hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8 Bybel vir Almal (ABA)

Salomo en die leiers bring die verbondskis na die tempel

1. Daarna het koning Salomo al die leiers van die Israeliete laat bymekaarkom by hom in Jerusalem, al die stamhoofde en die familiehoofde van die Israeliete. Hy wou die verbondskis uit die Dawidstad, uit Sion, laat bring.

2. Hulle het bymekaargekom vir die fees in die maand Etanim, die sewende maand.

3. Die leiers van die Israeliete was almal daar, en die priesters het die kis gedra.

4. Hulle en die Leviete het die kis gebring en ook die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn en al die gewyde gereedskap.

5. Koning Salomo en die hele volksvergadering van die Israeliete wat saam met hom was, was voor die kis, en hulle het so baie skape en bokke en beeste ge-offer, dat niemand dit kon tel nie.

6. Die priesters het die verbondskis van die Here na sy plek gebring in die binneste kamer van die tempel. Dit was die hoog-gewyde plek onder die gerubs se vlerke,

7. want die gerubs se vlerke was oop oor die plek waar die kis gestaan het, die gerubs het die kis en sy dra-houte toegemaak.

8. Die dra-houte van die kis was so lank dat iemand hulle punte kon sien as hy voor die binneste kamer gestaan het, maar hy kon die punte nie sien as hy buite gestaan het nie. Die dra-houte is nou nog daar.

9. Daar was niks in die kis nie, net die twee plat klippe wat Moses daarin gesit het by Horeb-berg. Hy het dit gedoen toe die Here met die Israeliete ’n verbond gemaak het nadat hulle uit Egipte gekom het.

10. Toe die priesters uit die tempel kom, het daar ’n wolk in die tempel gekom en die wolk het alles toegemaak.

11. Die wolk was so dik dat die priesters nie kon sien om hulle werk te doen nie. Die Koning, die Here, was daar.

Salomo praat met die volksvergadering van Israel

12. Daarna het Salomo gesê: “Here, U het gesê U wil in ’n plek woon waar dit donker is.

13. En ek het nou vir U ’n tempel gebou om in te woon, ’n huis waar U altyd kan woon.”

14. Toe kyk die koning na die hele volksvergadering van Israel wat daar staan. Hy het hulle gegroet

15. en hy het gesê: “Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vir my pa Dawid iets belowe en Hy het gedoen wat Hy belowe het. Hy het gesê:

16. ‘Van die tyd toe Ek my volk Israel uit Egipte gebring het tot nou toe, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel nie, ’n stad waar iemand ’n tempel moet bou waar Ek kan verskyn nie, maar Ek het vir Dawid gekies om oor my volk Israel te regeer.’

17. My pa Dawid het besluit om ’n tempel te bou om die Here, die God van Israel, te dien,

18. maar die Here het vir my pa Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy planne het om vir My ’n tempel te bou,

19. maar jý sal nie die tempel bou nie, jou seun wat gebore sal word, hý sal vir My die tempel bou.’

20. En die Here het laat gebeur wat Hy belowe het. Ek het koning geword ná my pa Dawid, ek sit op die troon van Israel soos die Here belowe het, en ek het die tempel gebou om die Here, die God van Israel, te dien.

21. Ek het daar ’n plek gereedgemaak vir die kis van die Here waarin die verbond is wat die Here met ons voorvaders gemaak het toe Hy hulle uit Egipte gebring het.”

Salomo bid tot die Here

22. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek

23. en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie ’n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê.

24. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het.

25. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’

26. En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid.

27. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek.

28. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid.

29. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat ’n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid.

30. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde.

31. “Wanneer iemand sê ’n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig.

32. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is.

33. “U volk Israel sal miskien ’n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U,

34. dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het.

35. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed,

36. dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe.

37. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur.

38. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het.

39. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe ’n mens se hart regtig is.

40. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het.

41. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van ’n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het.

42. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid,

43. dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het.

44. “U volk sal miskien oorlog gaan maak teen vyande omdat U gesê het hulle moet dit doen. As hulle kyk na hierdie stad wat U gekies het en na hierdie tempel wat ek gebou het vir U, en as hulle bid en soebat,

45. dan moet U asseblief in die hemel luister na hulle gebed en U moet hulle laat wen teen hulle vyande.

46. “Al die mense doen sonde. U volk doen ook sonde teen U, en dan word U kwaad en U gee hulle vir hulle vyande sodat die vyande hulle kan vang en wegvat na die vyande se land, ver of naby.

47. Maar u volk sal miskien hulle lewe verander daar in die land waar hulle gevangenes is en hulle sal weer na U toe kom en tot U bid in daardie land en sê: ‘Ons het sonde gedoen, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.’

48. As hulle met hulle hele hart en lewe na U toe kom in die land van hulle vyande waar hulle gevangenes is en as hulle kyk na hierdie land wat U vir hulle voorvaders gegee het, en na die stad wat U gekies het, en na die tempel wat ek gebou het vir U, en as hulle bid tot U,

49. dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie.

50. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U. U moet hulle vergewe dat hulle opstandig was teen U, en U moet die mense wat vir hulle gevang het, jammer laat wees vir hulle,

51. want hulle is u eie volk. U het hulle gebring uit Egipte, die plek wat vir hulle soos ’n warm oond was.

52. “Luister asseblief na my gebede en na die gebede van u volk Israel. Luister asseblief na elke gebed wat ons tot U bid, en doen asseblief wat ons vir U vra,

53. want, Here, U wat Here is, U het ons gekies om u volk te wees, U het nie een van die ander volke van die wêreld gekies nie. Dit het gebeur soos U vir ons gesê het toe U vir Moses, u dienaar, gestuur het en toe U ons voorvaders uit Egipte gebring het.”

54. Salomo het voor die altaar gekniel en hy het sy hande na die hemel uitgesteek toe hy tot die Here gebid en gesoebat het.Nadat Salomo klaar tot die Here gebid het, het hy opgestaan

Salomo praat weer met die gemeente van Israel

55. en hy het die hele gemeente van Israel gegroet. Hy het hard gepraat en gesê:

56. “Ek prys die Here. Hy het belowe om vir sy volk Israel ’n woonplek te gee, en Hy het dit gedoen. Hy het goeie dinge gesê toe Hy sy dienaar Moses gestuur het, en dit het gebeur.

57. Ek bid dat ons God die Here by ons sal wees soos Hy by ons voorvaders was. Ek bid dat Hy nie sal weggaan van ons nie en dat Hy ons nie sal los nie.

58. Ek bid dat Hy in ons harte sal werk sodat ons Hom graag sal wil dien en sodat ons sal lewe soos Hy wil hê en gehoorsaam sal wees aan al die wette wat Hy vir ons voorvaders gegee het.

59. Ek bid dat ons God die Here elke dag en nag sal dink aan wat ek gesê het toe ek gesoebat het en tot Hom gebid het. Ek bid ook dat Hy sal help sodat mense elke dag reg sal doen aan my en aan sy volk Israel.

60. Dan sal al die volke van die aarde weet die Here is God en daar is nie nog ’n ander God nie.

61. Julle moet lewe soos ons God die Here vir julle in sy wette sê, julle moet Hom dien met julle hele hart, soos julle vandag doen.”

Salomo en die Israeliete wy die tempel

62. Die koning en al die Israeliete saam met hom het vir die Here offers gebring.

63. Salomo het ’n ete-offer gebring. Dit was 22 000 beeste en 120 000 skape en bokke. So het die koning en al die Israeliete die tempel aan die Here gewy.

64. Die koning het daardie dag die middelste deel van die oop stuk grond voor die tempel gewy, want hy het die brand-offer en die koring-offer en die vet van die ete-offers daar verbrand. Hy het dit gedoen omdat die altaar voor die tempel te klein was vir al die offers. Daardie altaar was van brons.

65. Salomo en al die Israeliete saam met hom het daardie tyd feesgevier vir ons God die Here. Hulle was ’n groot volksvergadering, van die stad Lebo-Hamat tot by Egipte-spruit. Hulle het eers sewe dae lank feesgevier, en toe weer sewe dae lank, dit was alles saam 14 dae.

66. Die dag daarna het Salomo die volk laat gaan. Die koning het hulle gegroet en hulle het huis toe gegaan. Hulle was bly en gelukkig oor al die goeie dinge wat die Here gedoen het vir sy dienaar Dawid en vir sy volk Israel.