hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus maak ’n melaatse man gesond

1. Jesus het afgekom van die berg, en baie mense het saam met Hom gegaan.

2. Daar kom toe ’n melaatse man na Jesus toe en hy kniel voor Hom. Hy het vir Jesus gesê: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3. Jesus het sy hand uitgesteek en aan die man geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.”Die man het dadelik gesond geword. Hy was nie meer melaats nie.

4. Jesus het vir die man gesê: “Jy mag vir niemand vertel Ek het jou gesond gemaak nie. Maar gaan wys vir die priester jy is gesond, en bring dan die offer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal die priesters weet jy het rein geword.”

Jesus maak ’n Romeinse offisier se slaaf gesond

5. Jesus het na die stad Kapernaum gegaan. Toe Hy in die stad inkom, het ’n Romeinse offisier na Hom toe gekom. Hy het gesoebat dat Jesus hom moet help.

6. Hy het vir Jesus gesê: “Here, my slaaf lê baie siek by die huis. Hy kan nie beweeg nie, hy is lam en hy het baie pyn.”

7. Jesus sê toe vir hom: “Ek sal na jou huis kom en Ek sal hom gesond maak.”

8. Maar die offisier sê vir Jesus: “Nee, Here, ek is nie ’n Jood nie, ek is nie goed genoeg dat U in my huis kan inkom nie. U kan net sê die siekte moet weggaan, dan sal my slaaf gesond word.

9. Ek is self ’n man wat moet doen wat ’n belangriker offisier vir my sê, en ek het soldate wat moet doen wat ek vir hulle sê. Wanneer ek vir een van hulle sê hy moet gaan, dan gaan hy. En wanneer ek vir ’n ander een sê hy moet kom, dan kom hy. Wanneer ek vir my slaaf sê hy moet iets doen, dan doen hy dit.”

10. Toe Jesus hoor wat die offisier gesê het, was Hy baie verbaas. Hy sê toe vir al die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek het nog nooit ’n Israeliet gesien wat so sterk glo soos hierdie man glo nie.

11. Ek sê vir julle: Baie mense sal eendag kom van oral op die aarde. Hulle sal saam met Abraham, Isak en Jakob kom eet en feesvier in die hemel waar God die Koning is.

12. Maar die mense wat dink net húlle is die kinders van Abraham, Isak en Jakob, en wat dink God is net húlle koning, God sal hulle uitgooi in die donker plek. Daar sal die mense huil en hard op hulle tande byt van die pyn.”

13. Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug na jou huis. Wat jy geglo het, sal gebeur.”En sy slaaf het presies op daardie tyd gesond geword.

Jesus maak Petrus se skoonma en ander siek mense gesond

14. Jesus het na Petrus se huis gegaan. Hy het gesien Petrus se skoonma is siek in die bed en sy het ’n hoë koors.

15. Jesus het aan haar hand geraak, en die koors het weggegaan. Sy het toe opgestaan en vir Hom kos gegee.

16. Daardie aand het hulle baie mense na Jesus toe gebring, daar was duiwels in die mense. Jesus het met die onrein geeste gepraat en Hy het hulle uitgejaag. Hy het ook al die siek mense gesond gemaak.

17. Jesus het dit gedoen, sodat dit waar kan word wat die profeet Jesaja gesê het:“Hy het self ons pyn gedraen Hy het ons siektesweggeneem.”

Wat dit beteken om Jesus te volg

18. Jesus het gesien daar is baie mense by Hom. Toe sê Hy vir sy dissipels hulle moet saam met Hom gaan na die ander kant van die See van Galilea.

19. Daar het ’n skrifgeleerde na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Meneer, ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.”

20. Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls woon in neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie ’n plek waar Ek kan woon nie.”

21. Een van die ander mense sê toe vir Hom: “Here, ek moet eers wag tot my pa dood is en ek hom begrawe het, dan sal ek saam met U gaan.”

22. Maar Jesus antwoord hom: “Kom nou saam met My. Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het.”

Jesus maak die storm stil

23. Jesus het in die boot geklim en sy dissipels het saam met Hom gegaan.

24. Daar het ’n baie groot storm op die see gekom en die branders het bo-oor die boot geslaan. Maar Jesus het vas geslaap.

25. Die dissipels het na Jesus toe gegaan en hulle het Hom wakker gemaak. Hulle sê toe vir Hom: “Here, help ons! Ons sal verdrink!”

26. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Hoekom is julle geloof so min?”Jesus het opgestaan en Hy het kwaai gepraat met die wind en die see. Die see het stil en kalm geword.

27. Die dissipels was baie verbaas en hulle het gesê: “Hy is nie ’n gewone mens nie, ook die wind en die see luister na Hom.”

Jesus jaag duiwels uit twee mans

28. Jesus het gekom in die land van die Gadareners anderkant die See van Galilea. Twee mense het na Hom toe gekom. Hulle het duiwels in hulle gehad en hulle het tussen die grafte uitgekom. Hierdie mense was baie gevaarlik, niemand kon op daardie pad loop nie.

29. Skielik het hulle vir Jesus begin skree: “Wat wil U met ons doen, Seun van God? Het U hiernatoe gekom om ons voor die tyd te straf en seer te maak?”

30. ’n Groot klomp varke het daar naby geloop en wei.

31. Die duiwels het aangehou om vir Jesus te soebat en te vra: “As U ons uitjaag uit hierdie twee mense, stuur ons dan asseblief in die klomp varke in.”

32. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, gaan!”Die duiwels het uitgegaan uit die twee mense en hulle het in die varke ingegaan. Al die varke het dadelik teen die berg afgehardloop tot binne-in die water en hulle het verdrink.

33. Die wagters wat die varke opgepas het, het weggehardloop. Hulle het na die stad gegaan en vir die mense alles vertel wat gebeur het. Hulle het ook vertel wat gebeur het met die twee mense wat die duiwels in hulle gehad het.

34. Al die mense van die stad het na Jesus toe gegaan om Hom te ontmoet. Toe hulle vir Jesus sien, het hulle vir Hom gesoebat om weg te gaan van hulle plek.