hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die verbond in Moab

1. Behalwe die verbond wat Moses by Horeb met die Israeliete gesluit het, het hy op bevel van die Here ook in Moab 'n verbond met hulle gesluit. Hier volg die inhoud daarvan.

2. Moses het die hele Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het self ondervind wat die Here alles voor julle oë met Egipte, met die farao en al sy amptenare en met sy hele land gedoen het:

3. die groot rampe wat julle self gesien het, die tekens, daardie groot wonderdade.

4. En tog het die Here tot nou toe nie vir julle verstand gegee om te verstaan, oë om te sien en ore om te luister nie.

5. Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie.

6. Julle het nie brood geëet en wyn of bier gedrink nie sodat julle kon leer dat die Here julle God is.

7. Toe julle by hierdie plek aangekom het, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan opgetrek om teen ons oorlog te maak. Ons het hulle verslaan

8. en hulle land afgevat en dit as besitting gegee aan Ruben en Gad en aan die halwe Manassestam.

9. “Sorg dat julle doen wat hierdie verbond bepaal en lewe daarvolgens sodat julle voorspoedig sal wees in alles wat julle aanpak.

10. Julle staan vandag almal in die teenwoordigheid van die Here julle God. Julle is almal hier: hoofde, stamme, leiers, beamptes, elke Israeliet,

11. ook julle kinders en julle vrouens, selfs die vreemdeling wat by julle in die laer is, dié wat julle hout vir julle moet kap, en dié wat julle water vir julle moet aandra.

12. Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit,

13. sodat Hy julle vandag sy volk kan maak en Hy julle God kan word, soos Hy julle beloof het en soos Hy met 'n eed beloof het aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob.

14. Die Here het gesê: ‘Dis nie net julle met wie Ek hierdie verbond onder eed sluit nie.’

15. Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie.

16. Julle weet hoe ons in Egipte gewoon het en hoe ons tussen die nasies deurgetrek het, en hoe julle waar julle verbygetrek het,

17. hulle afskuwelike afgodsbeelde van hout en klip, van silwer en goud by hulle gesien het.

18. Pas op dat daar nie dalk onder julle 'n man of 'n vrou, 'n familie of 'n stam is wat vandag afvallig word van die Here ons God en die gode van daardie nasies gaan dien nie. As daar so iemand is, so 'n gifwortel wat alles kan vergiftig,

19. kan hy homself dalk probeer gerusstel wanneer hy hierdie woorde hoor, en kan hy dalk sê: ‘Ek is veilig al volg ek my eie harde kop.’ Maar dit sal lei tot ellende en swaarkry,

20. want die Here sal nie so iemand wil vergewe nie. Die toorn, die verontwaardiging van die Here, sal teen so iemand ontbrand en elke vloek wat in hierdie boek opgeteken is, sal hom tref. Die Here sal die herinnering aan so iemand van die aarde af wegvee.

21. Die Here sal hom van die ander stamme van Israel afsonder sodat rampe hom kan tref ooreenkomstig die verbond wat met 'n eed gesluit en in hierdie wet opgeteken is.

22. “Wanneer die nageslag, julle kinders wat ná julle kom, en vreemdes wat van ver af kom, die plae in hierdie land sien en ook die siektes wat deur die Here daarin gebring word, sal hulle sê:

23. ‘Die hele land is verbrand, dis swael en sout! Niemand saai daar nie, daar groei niks, daar kom nie eers 'n groenigheid op nie. Dit is verwoes soos Sodom en Gomorra, soos Adma en Sebojim wat deur die Here in sy gloeiende toorn verwoes is.’

24. “Dan sal al die nasies vra: ‘Waarom het die Here dit met hierdie land gedoen? Waarom het hierdie groot toorn ontvlam?’

25. Dan sal die antwoord wees: ‘Omdat die mense van hierdie land die verbond verbreek het wat die Here die God van hulle voorvaders met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte laat wegtrek het.

26. Hulle het ander gode gaan dien en vereer, gode wat onbekend was aan hulle en nie vir hulle bestem was nie.

27. Daarom het die toorn van die Here teen hierdie land ontvlam en het Hy al die strawwe wat in hierdie boek opgeteken is, oor die land gebring.

28. Daarom het die Here in sy gloeiende toorn en in sy groot woede die mense uit hulle land geruk en in 'n ander land neergegooi. Hulle is nou nog daar.’

29. “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.