hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle moet die Here liefhê en gehoorsaam

1. “Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie.

2. Vandag weet julle hoe die Here julle onderrig het, want julle, en nie julle kinders nie, het dit beleef en gesien: sy grootheid, sy magtige dade, sy wonderdade,

3. sy tekens, alles wat Hy in Egipte gedoen het met die farao, koning van Egipte, en sy hele land.

4. Julle het beleef wat Hy gedoen het met die leër van Egipte, sy perde en sy strydwaens wat die Here deur die water van die Rietsee laat verswelg het toe hulle julle agtervolg het. Die Here het hulle mag so gebreek dat hulle nou nog nie herstel het nie.

5. “Julle het self beleef wat Hy vir julle gedoen het in die woestyn en totdat julle tot hier gekom het,

6. wat Hy gedoen het met Datan en Abiram, seuns van Eliab seun van Ruben, toe die aarde oopgeskeur het en hulle en hulle familie en hulle eiendom, selfs al hulle vee ingesluk het voor die oë van al die Israeliete.

7. Met julle eie oë het julle al hierdie groot dade gesien wat die Here gedoen het.

8. “Julle moet alles gehoorsaam wat ek julle vandag beveel, sodat julle sterk kan optree en die land wat julle gaan verower, kan binnegaan en in besit neem.

9. As julle gehoorsaam is, sal julle baie lank bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders en hulle nageslag te gee. Dit is 'n land wat oorloop van melk en heuning.

10. Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit 'n groentetuin is.

11. Die land wat julle in besit gaan neem, is 'n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater.

12. Dit is 'n land waarvoor die Here jou God sorg: van nuwejaarsdag af tot oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor.

13. “As julle al die gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien met hart en siel,

14. sal Hy vir julle land sy reën gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal koring, wyn en olie oes.

15. Die Here sal sorg vir groen gras op julle veld vir julle vee, en julle sal oorgenoeg hê om te eet.

16. “Pas op dat julle nie verlei word om ander gode te gaan dien en vereer nie,

17. want dan sal die toorn van die Here teen julle ontvlam, en Hy sal dit nie laat reën nie, die aarde sal nie meer sy opbrengs lewer nie, en julle sal baie gou verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gee.

18. Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul. Julle moet dit as herinneringsteken vasbind aan julle hande en dit moet 'n merk op julle voorkoppe wees.

19. “Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

20. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

21. Dan sal julle en julle nageslag lank, ja, so lank as die hemel en die aarde sal bestaan, bly woon in die land wat die Here met 'n eed beloof het om aan julle voorvaders te gee.

22. “As julle al hierdie gebooie wat ek julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang,

23. sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die grondgebied van nasies wat groter en sterker is as julle, in besit neem.

24. Elke plek waar julle kom, sal julle s'n wees: van die woestyn in die suide af tot by Libanonberg in die noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die ooste af tot by die see in die weste. Dit sal julle grense wees.

25. Niemand sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, 'n skrik en angs vir julle oor die land laat kom.

26. Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor:

27. die seën sal kom as julle die gebooie van die Here julle God gehoorsaam, wat ek julle vandag gee;

28. die straf sal kom as julle ongehoorsaam is aan die gebooie van die Here julle God en die pad verlaat wat ek julle vandag aangewys het en ander gode aanhang waarvan julle nou nog nie eers weet nie.

29. Wanneer die Here julle God julle bring in die land wat julle in besit gaan neem, moet julle die seën afkondig op Gerisimberg en die straf op Ebalberg.

30. Die twee berge lê wes van die Jordaan, anderkant die pad uit die ooste, die pad uit die gebied van die Jordaanvallei, waar die Kanaäniete woon, regoor Gilgal, naby die waarsêersboom.

31. “Julle staan op die punt om deur die Jordaan te trek om die land in besit te neem wat die Here julle God aan julle gee. Wanneer julle dit in besit geneem het en daar woon,

32. moet julle al die voorskrifte en die bepalings wat ek julle vandag gegee het, gehoorsaam en daarvolgens lewe.”