hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28

Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 15 Bybel vir Almal (ABA)

God se wette en die reëls van mense

1. Daar kom toe Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem na Jesus toe en hulle vra vir Hom:

2. “Hoekom is jou dissipels ongehoorsaam en doen hulle nie wat ons voorouers altyd gedoen het nie? Jou dissipels was nie hulle hande wanneer hulle gaan eet nie.”

3. Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom is julle ongehoorsaam en doen julle nie wat Gód gesê het nie? Maar julle hou aan om te doen wat mense sê.

4. God het gesê: ‘Jy moet jou ouers respekteer.’ Hy het ook gesê: ‘As iemand sy pa of sy ma vervloek, dan moet hy sterf. Dit is seker!’

5. Maar julle sê iemand mag vir sy pa of ma sê: ‘Ek kan julle nie help nie, want die goed wat ek vir julle moes gee, het ek vir die Here gegee.’

6. “So iemand respekteer nie sy pa en sy ma nie. Julle doen nooit wat God vir julle sê nie, julle doen net wat julle voorouers vir julle gesê het.

7. Julle is skynheilig. Dit is waar wat die profeet Jesaja oor julle gesê het. Hy het gesê:

8. “Hierdie volk sêhulle respekteer My,maar dit is nie waar nie,hulle harte is ver van my.

9. Dit help niks om Godso te dien nie.Want hulle leer vir die mense wettewat hulle self gemaak heten dan sê hulledit is God se wette.”

Dinge wat ’n mens onrein maak

10. Jesus het die mense na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle moet luister, sodat julle kan verstaan wat Ek sê.

11. Dit is nie die kos wat by ’n mens se mond ingaan wat hom onrein maak nie. ’n Mens word onrein van die dinge wat uit sy mond uitgaan, die dinge wat hy sê.”

12. Toe het die dissipels na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Weet U die Fariseërs het baie kwaad geword toe hulle hoor wat U sê?”

13. Jesus sê toe vir hulle: “My Vader wat in die hemel is, sal elke plant uittrek wat Hy nie geplant het nie.

14. Moenie luister na wat die Fariseërs sê nie. Hulle is soos blinde mense wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Wanneer een blinde vir ’n ander blinde wil wys waar hy moet loop, dan sal hulle altwee in ’n watersloot val.”

15. Petrus vra toe vir Jesus: “Verduidelik asseblief vir ons wat die gelykenis beteken.”

16. Jesus het vir hom gesê: “Julle is my dissipels, maar ook júlle verstaan dit nou nog nie.

17. Julle weet dat die kos wat in ’n mens se mond ingaan, na sy maag gaan en dan weer uit sy liggaam uitgaan.

18. Maar die woorde wat uit ’n mens se mond kom, kom uit sy hart. Dit is hierdie dinge wat ’n mens onrein maak.

19. Want die slegte dinge wat ’n mens dink, kom van binne, uit ’n mens se hart. Dit is daardie slegte gedagtes wat hom sonde laat doen, soos om mense te vermoor, of egbreuk te pleeg, of seks te hê met iemand met wie jy nie mag nie, of te steel of te lieg of sleg te praat van ander mense.

20. Dit is daardie dinge wat ’n mens onrein maak. Maar as jy nie jou hande gewas het voor jy eet nie, maak dit jou nie onrein nie.”

Die geloof van ’n vrou wat nie ’n Jood was nie

21. Jesus het weggegaan na plekke naby die stede Tirus en Sidon.

22. ’n Kanaänitiese vrou van daardie stede het gekom en sy het aangehou skree. Sy het gesê: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir my en U moet my help! Daar is ’n duiwel in my dogter en dit gaan baie sleg met haar.”

23. Maar Jesus het nie die vrou geantwoord nie. Sy dissipels kom toe na Hom toe en hulle het aangehou om vir Hom te vra: “Sê vir die vrou sy moet weggaan, want sy loop saam met ons en sy hou aan skree.”

24. Toe sê Jesus: “God het My gestuur net na die mense van Israel. Hulle is soos verlore skape.”

25. Maar die vrou het na Jesus toe gekom en sy het voor Hom gekniel en gesê: “Here, help my asseblief!”

26. Jesus het vir haar gesê: “Die Jode is die kinders van God. Dit is nie reg om die kinders se brood te vat en dit vir die hondjies te gooi nie.”

27. Die vrou sê toe vir Jesus: “Dit is waar, Here, maar ook die hondjies eet van die krummels wat afval van die tafels van hulle eienaars.”

28. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jou geloof is groot. Wat jy wil hê, sal gebeur.”En God het die vrou se dogter op daardie oomblik gesond gemaak.

Jesus maak baie siek mense gesond

29. Jesus het weggegaan en Hy het langs die See van Galilea gekom. Hy het teen die berg opgegaan en daar gaan sit.

30. ’n Klomp mense het na Hom toe gekom. Hulle het mense saamgebring wat verlam was, of blind, of kreupel, of doof en stom, en hulle het ook baie ander siek mense gebring. Hulle het die siek mense voor Jesus se voete neergesit en Hy het hulle gesond gemaak.

31. Die mense was verbaas toe hulle sien dat die mense wat doof en stom was, kan praat, dat die kreupel mense gesond is en dat die blindes kan sien. En hulle het die God van Israel geprys.

Jesus gee vir 4 000 mense kos

32. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie. Ek wil hulle nie honger wegstuur huis toe nie, want hulle sal flou word voordat hulle by die huis is.”

33. Die dissipels vra toe vir Jesus: “Waar sal ons so baie brood kry dat ons vir hierdie klomp mense genoeg kan gee om te eet? Ons is ver van ’n stad, hier woon niemand nie.”

34. Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?”En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode en ’n paar klein vissies.”

35. Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet.

36. Hy het die sewe brode en die visse geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee, en die dissipels het dit vir die mense gegee.

37. Almal het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies opgetel wat oorgebly het, dit was sewe groot mandjies vol.

38. Daar was 4 000 mans wat geëet het. Daar was ook nog vroue en kinders.

39. Daarna het Jesus al die mense huis toe gestuur. Toe het Jesus in ’n boot geklim en na plekke naby die stad Magadan gegaan.