hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27 Bybel vir Almal (ABA)

Die Jode vat vir Jesus na Pilatus toe

1. Vroeg die volgende oggend het al die priesterleiers en die familieleiers van die volk planne gemaak teen Jesus om Hom dood te maak.

2. Hulle het Jesus met boeie vasgemaak en Hom weggevat en hulle het Hom vir die goewerneur Pilatus gegee om Hom te straf.

Judas sterf

3. Judas wat vir Jesus verraai het, het gehoor dat die Joodse Raad besluit het dat Jesus skuldig is en dat Hy moet sterf. Judas was toe jammer en hy het die 30 silwer geldstukke teruggegee vir die priesterleiers en die familieleiers.

4. Hy het gesê: “Ek het sonde gedoen, want ek het ’n onskuldige man verraai, en nou moet Hy sterf.”Maar die priesterleiers en die familieleiers het vir hom gesê: “Dit is nie ons probleem nie! Dit is jou probleem!”

5. Judas het toe die geld in die tempel gegooi en hy het weggegaan en homself opgehang.

6. Die priesterleiers het die geld geneem en gesê: “Ons kan dit nie by die tempel se geld sit nie, want dit is bloedgeld.”

7. Hulle het saam planne gemaak, en toe het hulle die geld geneem en hulle het die grond van die pottebakker gekoop sodat hulle vreemdelinge daar kon begrawe.

8. Daarom noem die mense daardie stuk grond vandag nog “Bloedgrond.”

9. So het gebeur wat die profeet Jeremia gesê het: “Hulle het die 30 silwer geldstukke geneem, dit is hoeveel die Israeliete besluit het ek moet kry.

10. En hulle het dit betaal vir die grond van die pottebakker, want dit was wat die Here vir my gesê het.”

Jesus staan voor Pilatus

11. Jesus het voor die goewerneur Pilatus gestaan. Die goewerneur het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”Jesus het vir hom gesê: “Jy sê self Ek is.”

12. Die priesterleiers en die familieleiers het vir Jesus beskuldig, maar Hy het niks geantwoord nie.

13. Pilatus vra toe weer vir Jesus: “Hoor jy al hierdie dinge wat hulle teen jou sê?”

14. Maar Jesus het nie een van die goewerneur se vrae geantwoord nie. En die goewerneur was baie verbaas.

Die Jode sê Jesus moet sterf

15. Elke jaar wanneer die Jode Paasfees vier, het die goewerneur een gevangene uit die tronk laat uitkom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees.

16. In daardie tyd was daar ’n baie slegte gevangene in die tronk. Sy naam was Jesus Barabbas.

17. Daar was ’n groot klomp mense daar bymekaar. Pilatus het vir hulle gevra: “Wie wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom: Jesus Barabbas of Jesus vir wie die mense Christus noem?”

18. Die goewerneur het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was.

19. Die goewerneur het op die regterstoel gaan sit. Toe het sy vrou vir hom ’n boodskap gestuur en gesê: “Jy moet niks aan daardie onskuldige man doen nie, want ek het in die nag baie swaar gekry, ek het van hom gedroom.”

20. Die priesterleiers en die familieleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat uitkom, en vir Jesus moet laat doodmaak.

21. Die goewerneur vra toe weer vir die mense: “Wie van die twee mense wil julle hê moet ek vir julle uit die tronk laat kom?”En hulle het geantwoord: “Barabbas!”

22. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met Jesus vir wie julle Christus noem?”Die mense het almal gesê: “Kruisig hom!”

23. Pilatus het gevra: “Wat het hy verkeerd gedoen?”Maar die mense het aangehou om baie hard te skree: “Kruisig hom!”

24. Pilatus sien toe dat alles wat hy doen, niks help nie. Die mense het nog meer kwaad geword en hulle het geskree en geraas. Pilatus neem toe water en hy was sy hande sodat al die mense dit kan sien, en hy sê: “Ek is onskuldig as hierdie man moet sterf. Dit is júlle wat besluit hy moet sterf.”

25. En al die mense het gesê: “Ja, dit is ons en ons nageslag wat skuldig sal wees as hy sterf.”

26. Toe het Pilatus vir Barabbas uit die tronk laat kom, hy het gedoen wat die mense gevra het. Hy het vir Jesus met ’n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig.

Die soldate spot vir Jesus

27. Die soldate het Jesus na die goewerneur se huis geneem. Hulle het al die ander soldate geroep om saam te gaan.

28. Hulle het Jesus se klere uitgetrek en hulle het ’n pers bo-kleed om Hom gehang.

29. Hulle het ’n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit. Hulle het ’n dik riet in sy regter-hand gesit. Die soldate het voor Hom gekniel en Hom gespot en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!”

30. Hulle het op Hom gespoeg en hulle het die riet geneem en aangehou om Jesus daarmee op sy kop te slaan.

31. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers bo-kleed uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Die soldate het Jesus weggeneem sodat hulle Hom kon kruisig.

Die soldate kruisig vir Jesus

32. Toe hulle uit Jerusalem uitgaan, het hulle ’n man van die stad Sirene gesien. Sy naam was Simon. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra.

33. Hulle kom toe by die plek wat die mense Golgota noem. Golgota beteken “Plek van die kopbeen.”

34. Hulle het vir Jesus wyn gegee wat hulle met gal gemeng het, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35. Die soldate het vir Jesus gekruisig en elke soldaat het van Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry.

36. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas.

37. Hulle het bokant Jesus se kop op ’n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”

38. Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en

40. hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!”

41. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê:

42. “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo!

43. Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ”

44. Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

Jesus sterf

45. Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur.

46. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit beteken “My God, my God, hoekom het U My gelos?”

47. Party van die mense wat daar gestaan het, het dit gehoor en hulle het gesê: “Hierdie man roep vir Elia!”

48. Een van hulle het dadelik gehardloop en ’n spons geneem en hy het dit vol suur wyn gemaak. Hy het dit op ’n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink.

49. Maar die ander mense het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom te red.”

50. Jesus het weer hard geskree en Hy het gesterf.

51. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. God het die aarde laat bewe en Hy het die rotse laat oopskeur.

52. God het ook die grafte laat oopgaan en Hy het baie gelowiges wat gesterf het, weer laat lewe,

53. en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Nadat Jesus weer begin lewe het, het hulle in Jerusalem, die gewyde stad, ingegaan, en baie mense het hulle gesien.

54. Die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus opgepas het, het die aardbewing gesien en alles wat gebeur het. Hulle was toe baie bang en hulle het gesê: “Hierdie man was regtig die Seun van God!”

55. Daar was baie vroue wat ’n bietjie verder gestaan en kyk het. Hulle het van Galilea saam met Jesus gekom om vir Hom te sorg.

56. Maria Magdalena en Maria ma van Jakobus en Josef was daar, en ook die vrou van Sebedeus.

Josef van Arimatea sit Jesus se liggaam in ’n graf

57. Dit was al laat en amper aand. Daar kom toe ’n ryk man van die stad Arimatea. Sy naam was Josef. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het gevra of hy Jesus se liggaam kan kry. Toe het Pilatus gesê die soldate moet Jesus se liggaam vir Josef gee.

59. Josef het Jesus se liggaam geneem en hy het dit in ’n skoon lap toegedraai.

60. Hy het Jesus se liggaam in sy eie nuwe graf gesit wat hy in ’n rots laat kap het. Hy het ’n groot klip voor die graf gerol en weggegaan.

61. Maria Magdalena en die ander Maria was daar en hulle het voor die graf gesit.

Soldate pas Jesus se graf op

62. Die volgende dag was dit die Sabbatdag, die dag ná die Vrydag. Die priesterleiers en die Fariseërs het by Pilatus bymekaargekom

63. en hulle het vir Pilatus gesê: “Meneer, ons onthou dat daardie man die mense bedrieg het toe hy gelewe het en gesê het: ‘Ná drie dae sal God My weer laat lewe.’

64. Jy moet vir die soldate sê hulle moet die graf drie dae lank oppas. As jy dit nie doen nie, dan sal sy dissipels miskien kom en hulle sal sy liggaam steel en vir die volk sê hy lewe weer. Hierdie nuwe leuen sal groter wees as die eerste leuen, toe hy gesê het dat hy die Christus is.”

65. Pilatus sê toe vir hulle: “Neem ’n groep soldate en sê hulle moet die graf goed oppas. Julle weet hoe om dit te doen.”

66. Die Joodse leiers het toe gegaan en hulle het gesê die soldate moet die graf oppas. Hulle het die klip voor die ingang verseël en hulle het die soldate daar laat bly om die graf op te pas.