hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 17 Afrikaans 1983 (AFR83)

1. “Jy mag nie vir die Here jou God 'n bees of 'n skaap offer wat 'n liggaamsgebrek of 'n letsel het nie. So iets is afskuwelik vir die Here jou God.

2. “Dit kan gebeur dat jy in een van die dorpe wat die Here jou God vir jou sal gee, 'n man of 'n vrou kry wat die verbond verbreek en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God

3. deur ander gode te dien en te vereer: die son of die maan of enige ander hemelliggaam. Die Here het nie hierdie soort diens beveel nie.

4. Wanneer dit vir jou vertel word of wanneer jy dit hoor, moet jy noukeurig navraag doen daaroor en as dit waar is dat so iets afskuweliks in Israel gedoen is,

5. moet jy die man of die vrou wat die verkeerde ding gedoen het, laat uitbring na die stadspoort toe en hy of sy moet daar met klippe doodgegooi word.

6. Die terdoodveroordeling mag net plaasvind op die eenparige getuienis van twee of drie getuies, nie op dié van net een nie.

7. Die getuies moet die vonnis begin voltrek, en daarna moet die hele volk dit help uitvoer. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.”

Hofuitsprake by die heiligdom

8. “Dit kan gebeur dat 'n saak voor jou gebring word wat vir jou te moeilik is: oor bloedvergieting of oor 'n hofuitspraak of oor aanranding. Dan moet jy na die plek toe gaan wat die Here jou God vir Hom sal uitkies.

9. Gaan dan na die Levitiese priesters en die regter wat aan diens is, en vra raad by hulle. Hulle sal vir jou die regte uitspraak lewer.

10. Handel volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer daar by die plek wat die Here sal kies. Gehoorsaam alles wat hulle jou daar leer, en lewe daarvolgens.

11. Jy moet handel volgens die onderrig wat hulle gee, volgens die uitspraak wat hulle vir jou lewer. Jy mag nie 'n haarbreedte afwyk van wat hulle vir jou sê nie.

12. Die man wat nie luister nie en so die regter en die priester wat diens lewer in die heiligdom van die Here jou God, met minagting behandel, moet doodgemaak word. Jy moet die soort verkeerde ding uit Israel uitroei.

13. Die hele volk sal hiervan hoor en bang word om so moedswillig op te tree.”

Die koning en sy verantwoordelikhede

14. “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou sal gee, en jy dit in besit geneem het en daarin woon, sal jy sê: ‘Ek wil 'n koning oor my aanstel. Elke nasie in my omgewing het 'n koning.’

15. Stel dan tog die koning aan vir wie die Here jou God kies. Jy moet iemand uit jou eie volk as koning aanstel. Jy mag nie 'n uitlander, iemand wat nie uit jou volk is nie, as koning aanstel nie.

16. Hy mag nie baie perde aanhou nie en hy mag ook nie die volk na Egipte toe laat teruggaan om vir hulle baie perde aan te skaf nie. Die Here het vir julle gesê: ‘Julle mag nooit weer daarheen teruggaan nie.’

17. Die koning mag ook nie baie vrouens hê nie, sodat hy nie aan die Here ontrou word nie. Hy mag ook nie sy silwer en goud te veel laat word nie.

18. “Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom 'n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik.

19. Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe.

20. Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en 'n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.”