hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Reëlings vir oorlog

1. “Wanneer jy teen jou vyande gaan oorlog maak en jy merk hulle het perde en strydwaens en hulle is meer as jy, moet jy nie vir die vyande bang wees nie. Die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het, is by jou.

2. Wanneer jy gereed staan om te veg, moet die priester nader kom en die volk toespreek.

3. Hy moet vir hulle sê: ‘Luister, Israel! Julle staan nou gereed om teen julle vyande te veg. Moenie bewe nie, moenie bang wees nie, moenie vreesbevange word nie, moenie vir hulle skrik nie.

4. Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’

5. “Die leiers moet vir die volk sê: ‘Wie het 'n huis gebou en dit nog nie betrek nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander sy huis betrek nie.

6. Wie het 'n wingerd geplant en nog nie van sy vrugte geëet nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander van sy wingerd eet nie.

7. Wie het verloof geraak maar is nog nie getroud nie? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie in die oorlog omkom en 'n ander met sy verloofde trou nie.’

8. Verder moet die leiers nog vir die volk sê: ‘Wie is bang? Wie bewe? Hy moet teruggaan huis toe sodat hy nie sy volksgenote laat moed verloor soos hy nie.’

9. “Wanneer die leiers met die volk gepraat het, moet daar leëraanvoerders aangestel word.

10. Wanneer jy teen 'n stad optrek om daarteen te veg, moet jy 'n vredesaanbod maak.

11. As die stad die vredesaanbod aanvaar en sy poorte vir jou oopgooi, moet al sy inwoners jou dwangarbeiders word en vir jou werk.

12. Maar as die stad nie met jou vrede sluit nie en teen jou wil oorlog maak, moet jy dit beleër.

13. Die Here jou God sal dit in jou mag oorgee. Dan moet jy al die manlike inwoners daarvan om die lewe bring,

14. maar die vrouens en klein kindertjies, die vee en alles wat in die stad is, alles wat gebuit kan word, moet jy buitmaak sodat jy kan geniet wat jy by jou vyand buitgemaak het, wat die Here jou God vir jou gegee het.

15. Dit moet jy doen met al die stede wat baie ver van jou af is, met die stede wat nie aan hierdie nasies hier by jou behoort nie.

16. Uit die stede van hierdie volke wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee word, mag jy niks laat bly lewe nie.

17. Jy moet die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete om die lewe bring as 'n banoffer aan die Here jou God soos Hy jou beveel het.

18. Hulle mag julle nie leer om al die afskuwelike afgodsbeelde te maak wat hulle vir hulle as gode gemaak het nie. Hulle mag julle nie teen die Here julle God laat sondig nie.

19. “Wanneer jy 'n stad 'n lang ruk beleër terwyl jy daarteen oorlog maak om dit in te neem, moet jy nie sy bome verwoes en dit afkap nie, want jy moet die vrugte daarvan eet. Jy mag dit nie afkap nie, want die bome op die land is nie mense dat jy teen hulle moet veg nie.

20. Net bome wat jy weet nie vrugte dra wat geëet kan word nie, mag jy beskadig. Jy kan hulle afkap om beleëringswerke te bou teen die stad wat met jou oorlog maak solank jy dit nog nie ingeneem het nie.”