hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7 Bybel vir Almal (ABA)

Salomo bou sy paleis

1. Salomo het die paleis gebou, en ná 13 jaar was alles klaar.

2. Die houthuis was 100 el lank en 50 el breed en 30 el hoog. Daar was vier rye pilare van sederhout, en bo-op die pilare was daar sederhout pale.

3-4. Daar was drie verdiepings, en op elke verdieping was drie rye vensters oorkant mekaar. Onder die verdiepings was 45 pilare, 15 pilare in ’n ry, en bo-oor was ’n dak.

5. Al die deure en hulle rame was vierkantig. Daar was drie deure aan elke kant, oorkant mekaar.

6. Salomo het ’n pilaargang gebou, dit was 50 el lank en 30 el breed. By die voorkant was daar ’n voorportaal en ’n dak op pilare.

7. Hy het ook ’n troonsaal gebou. Dit was ’n hofsaal waar hy sou sit wanneer hy oordeel. Hy het die mure van die saal met sederhout toegemaak, die hout was van die vloer tot teen die dak.

8. Sy eie huis waar hy gewoon het, was op ’n ander stuk grond weg van die troonsaal en dit het gelyk soos die troonsaal. Hy het ook ’n huis gebou vir die farao se dogter met wie hy getrou het. Dit het soos die troonsaal gelyk.

9. Hulle het spesiale klippe gebruik om al die mure te bou, binne en buite, van die fondamente tot bo. Die werkers het die klippe klaar gekap so groot soos hulle moes wees.

10. Hulle het ook spesiale en groot klippe gebruik om die fondamente te bou. Party klippe was tien el lank en party was ag el lank.

11. Die mure bo-op die fondamente was van duur klip en sederhout.

12. Die muur rondom die groot oop stuk grond was van drie rye klippe opmekaar en dan een ry sederhout. Die mure van die binneste oop stuk grond by die tempelgebou en die voorportaal van die tempel was ook so.

Die werk van Hiram van Tirus

13. Koning Salomo het vir Hiram uit Tirus laat haal.

14. Hiram was die seun van ’n weduwee van die Naftali-stam. Sy pa was ’n man van die stad Tirus. Hiram was ’n ambagsman wat met brons kon werk. Hy was vaardig en hy het geweet hoe om al die werk met brons te doen. Hiram het na koning Salomo toe gekom en hy het al sy werk gedoen.

15. Hy het die twee brons-pilare gemaak. Elke pilaar was 18 el hoog en dit was twaalf el rondom.

16. Hy het twee kapitele gemaak om bo-op die pilare te sit. Die kapitele was van brons en elke kapiteel was vyf el hoog.

17. Hy het rondom elke kapiteel ’n net gemaak, hy het dit gevleg, en op elke net het hy sewe kettings vasgesit.

18. Hy het ook op elke net twee rye granate vasgesit.

19. Die pilare het by die voorportaal gestaan. Die boonste dele van die kapitele het gelyk soos blomme en dit was vier el hoog.

20. Die kapitele was bo-op die pilare. Rondom elke kapiteel, langs die net, waar die blom dikker word, was 200 granate in rye.

21. Hiram het die pilare regop laat staan by die voorportaal van die tempel. Hy het die pilaar by die suidekant Jakin genoem en die pilaar by die noordekant het hy Boas genoem.

22. Nadat hy die blomme bo-op die pilare vasgesit het, was die pilare klaar.

23. Hiram het die waterbak gemaak. Dit was tien el breed, vyf el hoog en 30 el rondom.

24. Onderkant en rondom die rand van die waterbak was twee rye kalbasse, daar was tien kalbasse in elke el. Hiram het die kalbasse saam met die waterbak gemaak.

25. Die waterbak het gestaan op die beelde van twaalf beeste. Die beeste het na buite gekyk, drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste.

26. Die kant van die waterbak was ’n handbreedte dik en die rand was soos die rand van ’n beker. Dit het soos ’n blom gelyk. Die waterbak kon 2 000 bat hou.

27. Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was vier el lank, vier el breed en drie el hoog.

28-36. Hiram het die waentjies só gemaak: Op die kante van die waentjies het hy leeus en beeste en gerubs uitgesny. Bo en onder die leeus en die beeste het hy kransies uitgesny. Hy het vir elke waentjie vier wiele van brons gemaak. Die vier wiele was onder die kante van die waentjies en die asse van die wiele was onder die waentjies. Elke wiel was een en ’n halwe el hoog. Die wiele het gelyk soos die wiele van ’n wa en hulle was heeltemal van brons. Die asse was ook van brons en dit was vas aan die vier voetstukke. Bo-op die waentjies was kassies, die was-skottels het daarin gepas. Daar was kransies langs die kante van die kassies. Die kassies was een el hoog, en die gat waarin die was-skottel moes kom, was een en ’n halwe el breed. Rondom die gat was daar graveerwerk en ’n band wat ’n halwe el hoog was. Die kante van die kassies was vierkantig, dit was nie rond nie. Daar was handvatsels aan elke hoek, en op die kante van die kassies en op die handvatsels het Hiram gerubs en leeus en palmbome uitgesny.

37. Dit is hoe Hiram die waentjies gemaak het. Die waentjies was ewe groot en hulle het dieselfde gelyk.

38. Hiram het vir elke waentjie ’n was-skottel van brons gemaak. Elke skottel kon 40 bat hou, en bo was dit vier el breed.

39. Hiram het die waentjies voor die tempel gesit, vyf waentjies langs die suidekant en vyf langs die noordekant. Hy het die waterbak langs die suid-oostelike kant van die tempel gesit.

40. Daarna het Hiram die bakke en die grawe en die skottels gemaak. Hy het al die werk by die tempel klaargemaak vir koning Salomo.

41. Dit was die twee pilare en die kapitele bo-op die pilare en die nette,

42. die 400 granate in twee rye op die nette langs die voorkante van die pilare,

43. die tien waentjies en die tien was-skottels bo-op die waentjies,

44. die een waterbak en die twaalf beeste onder die waterbak,

45. die potte en grawe en skottels en al die gereedskap van die tempel.Hiram het alles vir koning Salomo gemaak van brons wat hy glad geskuur en blink gevryf het.

46. Hy het alles gesmelt in die kleigrond by die Jordaan-rivier tussen die stede Sukkot en Saretan.

47. Salomo het nie hierdie goed geweeg nie, want die brons was te veel om te weeg.

48. Salomo het ook al die ander goed laat maak wat in die tempel moes wees: die goue altaar, die goue tafel waarop die offer-brood moes kom,

49. die lampstaanders van skoon goud, vyf lampstaanders regs en vyf lampstaanders links voor die binneste kamer, die blomme en die lampe en die tangetjies,

50. die bakke, die skêre, die skottels, die panne en die vuurbakke, alles van skoon goud, die goue skarniere vir die deure van die binneste en die voorste kamers van die tempel.

51. Toe al die werk by die tempel klaar was, die werk wat koning Salomo gesê het hulle moet doen, het hy die wydingspresente van sy pa Dawid gebring en hy het dit in die stoorkamers van die tempel gesit. Dit was silwer en goud en ander goed.