal ons party van die diere moet doodmaak.”

6. Agab en Obadja het die land tussen hulle verdeel. Agab het alleen op een pad gegaan en Obadja het alleen op ’n ander pad gegaan.

7. Obadja kry toe vir Elia op die pad, en hy het gesien wie dit is. Hy het gebuig en met sy gesig teen die grond gaan lê en gevra: “Meneer Elia, is dit jy?”

8. Elia het vir hom gesê: “Ja, dit is ek. Gaan sê vir jou meneer ek is hier.”

9. Toe sê Obadja: “Watter sonde het ek gedoen? Hoekom wil jy hê Agab moet my doodmaak?

10. So seker soos jou God die Here lewe, my meneer het mense na elke volk en land gestuur om jou te soek. Wanneer die mense gesê het jy is nie daar nie, dan moes hulle belowe en sê die Here is die getuie dat hulle jou nie kan kry nie.

11. En nou sê jy: ‘Gaan sê vir jou meneer dat Elia hier is.’

12. As ek nou weggaan van jou, en die Gees van die Here neem jou weg na ’n ander plek en ek weet nie waar jy is nie, wat sal dan met my gebeur? As ek vir Agab gaan vertel jy is hier, en hy kry jou nie hier nie, dan sal hy my doodmaak. Jy moet weet ek dien die Here vandat ek jonk was.

13. Het jy gehoor wat ek gedoen het? Toe Isebel die profete van die Here begin doodmaak het, het ek 50 profete in een grot en 50 profete in ’n ander grot weggesteek en ek het vir hulle kos en water gegee.

14. En nou sê jy ek moet vir my meneer gaan sê dat Elia hier is. Wil jy hê hy moet my doodmaak?”

15. Elia het vir Obadja gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat oor alles regeer, die God vir wie ek werk, jy moenie bekommerd wees nie, Agab sal my vandag sien.”

16. Obadja het dit vir Agab gaan vertel, en Agab het gekom om vir Elia te ontmoet.

17. Toe hy vir Elia sien, sê hy: “Is dit jy, jy wat die dood in die land Israel bring?”

18. Elia het vir Agab gesê: “Dit is nie ék wat die dood in die land Israel bring nie. Jý en jóú familie het dit gedoen toe julle opgehou het om gehoorsaam te wees aan die wette van die Here en toe julle die Baäls begin dien het.

19. Maar nou, stuur boodskappers en sê al die leiers van Israel moet bymekaarkom op Karmel-berg, en ook die 400 profete van Baäl en die 400 profete van Asjera wat kos kry by Isebel.”

20. Agab het boodskappers gestuur na al die Israeliete toe en hy het die profete laat bymekaarkom op Karmel-berg.

21. Elia het naby al die mense van Israel kom staan en gevra: “Hoe lank wil julle wag voordat julle besluit vir wie julle wil dien? As die Here God is, dan moet julle Hóm dien. Of, as Baäl God is, dan moet julle hóm dien.”Die mense het hom nie geantwoord nie, hulle het stilgebly.

22. Toe sê Elia vir die mense: “Ek het alleen oorgebly van al die profete van die Here, maar daar is 450 profete van Baäl.

23. Gee vir ons twee bulle. Die profete van Baäl moet vir hulle een bul kies. Hulle moet dit in stukke sny en op die hout op die altaar neersit, maar hulle moenie dan vuur op die altaar begin maak nie. Ek sal dieselfde doen met die ander bul. Ek sal dit op die hout sit en ek sal nie vuur op die altaar maak nie.

24. Dan moet die profete van Baäl tot hulle god bid, en ek sal tot die Here bid. Die god wat met vuur antwoord en wat die hout op die altaar laat brand, Hý is God.”Al die mense het geantwoord: “Dit is goed.”

25. Toe sê Elia vir die profete van Baäl: “Kies vir julle een bul en maak hom eerste gereed, want julle is baie. Julle moet tot julle god bid, maar julle moenie vuur op die altaar maak nie.”

26. Die profete van Baäl het die bul geneem wat Elia vir hulle gegee het. Hulle het dit gereedgemaak en hulle het tot Baäl gebid. Hulle het van die oggend tot die middag aangehou bid en gesê: “Baäl, help ons.”Maar niks het gebeur nie, niemand het geantwoord nie. Die profete van Baäl het nie geweet wat om te doen by die altaar wat hulle gemaak het nie.

27. Toe dit middag word, het Elia hulle gespot en gesê: “Julle moet harder skree, want Baäl is ’n god. Miskien is hy besig om te dink, of miskien is hy in die toilet, of miskien het hy gaan stap. Miskien slaap hy en iemand moet hom gaan wakker maak.”

28. Die profete het hard geskree en hulle het gedoen wat hulle altyd gedoen het wanneer hulle ge-offer het: Hulle het hulleself stukkend gesny met swaarde en spiese totdat hulle rooi van die bloed was.

29. Die middag het verbygegaan. Hulle het aangehou bid tot laat die middag. Dit was die tyd wanneer die priesters altyd die koring-offer gebring het. Maar daar het niks gebeur nie, niemand het geantwoord nie, Baäl het nie gehoor nie.

30. Toe het Elia vir al die mense gesê: “Kom nader na my toe.”Hulle het nader gekom. Elia het die altaar van die Here wat stukkend was, weer reggemaak.

31. Hy het twaalf klippe geneem, een vir elke stam, die nageslag van die seuns van Jakob. Jakob was die man vir wie die Here gesê het: “Jou naam sal Israel wees.”

32. Elia het die klippe in die altaar van die Here ingebou. Rondom die altaar het Elia ’n sloot gegrawe. Die sloot was so diep dat dit twee sea saad kon hou.

33. Daarna het hy die hout reggesit en die bul in stukke gesny en bo-op die hout gesit.

34. Toe sê Elia: “Julle moet vier kruike vol water maak en dit oor die brand-offer en die hout uitgooi.”Elia het gesê hulle moet dit weer doen, en toe ook ’n derde maal.

35. Die water het oor die altaar geloop en dit het ook die sloot volgemaak.

36. Laat die middag, toe dit tyd was om die koring-offer te bring, het die profeet Elia by die altaar gaan staan en hy het gesê: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat almal vandag sien dat U die God in die land Israel is. Laat almal ook sien dat ek u dienaar is, en dat dit U is wat vir my gesê het ek moet al hierdie dinge doen.

37. Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie mense kan weet dat U, die Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte verander.”

38. Daar het toe vuur van die Here afgekom. Dit het die brand-offer en die hout en die klippe en die grond alles verbrand. Daar was nie meer water in die sloot nie, die sloot het droog geword.

39. Toe die mense dit sien, het hulle almal gebuig, hulle gesigte was teen die grond. Hulle het gesê: “Die Here, Hy is God! Die Here, Hy is God!”

40. Elia het vir hulle gesê: “Vang die profete van Baäl, julle moenie dat een van hulle wegkom nie!”Hulle het die profete gevang, en Elia het die profete laat bring na die Kison-rivier. Daar het hy hulle doodgemaak.

41. Toe het Elia vir Agab gesê: “Jy moet gaan eet, want ek hoor al klaar hoe val die reën.”

42. Agab het gaan eet, en Elia het tot bo-op Karmel-berg geklim. Daar het hy gebuig tot teen die grond en hy het sy kop tussen sy knieë gesit.

43. Hy het vir die jongman by hom gesê: “Gaan asseblief op en gaan kyk na die see.”Die jongman het hoër opgegaan en gekyk en gesê: “Daar is niks.”Elia het gesê die jongman moet weer gaan kyk, sewe maal.

44. En toe die jongman dit die sewende maal gedoen het, het hy kom sê: “Daar kom ’n klein wolkie op uit die see, die wolkie is so groot soos ’n man se hand.”Toe sê Elia: “Gaan sê vir Agab hy moet sy perde inspan en afgaan. As hy dit nie doen nie, dan sal die reën hom keer en hy sal nie kan wegkom nie.”

45. Terwyl Elia gepraat het, het die lug swart geword van die wolke en daar was wind en baie reën. Agab het op sy wa geklim en hy het na die stad Jisreël gegaan.

46. Maar die Here het vir Elia sterk gemaak. Elia het sy klere vasgebind en hy het voor Agab gehardloop tot by Jisreël.