hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Voorregte van die priester

1. “Die Levitiese priesters, die afstammelinge van Levi, sal nie tussen die Israeliete grond as besitting kry nie. Die hele Levistam sal die vuuroffers eet wat vir die Here gebring is, wat aan Hom behoort.

2. Die priesters kry nie 'n eie grondgebied tussen hulle volksgenote nie, Levi ontvang van wat die Here self toekom. Dit is soos die Here vir hom beloof het.

3. Die priesters mag soos volg by die volk aanspraak maak op offers wat gebring word: iemand wat 'n bees of 'n skaap kom offer, moet vir die priester die blad, die kakebene en die pens van die dier gee;

4. jy moet vir die priester die beste deel gee van jou koringoes en jou wynoes, van jou olie-opbrengs en jou wolskeersel.

5. Die Here jou God het die Levistam uit al jou stamme uitgekies om in sy diens te staan. Levi en sy nageslag moet vir altyd aan die Naam van die Here diens lewer.

6. Wanneer 'n Leviet uit enige van die Israelitiese stede waar hy as vreemdeling woon, na die plek toe wil kom wat die Here sal kies,

7. mag die Leviet aan die Naam van die Here sy God diens lewer soos al sy mede-Leviete wat daar in die teenwoordigheid van die Here diens doen.

8. So 'n Leviet moet net soveel kos as die ander Leviete kry, ongeag wat hy as erfgoed besit.”

Afskuwelike praktyke

9. “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, moet jy nie die afskuwelike praktyke van daardie nasies aanleer nie.

10. Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie 'n besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar

11. of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie.

12. Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.

13. Jy moet opreg wees voor die Here jou God.

14. Hierdie nasies wat jy gaan verdryf, luister na towenaars en besweerders. Maar die Here jou God verbied jou om dit te doen.”

'n Profeet soos Moses

15. “Die Here jou God sal 'n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.

16. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: ‘Ek kan nie weer 'n keer die stem van die Here my God aanhoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’

17. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Wat hulle gesê het, is reg.

18. Ek sal 'n profeet vir hulle na vore laat kom, een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel.

19. Ek sal self rekenskap eis van elkeen wat nie gehoorsaam is aan my woorde wat die profeet in my Naam sê nie.

20. 'n Profeet wat hom dit aanmatig om in my Naam iets te sê wat Ek hom nie beveel het nie, moet sterf. Dit geld ook van 'n profeet wat in die naam van ander gode praat.’

21. Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie?

22. moet jy weet: as 'n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”