hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18 Bybel vir Almal (ABA)

Wie is die belangrikste?

1. ’n Kort tydjie daarna het die dissipels na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Wie is die belangrikste mens oor wie God regeer, God wat in die hemel is?”

2. Jesus het ’n kindjie geroep om nader te kom en Hy het die kindjie voor hulle laat staan.

3. Jesus het vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet julle hele lewe verander en soos kinders word. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, God die Koning wat in die hemel is.

4. Elkeen wat soos hierdie kindjie dink hy is nie belangrik nie, hy sal die belangrikste mens wees oor wie God regeer, God wat in die hemel is.

5. En wanneer iemand vir een so ’n kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê so iemand Ek is ook welkom by hom.”

Dinge wat ’n mens laat ophou glo

6. “En as iemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat ophou glo, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle ’n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom op die diepste plek in die see laat verdrink.

7. God sal dit sleg laat gaan met mense wat ander mense laat ophou glo. Daar sal altyd dinge wees wat mense laat ophou glo, maar dit sal sleg gaan met iemand wat ander mense laat ophou glo.

8. As dit jou hand of jou voet is wat jou laat ophou glo, kap dit af en gooi dit weg. Dit is beter om net een hand of een voet te hê en die ewige lewe te kry as om twee hande en twee voete te hê en na die vuur te gaan wat altyd brand.

9. As dit jou oog is wat jou laat ophou glo, ruk dit uit en gooi dit weg. Dit is beter om net een oog te hê en die ewige lewe te kry, as om met twee oë in die hel te brand.”

Die gelykenis van die skaap wat weggeraak het

10. Jesus het ook gesê: “Julle moet nooit dink dat een van hierdie kleintjies wat in My glo, nie belangrik is nie. Want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemel het wat altyd by my Vader is, my Vader wat in die hemel is.

12. Wat sal gebeur wanneer ’n man 100 skape het, en een van hulle raak weg? Wat dink julle sal die man doen? Hy sal die ander 99 skape daar op die berg los en hy sal die een skaap gaan soek wat weggeraak het.

13. Ek sê vir julle, en dit is seker: As hy die een skaap kry wat weg was, dan sal hy baie bly wees, hy sal blyer wees oor daardie skaap as oor die 99 skape wat nie weggeraak het nie.

14. Julle Vader in die hemel wil ook nie hê een van hierdie mense moet verlore gaan nie, hierdie mense wat nie belangrik is nie.”

’n Gelowige wat sonde doen

15. “As een van die ander gelowiges sonde gedoen het teen jou, dan moet jy eers met hom raas waar julle twee alleen is. As hy luister na jou, dan is hierdie gelowige weer saam met jou.

16. Maar as hy nie wil luister na jou nie, dan moet jy nog een of twee gelowiges saam met jou neem. Die Ou Testament sê twee of drie getuies moet sê wat gebeur het.

17. Maar as hy ook nie na hulle wil luister nie, dan moet jy dit vir die gemeente sê. En as hy ook nie na die gemeente wil luister nie, dan moet hy vir julle wees soos ’n heiden en ’n tollenaar.

18. Ek sê vir julle, en dit is seker: Almal wat nie by julle die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.

19. Ek sê vir julle nog iets, en dit is seker: Wanneer twee van julle hier op aarde bid en saamstem oor enige iets wat julle vir God vra, dan sal my Vader wat in die hemel is, dit vir hulle gee.

20. Want waar twee of drie van julle bymekaar is om My te aanbid, daar is Ek by hulle.”

Die gelykenis van die slaaf wat nie wou vergewe nie

21. Toe het Petrus na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Here, hoeveel maal moet ek ’n ander gelowige vergewe wanneer hy sonde doen teen my? Moet ek hom baie maal vergewe, tot sewe maal?”

22. Jesus sê toe vir Petrus: “Ek sê vir jou: Jy moet hom nie net sewe maal vergewe nie, maar sewentig maal sewe maal.

23. Ek sê dit, want God wat in die hemel is, is Koning. Dit is soos wanneer ’n koning besluit om te vra wat sy amptenare met sy geld gedoen het.

24. En toe hy begin vra wat hulle gedoen het, het hulle een amptenaar na hom toe gebring wat vir die koning 10 000 talente geskuld het.

25. Die amptenaar kon nie sy skuld betaal nie, en daarom het die koning gesê hulle moet die amptenaar verkoop, en ook sy vrou en sy kinders en alles wat hy gehad het. Hulle moes die geld dan gebruik om sy skuld te betaal.

26. “Die amptenaar het toe gekniel voor die koning en hy het hom gesoebat en gesê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my. Ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’

27. Die koning was toe baie jammer vir die amptenaar. Hy het hom laat gaan en hy het gesê dit is nie nodig dat die amptenaar die skuld betaal nie.

28. Toe daardie amptenaar uitgaan, kry hy een van die ander amptenare wat vir hom geld geskuld het, hy het net 100 silwer geldstukke geskuld. Hy gryp hom toe aan die keel en begin om hom te wurg en hy sê: ‘Jy moet betaal wat jy vir my skuld!’

29. Die ander amptenaar val toe op sy knieë voor hom en soebat en sê: ‘Jy moet asseblief geduldig wees met my, ek sal alles terugbetaal wat ek vir jou skuld.’

30. Maar die eerste amptenaar wou nie. Hy het gegaan en hy het die ander amptenaar in die tronk laat gooi. Hy moes daar bly totdat hy die skuld betaal het.

31. Toe die ander amptenare sien wat gebeur het, het hulle baie hartseer geword. Hulle gaan toe en vertel vir die koning alles wat gebeur het.

32. Toe roep die koning die eerste amptenaar en sê vir hom: ‘Jy is ’n slegte amptenaar! Jy het gesoebat en ek het gesê jy mag die geld hou, dit is nie nodig dat jy daardie skuld betaal nie.

33. Jy moes ook jammer gewees het vir die ander amptenaar, soos ek jammer was vir jou.’

34. Die koning was baie kwaad. Hy het die amptenaar vir die tronkbewaarders gegee. Hulle moes aanhou om hom te slaan totdat hy alles betaal het wat hy skuld.

35. My Vader in die hemel sal dieselfde doen met julle as julle nie mekaar wil vergewe nie. Julle moet dit doen met julle hele hart.”