hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 14 Bybel vir Almal (ABA)

Die Here sê Hy sal Jerobeam en die mense van Israel straf

1. In daardie tyd het Jerobeam se seun Abija siek geword.

2. Jerobeam het vir sy vrou gesê: “Jy moet jou gesig toemaak sodat mense nie kan weet jy is my vrou nie en jy moet na die stad Silo gaan. Dit is waar die profeet Agija woon, die profeet wat gesê het dat ek die koning sal word van hierdie volk.

3. Jy moet tien brode neem en koekies en ’n kruik heuning en jy moet na hom toe gaan. Hy sal vir jou sê wat met die kind sal gebeur.”

4. Jerobeam se vrou het gedoen wat hy gesê het. Sy het gereedgemaak en na Silo gegaan en by die huis van Agija gekom. Agija was al baie oud, hy kon nie meer sien nie.

5. Die Here het vir hom gesê: “Jerobeam se vrou het gekom om vir jou te vra wat sal gebeur met haar seun, want hy is siek. Jy moet vir haar sê wat Ek vir jou sê.”Die vrou se gesig was toe,

6. maar toe Agija hoor sy kom by die deur in, sê hy: “Kom in, vrou van Jerobeam. Hoekom is jou gesig toe? Ek het ’n slegte boodskap vir jou.

7. Jy moet vir Jerobeam gaan sê: Die Here, die God van Israel, sê: Ek het vir jóú gekies van al die mense en Ek het jóú laat regeer oor my volk Israel.

8. Ek het die land weggevat van die koningshuis van Dawid en Ek het dit vir jou gegee. Maar jy is nie soos my dienaar Dawid nie. Hy het My gedien met sy hele hart en hy het dinge gedoen waarvan Ek hou.

9. Maar jy het slegter dinge gedoen as almal wat vóór jou koning was. Jy het vir jou ander gode en beelde gemaak. So het jy vir My hartseer gemaak en weggegaan van My.

10. Daarom sal Ek dit nou sleg laat gaan met die koningshuis van Jerobeam. Ek sal al die mans en die seuns in die koningshuis van Jerobeam laat sterf, slawe en ook mense wat vry is in Israel. Soos ’n mens beesmis verbrand totdat dit as is, so sal Ek doen met die koningshuis van Jerobeam.

11. Wanneer iemand van die nageslag van Jerobeam in die stad sterf, dan sal die honde hom opvreet, en wanneer iemand in die veld sterf, dan sal die voëls hom opvreet.

12. En jy, Mevrou, staan op en gaan huis toe. Die kind sal sterf wanneer jy in die stad inkom.

13. Die hele Israel sal oor hom rou en hulle sal hom begrawe. Hy is die enigste een van die nageslag van Jerobeam wat hulle in ’n graf sal begrawe, want die Here, die God van Israel, het gesien dat daar in die hele koningshuis van Jerobeam net in hierdie kind iets is wat goed is.

14. Die Here sal self ’n koning laat kom wat almal in die koningshuis van Jerobeam sal doodmaak, en dit sal gou gebeur.

15. Die Here sal op die mense van Israel afkom soos ’n watervloed wat riete laat bewe. Hy sal hulle weggooi uit hierdie goeie land wat Hy vir hulle voorvaders gegee het en Hy sal hulle na al die kante toe jaag tot anderkant die Eufraat-rivier. Hy sal dit doen omdat hulle gewyde pale gemaak het en so die Here kwaad gemaak het.

16. Die Here sal Israel los omdat Jerobeam hierdie sonde gedoen het en omdat hy die mense van Israel sonde laat doen het.”

17. Jerobeam se vrou het opgestaan en sy het teruggegaan na die stad Tirsa. Toe sy by die deur van die paleis kom, het die kind gesterf.

18. Die mense van Israel het hom begrawe en hulle het almal oor hom gerou. Die Here het voorheen gesê sy dienaar die profeet Agija moet sê dat dit so sal gebeur.

Jerobeam sterf

19. Al die ander dinge wat Jerobeam gedoen het, hoe hy oorlog gemaak het en hoe hy regeer het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

20. Jerobeam was 22 jaar lank koning. Hy het gesterf, en sy seun Nadab het koning geword ná hom.

Rehabeam, koning van Juda

21. Rehabeam seun van Salomo was koning in die land Juda. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Die Here het Jerusalem gekies van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was Naäma, sy was ’n Ammonitiese vrou.

Die sondes van die mense van Juda

22. Die mense van Juda het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hulle het Hom baie kwaad gemaak omdat hulle daardie sondes gedoen het. Hulle het Hom meer kwaad gemaak as hulle voorvaders.

23. Hulle het ook vir hulle offer-plekke gebou en klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

24. Daar was ook tempel-prostitute in die land. Die mense van Juda het verkeerde dinge gedoen, dinge wat die Here haat. Hulle het dieselfde dinge gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die Israeliete.

Koning Sisak van Egipte het Jerusalem aangeval

25. In die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het, het koning Sisak van Egipte Jerusalem aangeval.

26. Hy het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.

27. Koning Rehabeam het skilde van brons laat maak in die goue skilde se plek, en hy het die skilde vir die hoofde van die wagte gegee wat voor die paleis waggestaan het.

28. Elke maal wanneer die koning na die tempel gegaan het, dan het die wagte die skilde gedra. Daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer.

Rehabeam sterf

29. Al die ander dinge wat Rehabeam gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

30. Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam.

31. Rehabeam het gesterf en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad. Sy ma was Naäma, sy was ’n Ammonitiese vrou. Rehabeam se seun Abia het koning geword ná hom.