hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 4 Afrikaans 1983 (AFR83)

Gehoorsaam die Here!

1. “Israeliete, julle moet luister na die voorskrifte en die bepalings waarin ek julle onderrig. Julle moet daarvolgens lewe, dan sal julle bly lewe en die land binnegaan en in besit neem wat die Here die God van julle voorvaders vir julle sal gee.

2. Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het.

3. Julle eie oë het gesien wat die Here by Baäl-Peor gedoen het: elkeen wat vir Baäl-Peor gedien het, is deur die Here julle God tussen julle uit verdelg.

4. Maar julle wat getrou gebly het aan die Here julle God, lewe vandag nog almal.

5. Kyk, ek het julle die voorskrifte en die bepalings geleer soos die Here my God my beveel het. Julle moet daarvolgens lewe wanneer julle in die land kom en dit in besit neem.

6. Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: ‘Net hierdie groot nasie het wysheid en insig.’

7. Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?

8. Watter groot nasie se voorskrifte en bepalings is so billik as hierdie wet wat ek vandag vir julle gee?

9. “Pas net op en wees baie versigtig om so lank julle leef, nie hierdie dinge wat julle gesien het, te vergeet of te verontagsaam nie. Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.

10. Julle moet hulle van dié dag laat leer toe julle by Horebberg gestaan het in die teenwoordigheid van die Here julle God, van dié dag toe Hy vir my gesê het: ‘Maak die volk vir My bymekaar dat Ek hulle my gebooie wat hulle moet ken, kan meedeel sodat hulle My kan dien so lank hulle in hierdie land lewe en sodat hulle my gebooie vir hulle kinders kan leer.’

11. “Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was 'n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het.

12. Toe het die Here uit die vuur uit met julle gepraat. Julle het woorde gehoor maar niemand gesien nie. Daar was net 'n stem.

13. Die Here het julle die bepalings van sy verbond meegedeel en julle beveel om hulle te gehoorsaam: die tien gebooie wat Hy op die twee plat klippe geskryf het.

14. Die Here het my destyds beveel om julle die voorskrifte en die bepalings te leer sodat julle daarvolgens kan lewe in die land waarheen julle sal deurtrek om dit in besit te gaan neem.

15. Pas op! Die lewe is vir julle op die spel. Die Here self het met julle op Horeb uit die vuur uit gepraat, al het julle dié dag niemand gesien nie.

16. Moenie julle eie ondergang soek deur vir julle 'n afbeelding as afgodsbeeld te maak nie: nie van 'n man of 'n vrou nie,

17. nie van enige dier op die aarde of van enige voël in die lug nie,

18. nie van enigiets wat op die aarde kruip of van enige vis in die waters onder die aarde nie.

19. “Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.

20. “Vir julle het die Here gevat en uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy volk te wees wat aan Hom behoort soos dit vandag dan ook die geval is.

21. Deur julle toedoen het die Here vir my kwaad geword en dit met 'n eed bevestig dat ek nie deur die Jordaan sou gaan en in die goeie land sou kom wat die Here julle God aan julle as besitting sal gee nie.

22. Ek sal in hierdie land sterf. Ek sal nie die Jordaan oorsteek nie, maar julle sal deurtrek en daardie goeie land in besit neem.

23. Wees versigtig om nie die verbond wat die Here julle God met julle gesluit het, te vergeet nie. Pas op om nie vir julle 'n afgodsbeeld te maak nie. Die Here jou God het jou dit verbied.

24. Die Here jou God is 'n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.

25. “Wanneer julle kinders en kleinkinders het en julle oud geword het in die land, moet julle nie julle eie ondergang soek deur 'n afgodsbeeld te maak nie, want dan doen julle wat verkeerd is in die oë van die Here julle God en tart julle Hom.

26. Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat julle dan baie gou en baie beslis sal verdwyn uit die land wat julle in besit gaan neem sodra julle deur die Jordaanrivier trek. Julle sal nie lank in die land bly woon nie, julle sal beslis uitgeroei word.

27. Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei.

28. Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie.

29. As julle die Here julle God dáár aanroep, sal Hy julle gebed verhoor as julle Hom nader in onverdeelde trou.

30. “Wanneer julle in nood verkeer deurdat hierdie dinge in die toekoms oor julle kom, moet julle terugkom na die Here julle God, en sy woord gehoorsaam.

31. Die Here julle God is 'n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met 'n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.

32. “Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is.

33. Het 'n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?

34. Het 'n god dit ooit gewaag om vir hom 'n nasie te kom vat by 'n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen.

35. Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie 'n ander is nie.

36. Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor.

37. Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit

38. om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.

39. “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog 'n god nie.

40. Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie wat ek julle vandag beveel, sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.”

Drie asielstede oos van die Jordaan

41. Toe het Moses drie stede oos van die Jordaan uitgesonder as stede

42. waarheen iemand kon vlug as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug, kon hy bly lewe.

43. Die stede was: Beser in die Woestynhoogvlakte vir Ruben, Ramot in Gilead vir Gad, en Golan in Basan vir Manasse.

Die tien gebooie

44. Dit is die wet wat Moses vir die Israeliete gegee het:

45-46. die verordeninge en voorskrifte en bepalings wat Moses aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte regoor Bet-Peor vir die Israeliete afgekondig het nadat hulle uit Egipte weggetrek het. Bet-Peor was geleë in die gebied van koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het en deur Moses en die Israeliete verslaan is nadat hulle uit Egipte weggetrek het.

47. Hulle het Sihon se gebied en dié van koning Og van Basan in besit geneem. Sihon en Og was die twee Amoritiese konings aan die oostekant van die Jordaan,

48. en hulle gebied het gestrek van Aroër op die Arnonoewer af tot by Sionsberg, dit is Hermon,

49. met insluiting van die oostekant van die Jordaanvallei tot by die see in die Jordaanvallei onderkant die Pisgahange.